40 Dae 2022 – Dag 32

Dit lyk hier aan die einde van Matteus 18 asof Petrus en die dissipels uiteindelik so stadig aan so klein bietjie van die koninkryk begin snap.  Na alles wat Jesus vir hulle geleer het oor die Koninkryk deur die Bergrede, wonderwerke en gelykenisse, begin hulle nou praktiese vrae vra oor wat dit vir hulle lewens beteken.

Petrus begin snap dat as Jesus sê dat ons soos kindertjies moet word, ons vyande moet liefhê, die ander wang moet draai, moet weet dit vat lyding en vervolging om Jesus te volg, aan ander moet doen wat ons graag aan onsself gedoen wil hê, nederig en sagmoedig moet wees, ensovoorts, ensovoorts… Maar hy kom nou agter dat dit beteken iets baie moeilik en ongemaklik in die praktyk: om ander te kan vergewe.

Nou wil Petrus sê “Okay, ek weet nou ek sal mense moet vergewe, maar hoeveel sal ek nou regtig vergewe?” (Matt 18:21) Petrus doen eintlik presies wat ons met so baie van die Bybel doen: hy soek ‘n loophole.  Hy hoor wat hy moet doen, maar wil dit net tot op ‘n punt doen waar dit nog vir hom gemaklik voel. Hy wil dit genoeg doen sodat hy sy gewete kan sus en kan sê “Ek het dit of dat darem gedoen…” maar nie genoeg doen dat dit werklik van harte is en iets van hom vra nie.

Jesus antwoord hom in vers 22 met ‘n uitklophou: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”  Daarmee wil Jesus nie vir Petrus ‘n wiskunde les gee nie, maar eerder juis vir hom sê dat hierdie nie iets is wat jy kan tel nie.  Daar is iets anders waaraan vergifnis gemeet word.

Jesus gaan dan verder en verduidelik wat Hy bedoel deur nog ‘n gelykenis van die Koninkryk te vertel.  Hy vertel van iemand wat ‘n onmoontlike hoeveelheid geld aan die koning geskuld het. Die koning kry hom jammer en spreek hom vry.  Hy stap uit en sien iemand wat hom weer geld skuld, maar slegs ‘n paar rand.  Maar in plaas daarvan om die persoon vry te spreek, soos wat hy vryspraak gekry het, gryp hy hom en wurg hom en wil hom in die tronk gooi om sy geld terug te kry.  Die koning was natuurlik woedend toe hy hiervan hoor en dan vra hy vir hom in vers 33: Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?”

Hoe vinnig het die amptenaar vergeet van die groot skuld waarvan hy vrygespreek is en so vinnig gewillig is om wraak te neem teen die volgende persoon vir die klein hoeveelheid wat hy geskuld het…?!

Die meetinstrument vir vergifnis is nie iets wat ons kan tel nie.  Die meetinstrument is die oneindige vergifnis wat God vir ons gegee het.  Stap een van vergifnis is om te onthou dat die Here my vergewe het. Dan kan ek begin “van harte” te vergewe soos Matteus 18:35 sê.  Dan kan ek begin om nie met haat nie, maar met deernis en liefde te reageer op dit wat mense doen.  Dit is party keer baie moeilik – voel soms amper onmoontlik!  Maar dit is lewensveranderend.

Natuurlik is die kompleksiteit van vergifnis so groot dat ons vir jare daaroor kan praat eerder as om ‘n enkele dagstukkie daaroor te skryf/te lees. Maar ten minste kan ons vandag hierdie Waarheid hoor: God is oneindig lief vir jou.  Hy het alles vir jou aan die kruis opgeoffer en jou vergewe vir jou sonde.  Laat ons dan in sy Koninkryk sy Wil op die aarde laat geskied, net soos in die hemel, deur ander te vergewe soos wat Hy ons vergewe.