Markus 8:22-33 – Om duidelik te kan sien

Die wonderbaarlike genesing van die blinde man in Markus 8:22-26 funksioneer amper soos ‘n lewende gelykenis.  Net soos met die genesing van die doofstom man in die vorige hoofstuk sien ons weer ‘n ander manier van genesing hier.  Jesus wys dat Hy groter is as al die wonderdoeners en sg. genesers van sy tyd en dat Hy werklike genesing bring.

Hy wys egter ook vir ons presies die pad wat Hy met sy dissipels loop.  Hy neem hulle aan die hand en leer vir hulle van die Koninkryk.  Maar eers kan hulle net ‘n bietjie daarvan sien en verstaan.  Nou begin die Here nie meer doekies omdraai en nie meer in gelykenisse praat nie, maar nou praat Hy reguit.  Nou begin hulle agterkom (soos wat ons die volgende teksgedeelte kan sien) dat Jesus die Messias is.

Vers 27-30 lees amper net mooi parallel aan vers 22-26.  In die gesprek sien ons hoedat die Here sy dissipels gelei het en hulle eers bietjie ‘n dowwe beeld gehad het, maar dat hulle nou duideliker sien en sien dat Hy die Messias, die Christus, is.  Maar dit is nog nodig dat Hy hulle moet leer wat dit beteken.

Die dissipels, soos meeste ander Jode, se Messias verwagting was baie sterk gekoppel aan hulle lyding onder die Romeinse owerhede.  Hulle het ‘n politieke en millitêre figuur verwag wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou kom red.  Geen wonder dat Petrus so ontstig was toe die Here begin om hulle te leer dat Hy gaan moet ly en sterwe nie.  Dan wys die Here presies uit en slaan die spyker op die kop van waaroor dit gaan: “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Dit is ongelukkig ons probleem (en die gemeente in Rome wat gely het onder Nero ook) dat ons ons eie persoonlike en selfsugtige idee van Jesus wil aanhang.  Ons hou van ‘n Jesus waarmee ons gemaklik is en wat doen wat ons wil hê Hy moet doen.

Ons kan egter nie die vraag wat Jesus aan sy dissipels in vers 29 vra: “wie, sê julle, is Ek?”, probeer antwoord sonder om ook te worstel met die vraag oor wat God wil hê nie (v. 33).

Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle nie moet gaan vertel dat Hy die Messias is nie.  Dit is omdat Hy nie wou gehad het dat die verkeerde boodskap moet uitgaan en verwarring en oproer moes veroorsaak nie.  Die dissipels moes eers leer wat sy Messiasskap werklik beteken het en dat dit anders was as wat hulle gedink het dit moet wees, voordat hulle vir mense kon vertel dat Hy waarlik die Messias was.  Hulle moes die gevolge van sy Messiaskap vir hulle dissipelskap verstaan.  Hulle moes verstaan dat Hy gekom het om te ly en te sterf vir ons sondes.

Ons moet dit ook verstaan en leerken en navolg.  Wanneer ons sy voorbeeld van lyding en diens en selfopofferende liefde navolg kan ons sy Messiaskap verkondig.