40 Dae 2022 – Dag 22

In Matteus 9:1-8 kry ons die wonderwerk wat Jesus doen wanneer Hy ‘n verlamde man genees.  Maar hier is meer aan die gang as net ‘n verlamde man wat weer loop. Asof dit nie opsig self genoeg is nie!

Soos ons gister gesien het dat die mense geglo het dat dit God is wat die mag het oor die see en die wind, so sien ons hier dat hulle natuurlik geglo het dat dit net God is wat sonde kan vergewe.

En soos ons gesien het dat net God praat en dit gebeur (Gen 1:3) – Jesus het die wind aangespreek en dit het gaan lê (8:26) – sien ons dit hier ook in vers 6 en 7: Hy sê toe vir die verlamde man: ‘Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.’ Hy het opgestaan en huis toe gegaan.” 

Jesus bewys daardeur weereens dat Hy God is.  Maar daar is nog ‘n groter bewys, want Hy wys juis deur die wonderwerk van genesing dat Hy ook die mag het om sonde te vergewe!  Net voordat Jesus vir die verlamde man sê om op te staan en te loop, sê Hy vir die man dat sy sondes is vergewe.  Wanneer die skrifgeleerdes Hom beskuldig dat Hy godslasterend praat dan sê Hy in vers 5 en 6:

Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”

En dan sien ons in vers 8 hoe die mense reageer wanneer die man opstaan en loop.  Hulle is getuies van ‘n wonderwerk maar ook van die openbaring van die Lewende God: en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.”

Dit is interessant om op te merk dat dit dieselfde woord is wat ons hier in vers 6 vertaal met ‘volmag’, en in vers 8 met ‘mag’ en aan die einde van hoofstuk 7 met die ‘gesag’ waarmee Jesus gepraat het.  Dit gaan hier oor Jesus se outoriteit.  Hy het die outoriteit om te sê wat Hy sê en om te doen wat Hy doen.

Enige iemand kan die woorde van Jesus sê, vir ‘n verlamde man sê om op te staan, maar daar gaan niks gebeur nie.  Net so kan enige iemand rondgaan en vir mense sê dat hulle sonde vergewe is en die feit dat hulle dit sê gaan niks verander nie.  Maar Jesus is die een wat praat en dit gebeur!  Hy het die outoriteit om die verlamde man te genees en net so het Hy die outoriteit om sonde te vergewe.  Jesus kan vergifnis aanbied asof dit God self is wat dit aanbied, omdat Hy God self is!

Wanneer ons, soos die verlamde man se vriende, reageer op die outoriteit van Jesus dan kom ons na Hom toe in afhanklikheid en met die belydenis dat ons Hom bo alles nodig het.  Hy is ons enigste Redder en is die Een met al die Mag!

40 Dae 2022 – Dag 21

Vir die eerste lesers (hoorders) van Matteus se evangelie was die geskiedenis van God met sy volk baie belangrik.  Dink aan hoe baie klem Matteus van die heel begin af lê om die wortels van Jesus as die Messias in die Joodse geskrifte te bevestig.  Daarom kry ons so baie aanhalings uit die Ou Testament uit en al die verwysings na profesieë wat in Jesus se koms vervul word.

Ons kan dus met redelike sekerheid sê dat die geskiedenis rondom die uittog uit Egipte en die wonderwerk van die see wat oopgemaak word nie net vir hulle baie bekend was nie, maar ook vir hulle belangrik was.  Hulle het dit jaarliks herdenk en gevier met Paasfees en weer en weer onthou wat die Here gedoen het.  Die fondamente van hulle godsdiens is gebou op die feit dat God hulle uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het (Eks 20:2).

Daar is by hulle dus geen twyfel daaroor dat God self die een is wat die mag het oor die groot waters nie.  Hy het dit dan bewys toe Hy sy volk droogvoets deur die see gelei het om hulle te red van die Egiptenare.  So kry ons ook baie voorbeelde in Hebreeuse poësie waar die psalmdigters beelde gebruik van die bedreiging van groot waters en dat dit God is wat die mag daaroor het om die storms van ons lewens stil te maak (Vgl. Ps 69).

So sien ons hoedat Matteus in hoofstuk 8 vir ons wys dat Jesus die Regte Mag het – dat Hy God is.  Onthou dit is God wat praat en dit gebeur: “Laat daar lig wees en daar was lig.”  So kom Jesus en sê vir die wind en see om te bedaar en “dit het doodstil geword.” (8:26)  En dit is baie keer die punt waarop ons fokus wanneer ons hierdie wonderwerk lees. Maar nou dat ons die konteks beter verstaan is daar nog ‘n manier waarop Matteus wys dat Jesus self God is.

Kyk wat sê Psalm 89:9-10 vir ons:

Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.

Wie is dit wat die mag het oor die onstuimige see?  Die Almagtige God!  Dit is Hy wat die see aanspreek en dit luister (Vgl. Ps 106:8-9)!  Geen wonder nie dat die mense dan in vers 27 oor Jesus vra: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”  Hy is nie net die Messias nie, Hy is nie net die Koning nie.  Hy is Immanuel – God met ons!

40 Dae 2022 – Dag 20

Nadat Jesus die Koninkryk van die Hemel aangekondig het (Matt 4:17), en reeds begin het om wonderwerke te doen (4:23), en die impak van die Koninkryk breedvoerig verduidelik het (5-7), kom Hy nou in 8:1 van die berg af en kom wys die krag van die Koninkryk met dade te wys.  Hier in Matteus 8 tot 9 kry ons dan daardie versameling van 9 wonderwerke waarmee Matteus vir ons wys hoedat Jesus die Koninkryk met krag na die mense toe bring.

Die eerste wonderwerk in hierdie versameling is die genesing van die melaatse man.  Onthou dat om melaats te wees in daardie tyd was baie erger as om net ‘n velsiekte te hê.  Mense wat melaats was, is gesien as totaal en al onrein.  En onrein mense se regte in die Joodse samelewing was min tot geen.  Hulle was werklik die uitgeworpenes.  Niemand mag aan hulle geraak het of eers naby aan hulle gekom het nie. En hulle mag ook natuurlik nie naby aan enige iets of iemand godsdienstig gekom het nie.

Daarom is die melaatse man se optrede hier, en spesifiek die manier hoe sy vraag aan Jesus stel, van groot belang: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”  Die Ou Vertaling help ons om nader aan die oorspronklike te kom: “Here, as U wil, kan U my reinig.”  Hy vra dat die Here hom nie net sal gesond maak van sy siekte nie, maar dat Hy hom sal reinig.

Behalwe dit, kyk na die woordvolgorde hier:  As U WIL, dan KAN U.  En nie andersom nie: As U KAN, WIL/SAL U?  Hy weet dat Jesus die vermoë het om Hom gesond te maak.  Hy het al gehoor van Jesus en die dinge wat Hy doen, so sy vraag gaan nie oor of Jesus KAN nie, maar eerder oor of hierdie Joodse Rabbi, iemand onrein soos hy WIL gesond maak.

Die manier hoedat Jesus in vers 3 reageer is dan nog meer merkwaardig!  Die Heiligste van heiliges steek sy Hand uit en raak aan die onreine, melaatse man.  En in plaas daarvan dat die onreinheid die Heiligheid aantas, gebeur die teenoorgestelde en kom Jesus se krag en maak Hy die melaatsheid gesond, die onreinheid weer rein. Jesus KAN en Hy WIL!

Kan jy dink watter ongelooflike belewenis dit vir hierdie melaatse man moes gewees het?  Nie net het hy die ongelooflike krag van die Here in sy lyf gevoel nie, maar Jesus het sy hand uitgesteek en aan Hom geraak.  Vir iemand wat vir hoelank ookal siek was, en totaal en al in isolasie was en aan niemand kon raak nie en niemand ‘n drukkie kon gee nie, is hierdie ‘n groot oomblik.  Jesus steek sy Hand uit na hom toe en raak aan hom.

Wat ‘n ongelooflike illustrasie van hoe die Koninkryk werk!  Van hoe God se genade werk!  Die Koninkryk van die Hemel kom breek in hierdie gebroke, onrein koninkryk in om dit weer te kom nuut maak.  God steek, in sy groot genade, sy Hand na ons toe uit in liefde om ons gesond en rein te maak.

Jy sien, die Een wat al die mag het, ook oor siekte en oor menslike godsdienstige ideologieë, nooi jou uit om na Hom toe te kom en Hy wil vir jou rus gee!

40 Dae 2022 – Dag 18

Gister het ons gesels oor DOEN – om oor te gaan tot aksie – vanuit Matteus 7:12.  Van die volgende vers af tot aan die einde van die hoofstuk waarsku die Here Jesus oor die moeilike pad wat ‘n mens moet loop wanneer ‘n mens wel begin om die Koninkryk te leef. Wanneer mens begin om te DOEN soos vers 12 sê.

As ons die gedeeltes isoleer en na iets soos die “Nou en die Breë pad” op sy eie, buite die konteks van die res van die Bergrede en die res van Matteus kyk, dan kan ons maklik dink dat hierdie gedeeltes slegs gaan oor wie hemel toe gaan en wie nie.  Maar onthou hoe die Bergrede begin het met die Saligsprekinge en hoe ons daar alreeds die boodskap begin hoor dat hierdie pad – om agter Jesus aan te loop – nie ‘n maklike pad is nie.

Ons Here weet dat ons oral langs hierdie pad weer en weer die versoeking gaan moet weerstaan van die gemak van die breë pad (7:13-14).  Daarom het ons nodig om gewaarsku te word teen vals profete wat die waarheid so goed kan verdraai dat dit vir ons meer aantreklik klink en makliker klink(7:15-20).  Daarom het ons nodig om gewaarsku te word dat ons navolging van Jesus nie beperk bly tot mooi praatjies en dat ons net die idee van Jesus aanhang nie (7:21-23).  Daarom het ons nodig om gewaarsku te word dat ons huis werklik op die rots gebou moet word, sodat ons vlaag na vlaag van storms en versoekings in die lewe kan weerstaan (7:24-27).

Om Jesus te volg is nie om ‘n mooi godsdienstige ideologie aan te hang nie.  Dit is maklik.  Baie mense doen dit.  Dit is ook nie net om die regte stel mooi reëls en rituele na te kom nie. Dit is maklik. Baie mense doen dit.  Om Jesus te volg beteken om die Persoon van die Lewende Christus te volg.  Dit is moeilik en min mense doen dit.

Wanneer ons die Here Jesus volg en besef dat dit selfopoffering vra… Wanneer ons begin verstaan dit gaan oor sy Koninkryk en nie oor ons eie nie…  Wanneer ons besef dat ons van God alleen afhanklik is, dat Jesus ons enigste Redder is… Wanneer ons verstaan die Koninkryk gaan oor verhoudings – liefde vir God en vir ons naaste… Dan gaan ons lewens die vrugte daarvan wys, dan gaan ons die Waarheid kan onderskei, dan gaan ons besig wees om God se wil te soek en te doen (vir sy eer en nie ons eie nie). Dan is ons lewens se fondament gebou op die Rots.

Dit beteken dat ons nie in vrees hoef te lewe dat ons eendag by die Poorte kom en dan dink, “maar sê nou maar ek het nie…” of “wat as ek nie…”  Ons kan vrede en rus vind by Jesus wat ons uitnooi om na Hom toe te kom en ons roep om Hom te volg. Sy liefde transformeer ons sodat ons nie anders kan nie as om aan Hom gehoorsaam te WIL wees nie, en om sy liefde te WIL uitleef nie.

Hy is die Weg en die Waarheid en die Lewe.

40 Dae 2022 – Dag 17

Net so entjie later in Matteus 7 is daar nog ‘n versie wat ons geniet om aan te haal, net soos die een van die balk uit jou eie oog uithaal.  Veral as dit voel asof ons aan die ontvangkant is van iemand se soektog na splinters of moedswillige gedrag.  Dan sê ons maklik: “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê ander aan jou moet doen nie!”

Maar dit is natuurlik nie wat in die Bybel staan nie!  Matteus 7:12 sê:

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Hoor jy die verskil?  In die volksmond het dit geword: Moenie… doen nie.  Maar Jesus sê: DOEN!

Die probleem is dat die manier hoe ons daaroor begin dink het, het veroorsaak dat ons passief begin raak.  Want in plaas daarvan dat ons uit ons pad uit gaan om goeie dinge vir die mense om ons te doen, doen ons nou eerder so min as moontlik.  Want ek doen net dinge wat nie my buurman gaan pla nie.  Ek wil nie hê dat daar iets slegs met my gebeur nie, so nou doen ek ook niks aan iemand anders nie. Ek wil nie gepla wees nie, so nou pla ek ook niemand nie.  In plaas daarvan om te dink aan watter goeie dinge ek vir ander kan doen, dink ek nou eerder net aan wat ek nie wil hê ander aan my moet doen nie en vermy dit net eerder.

In ‘n sekere sin is dit tog seker goed, want ek wil nie hê dat mense met my moet lelik wees nie, so nou is ek ook darem nie lelik met ander mense nie.  In die tydsgees van vandag het ons egter meer versigtig geword vir mekaar as wat ons goed is vir mekaar.  Dit voel asof ons die heeltyd versigtig moet wees om nie op iemand anders se tone te trap nie, want netnou sê hulle my sleg op Facebook of hulle “cancel” my, of so iets wat mos nou lekker in die mode is deesdae.

Maar die Koninkryk vra meer!  As ons anders begin praat gaan ons anders begin dink.  Die manier hoe Jesus dit stel vra dat ons oorgaan tot aksie.  Dan gaan ons eerder dink aan wat ons wil hê mense vir ons moet doen en juis dit vir ander DOEN. Dan kan ons ‘n positiewe impak hê op die wêreld rondom ons.

As ons dan sê dat ons die wêreld weer regtekant bo wil draai, dan moet ons besef dat dit nie gaan gebeur deur mense wat net nie lelik is met mekaar nie en mense wat dit net vermy om dinge te doen wat iemand anders kan pla nie.  Nee, ons gaan die wêreld omkeer as ons begin DOEN. En dit hoef nie te beteken dat ons ‘n kommissie stig en ‘n fondsinsameling hou sodat ons ‘n groepie mense kan stuur om iets iewers vêr te gaan bou of doen nie.  Dit begin hier, by ons, naby ons.  Elke dag, in elke interaksie. Soos wat Jesus vir ons die voorbeeld gestel het.

40 Dae 2022 – Dag 16

Daar word die afgelope tyd gereeld Engelse woorde ingesluit by die HAT as amptelike Afrikaase woorde. Woorde soos “cool” en “sharp” en “smoothie” het alreeds diep genoeg in ons taalgebruik ingekruip dat dit nou deel van ons woordeboek geword het. Die woord “judge” word in vandag se tyd so baie gebruik dat ek nie verbaas sal wees as dit een van die dae ook in die HAT opgeneem word nie.

Het jy al gehoor hoe ons praat (en skryf en prentjies share op sosiale media)?  Ons hoor gereeld: “Moenie my judge nie!” of: “Wie is jy om te judge?” Of dalk die een wat ons die meeste van almal hoor: “Ek judge glad nie, maar…”  Hierdie stelling dien gewoonlik as die inleiding vir een of ander skinderstorie of ‘n snedige opmerking. Selfs wanneer ons die Bybel aanhaal gebeur dit dat ons iets soos “haal die balk uit jou eie oog uit” op ‘n veroordelende manier in mense se rigting gooi.

Die Barna Groep het in 2007 ‘n opname gedoen onder nie-Christene en vir hulle ‘n lys van woorde gegee en gevra watter van daardie woorde die Christene wat hulle ken die beste sou beskryf.  Nege uit die twaalf persepsies wat die meeste gekies is was negatief. So het 87% van die mense Christene as “judgemental”/veroordelend beskryf en 85% het “hypocritical”/skynheilig gekies.  Hierdie syfers is egter nog meer skokkend as mens hoor dat hierdie opname nie sommer ‘n vormpie was wat hulle eendag op ‘n besige straat gaan uitdeel het nie, maar deel was van ‘n drie jaar lange projek.  Boonop het hul navorsing bewys dat hierdie negatiwiteit nie gegrond was in ‘n algemene persepsie nie, maar eerder in mense se persoonlike belewenisse met Christene en kerke.

Dit sê vir ons dat die manier hoe ons probeer om die wêreld weer regtekant bo te draai as veroordelend en skynheilig kan oorkom, en eerder mense wegdryf en vervreem as wat dit mense nader trek en lewens verander om Jesus te volg.  Dit gebeur wanneer ons eie perspektief nie ingestel is op die Koninkryk nie en ons nie uit liefde optree nie.

Die eerste 5 verse van Matteus 7 is harde woorde:

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”

Ons sou ‘n hele 40 Dae (of 40 jaar!) kon spandeer aan net hierdie 5 verse, maar in kort net 4 dinge.  Eerstens, hoe vinnig vergeet ons die frase “met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word” wanneer ons ander veroordeel.  Hoe sou dit vir jou gevoel het as die rolle omgeruil is?

Tweedens moet ons dieper dink oor die balk in ons eie oog. Behalwe vir die feit dat ons ons eie sonde moet raaksien en erken, moet ons besef dat die balk in ons eie oog ook maak dat ons nie mooi kan sien nie – ons visie word belemmer.  Dit help ons om te besef dat ons nie die splinter in die oog van die ander persoon eers behoorlik kan sien nie, en ook nie die groter prentjie kan sien van wat in daardie persoon se lewe aan die gang is nie.

Derdens beteken “om die balk uit jou eie oog te haal” baie meer as om net te : “Ek judge nie, maar…” of om te sê: “Ek sê dit in liefde…”  of “Ek weet ek het ook foute, maar…” Dit gaan oor om in berou en in afhanklikheid na Jesus toe te gaan en daardeur te erken dat Hy die enigste Een is wat die balk kan uithaal.

Vierdens is die vraag dan, maar hoe help ek dan iemand wat nodig het om te hoor dat hulle op ‘n verkeerde pad is?  Sonder dat daardie persoon my as veroordelend of skynheilig beleef?  Die antwoord lê in VERHOUDING.  Dit is slegs binne ‘n verhouding waar daar genoeg wedersydse respek en vertroue en selfopofferende liefde is waar vermaning op ‘n opregte en nie-veroordelende manier gedoen kan word.

Daarom moet ons strewe nie wees om heiliger as die volgende persoon te probeer wees sodat ons onsself in ‘n posisie kan indink waar ons dink ons die reg het om na almal se foute vinger te wys nie.  Ons strewe moet wees om so lief te wees vir mekaar dat ons verhoudings sterk genoeg is dat ons mekaar werklik in liefde kan help om te sien dat ons almal Jesus regtig nodig het.

40 Dae 2022 – Dag 15

In Matteus 6:19-24 kry ons daardie mooi gedeelte oor skatte in die hemel:

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Noudat ons so bietjie beter weet van die klem wat Jesus plaas op die Koninkryk van die Hemel, maak dit hierdie woorde sommer vir ons opnuut oop. As ons fokus dan op die Koninkryk van die Hemel moet wees, wat aanbreek in Jesus, dan kan ons tog nie anders as om eerder skatte in die hemel bymekaar te wil maak nie.  Anders gestel, om ons perspektief te verander sodat dit wat vir ons die meeste waarde het, juis dinge sal wees wat in die Koninkryk ewige waarde het, en nie net tydelike aardse waarde nie.

Wat is daar in ons lewens wat as aardse skatte beskou sou kon word?  Natuurlik dink ons dadelik aan geld en ons bankbalans en beleggings. Maar dink ook aan die dinge waarsonder ons (volgens wat die wêreld vir ons vertel) nie sou kon/wou klaarkom nie.  Die nuutste en die beste fone met die grootste kameras, en nuwe karre, of ‘n nuwe vinniger rekenaar of watter ander ding ookal – goeters wat geld kos.  Of dalk is die oorheersende gedagte net dat jy nie dit of dat het of kan kry nie.  Maar dan is daar natuurlik ook ander minder tasbare dinge.  Soos die doelwitte wat ons nastreef, die posisies wat ons beklee, ons eie eer en roem…

Wanneer die Koninkryk van die Hemel vir ons die belangrikste word en ons ons fokus instel daarop, dan gaan ons doelwitte verander.  Ons perspektief oor die doel van die posisies wat ons beklee gaan verander.  Die manier hoe ons na mense kyk gaan verander, want ons gaan na mense kyk soos wat Jesus na mense kyk en nie om te probeer uitvind wat ons vir onsself uit hierdie persoon kan kry nie.  Dan gaan ons besef dat Jesus Homself vir ons gee, dat Hy vir ons voorsien vir alles wat ons nodig het – ons daaglikse brood.  Dat ons weet hoe afhanklik ons van God is (5:3). Hy sorg vir alles!

Wanneer ons eerder soek en strewe na die doelwitte en skatte van die Koninkryk. Wanneer ons fokus, ons oë, die lamp van die liggaam (6:22-23) op die regte plek gefokus is.  Wanneer ons besef dat ons God alleen kan dien en nie twee gode gelyk kan dien nie (6:24). Dan kan ons begin verstaan wat dit beteken dat ons ons nie hoef te bekommer oor môre nie, maar begin om God se Koninkryk te soek (6:31-34).

Waar lê ons fokus?  Wat is vir ons die hoogste waarde – die waardevolste skat?  Jesus sê: Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

40 Dae 2022 – Dag 14

Met ons nuutgevonde kennis van Matteus se fokus op die Koninkryk van die Hemel, voel die bekende woorde van die Onse Vader in hoofstuk 6:9-13 sommer vars en nuut.

Ons sien oor en oor hoedat Jesus die Koninkryk aankondig en openbaar met woord en daad.  Ons sien hoedat Jesus se Koningskap oor en oor bevestig en uitgelig word.  Ons sien hoe die Koninkryk van die Hemel wat Jesus kom aankondig, anders is as die koninkryk van die wêreld en hoe anders sy Koningskap is as die van aardse konings.  Onthou hoe het Matteus vroeg reeds begin om Jesus se Koningskap te kontrasteer met die van Herodes (2:1-3) en ook hoe sy Koningskap lyk teenoor die duiwel se idee van koningskap (4:8-10).

Die Onse Vader binne die konteks van die Koninkryk dien as ‘n wonderlike opsomming en ‘n herinnering vir ons om oor en oor, elke dag ons perspektief in te stel op die Koninkryk van die Hemel.  Dit is nie verniet dat die Here juis hierdie gebed juis met hierdie woorde formuleer en vir ons sê om juis so te bid nie.  So as ons ons hele 40 Dae proses van om die wêreld weer regtekant bo te draai wil opsom, en dit oorvereenvoudig en vra hoe mens dit regkry, dan is die antwoord: bid elke dag die Onse Vader.

Ons sien in die Onse Vader liefde vir God en liefde vir ons naaste. Ons perspektief word ingestel op God as ons Vader, op sy Wil en sy Koninkryk en dat ons van Hom alleen afhanklik is. En dit help ons om te sien wat dit beteken om soos Jesus te leef.  En vra ons die Here om ons ook te help dat ons nie sal toegee aan die leuens, versoekings en lyding wat die aardse koninkryke bring nie, maar standvastig sal bly vir sy Koninkryk.

Kyk opnuut na hierdie gebed en mag ons dit elke dag bid en mag die Here ons fokus instel op sy Koninkryk.  In die nuwe 2020 Vertaling klink dit so:

9“Só moet julle dan bid:
“Ons Vader
 wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
11Gee ons vandag ons daaglikse brood.
12En vergeef ons ons skulde,
soos ook ons hulle vergeef
wat teenoor ons skuldig staan.
13En bring ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.

40 Dae 2022 – Dag 13

In Matteus 5:43-48 daag Jesus die heersende wêreldse verstaan direk uit en wys Hy wat dit beteken wanneer ons getrouheid aan die wet juis méér inhou.  Hierdie woorde is groot, omdat Jesus nie net die eerste Een was wat hierdie verrassende interpretasie gepreek het nie, maar dat Hy ook die eerste (en enigste) Een was wat dit werklik volmaak uitgeleef het – gewys het wat dit in die praktyk beteken.  Waarvan praat ons?  Jesus sê dat ons ook ons vyande moet liefhê!

Matteus 5:43-44 sê: Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê”

Dit is opvallend dat Jesus nie hier spesifiek aanhaal uit die Skrifte nie, maar eerder na wat ‘gesê’ word.  Dit gaan hier oor die heersende debat van sy tyd oor die interpretasie van die Wet en spesifiek Levitikus 19:18 en oor wie dan ons naaste is (dink aan die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan – Luk 10:25-37).

Levitikus 19:18 sê: Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”  En mens sou dink dat dit tog redelik duidelik is dat tog outomaties beteken dat mens ook jou vyande moet liefhê, maar mense het met hierdie vers ook gedoen presies wat ons ook deur al die eeue doen. En dit is om dit te verdraai en uitmekaar te trek sodat ons eie behoeftes beter pas.

Daarom dat die debat ontstaan het oor wie presies ons naaste is.  Want die wet sê ons moet ons naaste liefhê, maar dan probeer ons uitwerk hoe klein ons ons verstaan van ons naaste kan maak. Sodat ons nie die mense wat ons vyande is (en definitief nie volgens ons ons naaste is nie), hoef lief te hê nie en dink dat ons nog steeds die wet nakom.

Jesus kom sluit ook ons vyande by ons naaste in en sê dat ons ook hulle moet liefhê.  Maar hierdie liefde is natuurlik nie dieselfde liefde wat ons het soos wanneer ons sê “Ek is lief vir lasagne!” of “Ek is lief vir my baba hondjie!” of selfs wanneer ek sou sê “Ek is lief vir my vrou!” nie.  Die liefde wat hier van gepraat word is nie ‘n “gevoel wat jy voel as jy gevoel voel wat jy nog nooit voorheen gevoel het nie”.  Nee, dit gaan hier oor die liefde wat na mense kyk soos wat God na mense kyk.  Dit gaan oor om te kies om vir iemand die beste te wens ongeag van wat hulle gedoen het.  Hierdie tipe liefde is selfopofferend en lewensveranderend!  Vra vir Jesus.  Dit is wat Hy vir jou gedoen het.

Dis maklik om hierdie te doen vir die mense naby aan ons, van wie ons hou, wat vir ons voordeel inhou en vir ons iets beteken.  Maar in die Koninkryk van die Hemel vra die Here meer – om te kyk soos wat Hy kyk, om te sien wat Hy sien in liefde. Ook in die mense van wie ons nie hou nie.  Om meer soos Hy te word.  Dit is waarvan Matteus 5:44-48 praat:

“en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

40 Dae 2022 – Dag 11

Ons het gister gesien hoedat Matteus te werk gegaan het om seker te maak sy lesers verstaan dat Jesus groter is as Moses en dat Moses eintlik maar net die skaduwee was van dit wat ‘n werklikheid sou word in Jesus.

Met dit in ons agterkoppe kan ons nou Matteus 5:17-20 net soveel beter verstaan.  In vers 17 sê Jesus:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.”

In die Persoon, Boodskap en Werk van Jesus word ook die Wet vervul.  Hy is die voorbeeld van hoe dit lyk om waarlik God se Wet na te kom. In wat hierna in die Bergrede volg verduidelik Jesus wat dit prakties vir die interpretasie van die Wet sou beteken wanneer Hy verskillende kwessies aanraak (bv. versoening, kuisheid, vergelding, egskeiding, liefde vir die vyand, ens).

Hy kom wys waaroor die Wet nog altyd eintlik gaan: Liefde vir God en liefde vir jou naaste (Matt 22:37-40). En dit is die liefde wat die Fariseërs en die skrifgeleerdes (en mense oor die algemeen) vir eeue lank in die Wet miskyk. Daarom dat Jesus in Matteus 5:20 sê:

As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Wanneer ons God se gebooie probeer nakom slegs vir ons eie eer en aansien en sg. heiligheid dan mis ons die punt.  Wanneer dit slegs vir ons gaan oor om ons eie persoonlike paadjie hemel toe en om alles perfek reg te doen net omdat ons nie hel toe wil gaan nie dan mis ons die punt.  Wanneer ons eie persoonlike vroomheid en heiligheid vir ons belangriker raak as die behoeftes van die mense rondom ons dan mis ons die punt en hou ons wetsonderhouding niks meer in as die van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie.

Maar as ons vanuit ons persoonlike verhouding met God en ons liefde vir God en vir mense sy gebooie wil nakom, dán kom ons by die punt uit.  Dan begin ons die Koninkryk soek en vanuit ‘n Koninkryksperspektief na die wêreld kyk. Dan doen ons dinge vir ‘n ander rede – nie meer vir ons eie selfsugtige motiverings nie, maar ter wille van die Koninkryk en die verspreiding van die Goeie Nuus van Liefde!

Mag ons ons Here al hoe beter en beter leer ken sodat ons sy voorbeeld al hoe nader kan navolg.