Markus 4:1-20 – Die Gelykenis van die Saaier

Hier aan die begin van Markus 4 kondig ons skrywer aan dat hier nou ‘n klompie gelykenisse op mekaar gaan volg.  Wanneer Jesus dan begin met die opdrag, “Luister hier!” dan geld dit ook vir die ander gelykenisse wat hierna volg.

Die saad wat die saaier in die gelykenis saai val op verskillende plekke, wat vir ons vreemd klink.  ‘n Mens ploeg mos die land, berei die grond voor en saai daar waar jy bedoel het om te saai.  In daardie tyd het die boere egter meestal dit anders om gedoen – hulle het eers gesaai en daarna die saad in die grond ingewerk.

Op die harde pad kry die voëls die saad voor dit kan ontkiem.  Op die klipbanke is daar ‘n dun lagie grond, maar die wortels kan nie by die water uitkom nie en verdroog.  Tussen die onkruid is daar wel groei, maar geen vrug nie.  Op die goeie grond is daar vermenigvuldige groei – veel meer as wat die mense in daardie tyd aan gewoond was.

Markus vertel vir ons dat daar ‘n klein groepie was wat gehoor gegee het aan Jesus se oproep om te luister (v. 9) – hulle wou méér weet, meer hoor, meer luister.  Dit is die mense in sy binnekring, wat meer begin leer van God se Koninkryk.  Vir die wat buite staan haal Jesus aan uit Jesaja 6 – hulle wat die Woord hoor maar kies om nie te luister nie.  Kies om nie hul rug te draai op die Romeinse ryk en in ‘n herstelde verhouding met God in sy Koninkryk te wil leef nie.  Maar nietemin word die saad dáár ook gesaai.

Die een wat saai is elkeen wat die boodskap van die koms van die Koninkryk verkondig.  Jesus verduidelik dat dit sy teenstanders is wat die woord by mense wegvat.  Markus sê duidelik wie Jesus se teenstanders is, o.a. die Skrifgeleerdes wat Jesus se werk ongedaan probeer maak.  Dan sê Jesus is daar ook mense wat baie opgewonde raak oor die woord, solank dit nie moeite is nie.  Sodra hulle swaarkry gee hulle moed op.  Ook is daar mense wat doodeenvoudig nie tyd het vir die woord nie.  Daar is net te veel ander dinge wat belangrik is, so om tyd in te sit om te groei in ‘n verhouding met God is net nie op die kaarte nie.

Daar is gelukkig ook goeie grond – mense wat graag in ‘n verhouding met God wil leef en vanuit daardie verhouding groei en leer wat dit is wat vir God belangrik is.  Mense groei verskillend en dra verskillende vrugte, en dit is harde werk, maar in ‘n verhouding met God is die vrug nog steed bo verwagting.

Markus wil vir sy lesers – die vervolgde gemeente in Rome – sê dat hulle ook deel van die goeie grond kan wees.  Al is daar soveel uitdagings en dinge wat teen hulle tel, hulle kan groei in hul verhouding met God.  Dat hulle deel is van God se binnekring en dat hulle ook, soos die mense by Jesus, kan vrae vra en dat hulle by Hom antwoorde sal kry.

Dit roep ons ook op nie, nie net om ook saaiers van die woord te wees nie, maar ook om die goeie grond te wees en te groei in ons verhouding met God.