In die voorafgaande gedeelte het die Here Jesus die Fariseërs en die Skrifgeleerdes se monde weer stil gemaak met sy antwoord op hulle vraag. Daar het Hy gewys dat hulle eerder aan mensgemaakte godsdienstige reëls vashou ten koste van die nakoming van God se gebod van liefde. Nou voeg Hy daad by die woord en bewys sy eie woorde waar.
Jesus reis van Galilea na Tirus toe. Tirus was ver van Jerusalem af en daarom alklaar onrein, maar dit was ook ‘n hawestad waar verskillende mense van verskillende gelowe en kulture bymekaar was en daarom nog meer onrein. Daar ontmoet Jesus ook iemand wat volgens die godsdienstige standaarde van daardie tyd BAIE onrein was – ‘n Griekse vrou wat in Siro-Finesië gebore is. Sy vra Hom om haar dogtertjie van ‘n onrein gees te bevry. Alles van hierdie situasie skree: “ONREIN, bly eerder weg!” Alles van hierdie vrou, alles wat haar identiteit sou bepaal in daardie tyd, het gemaak dat geen geestelike leier by wie sy sou kon gaan hulp soek, eers in haar rigting sou kyk nie.
Maar Jesus kyk nie dieselfde na haar as die godsdienstiges van sy tyd nie. Dit is nie waar jy vandaan kom, of waar jy is wat jou aanvaarbaar maak vir God nie. Hy, en sy liefde en genade maak jou aanvaarbaar vir God! AS ons soos die skrifgeleerdes na mense kyk, dan besluit ons wie aanvaarbaar genoeg is om welkom te wees en aanvaarbaar genoeg is om God se liefde by ons te kan ontvang. Jesus daag ons grense en kriteria uit en daag ons uit om met sy oë na mense te kyk.
In die gesprek met haar, en die beeld van die kindertjies aan tafel en die hondjies wat die krummeltjies eet, wys Jesus ook dat Hy gekom het vir en deur die Jode as die Messias, maar dat Hy ook vir die hele wêreld gekom het. Sy genade is genoeg vir almal om in te kan deel. Die vrou waag dit ook met Jesus, plaas haar hoop en geloof in Hom en Jesus genees haar dogtertjie – sonder dat Hy eers naby die dogtertjie gekom het.
Die Here reis van daar af na Dekapolis. Jy sal onthou dat Hy vroeër ook daar was – toe Hy die bose geeste in die varke in gejaag het. Intussen het die woord oor Hom ook in hierdie gebied versprei en bring die mense ook daar met sy aankoms siekes na Hom toe om te genees. Jesus genees ‘n doofstom man van sy gebrek. Hierdie keer deur aan hom te raak en spoeg aan sy tong te smeer. Jesus wys dat Hy die mag ook oor siekte het en dat Hy op enige manier wat die sg. geneesheers van daardie tyd probeer het, mense se siektes kan genees.
Jesus het nie towerspreuke nodig om wonderwerke te doen nie. Hy praat en dit gebeur. In sy eie spreektaal sê Hy net “Effata” (Gaan oop!) en dit gebeur.
Die mense wat dit aanskou staan in verwondering en spreek hulle verwondering uit met woorde wat ons herinner daaraan dat Jesus God is: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.” (v. 37) Hoe wonderlik is dit nie dat die Lewende God gekom het om onrein mense soos ek en jy te kom aanraak met sy liefde nie!