Efesiërs – EKSTRA – Die onsigbare magte

Ons is nou net mooi halfpad met Efesiërs.  En in elke hoofstuk sover was daar die een of ander verwysing na die “gesag en mag” (1:21), “mag van die lug” (2:2) en “owerhede en die magte in die hemel” (3:10).  Natuurlik ken ons ook die bekende woorde van 6:12 wat sê: Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”

Maar wat is hierdie magte en hoe moet ons hulle vandag verstaan?  Volgens Paulus se verstaan bestaan hierdie kragte in die parallelle hemelse/geestelike realm en is hul invloed sigbaar in aardse sisteme – in politieke, sosiale, kulturele, en godsdienstige sisteme.

Ons kry ook voorbeelde hiervan in van sy ander briewe (vgl. Kol, Gal, 1 Kor). Romeine 8:38-29 se bekende woorde: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”  En in Kolossense 1:16 lees ons: want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep.”

Hier is dus duidelik sprake van hemelse en aardse magte wat aan die werk is in die wêreld.  Maar die wonderlike ding is dat ons Koning heers oor hulle almal – mag en gesag het oor ALLES! Hierdie magte wat aan die werk is in die wêreld om skeiding, vyandskap, hoogmoed en selfsug aan te dryf, en daardeur sonde, verdrukking, en onreg tot gevolg het, is almal deur die Messias ontmasker, ontmagtig en oorwin.

Dit is ‘n gedagte wat reeds in die Ou Testament ook teenwoordig was en op verskeie plekke en maniere na verwys word.  In Daniël 7:27 lees ons byvoorbeeld: “Die koningskap, die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en alle magte sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees.” En ook in Jesaja 24:21 sien ons:Dié dag sal die Here die magte in die hemel daarbo straf, ook die konings van die aarde daaronder.”

Dan verstaan ons die taal wat Efesiërs gebruik sommer skielik beter as ons lees “Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.” (1:10) en “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.” (1:19-22)

En in hoofstuk 3 hoe dit deur die Kerk bekend gemaak word: Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim,” (3:10).  Die nuwe mensheid wat Jesus geskep het, sy Kerk, is die instrument waarin en waardeur sy Oorwinning oor elke mag en gesag sigbaar gemaak word.  Die pogings van hemelse en aardse magte om vyandskap en verdeeldheid te saai, word in die wiele gery deur die eenheid van die kerk.  Die Liefde evan God wat sigbaar word in ‘n multi-kultirele, wêreldwye Christelike Kerk is die getuienis van Jesus wat as Koning regeer!

Dink aan die mure en grense en skeidings wat afgebreek word wanneer mense wat nie veronderstel is om van mekaar te hou nie (volgens enige menslike maatstawwe), in liefde mekaar aanvaar, ondersteun, en saam, in eensgesindheid die Here soek en dien…. Daar leer ons hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek… liefde wat ons verstand te bowe gaan.”