40 Dae 2022 – Dag 16

Daar word die afgelope tyd gereeld Engelse woorde ingesluit by die HAT as amptelike Afrikaase woorde. Woorde soos “cool” en “sharp” en “smoothie” het alreeds diep genoeg in ons taalgebruik ingekruip dat dit nou deel van ons woordeboek geword het. Die woord “judge” word in vandag se tyd so baie gebruik dat ek nie verbaas sal wees as dit een van die dae ook in die HAT opgeneem word nie.

Het jy al gehoor hoe ons praat (en skryf en prentjies share op sosiale media)?  Ons hoor gereeld: “Moenie my judge nie!” of: “Wie is jy om te judge?” Of dalk die een wat ons die meeste van almal hoor: “Ek judge glad nie, maar…”  Hierdie stelling dien gewoonlik as die inleiding vir een of ander skinderstorie of ‘n snedige opmerking. Selfs wanneer ons die Bybel aanhaal gebeur dit dat ons iets soos “haal die balk uit jou eie oog uit” op ‘n veroordelende manier in mense se rigting gooi.

Die Barna Groep het in 2007 ‘n opname gedoen onder nie-Christene en vir hulle ‘n lys van woorde gegee en gevra watter van daardie woorde die Christene wat hulle ken die beste sou beskryf.  Nege uit die twaalf persepsies wat die meeste gekies is was negatief. So het 87% van die mense Christene as “judgemental”/veroordelend beskryf en 85% het “hypocritical”/skynheilig gekies.  Hierdie syfers is egter nog meer skokkend as mens hoor dat hierdie opname nie sommer ‘n vormpie was wat hulle eendag op ‘n besige straat gaan uitdeel het nie, maar deel was van ‘n drie jaar lange projek.  Boonop het hul navorsing bewys dat hierdie negatiwiteit nie gegrond was in ‘n algemene persepsie nie, maar eerder in mense se persoonlike belewenisse met Christene en kerke.

Dit sê vir ons dat die manier hoe ons probeer om die wêreld weer regtekant bo te draai as veroordelend en skynheilig kan oorkom, en eerder mense wegdryf en vervreem as wat dit mense nader trek en lewens verander om Jesus te volg.  Dit gebeur wanneer ons eie perspektief nie ingestel is op die Koninkryk nie en ons nie uit liefde optree nie.

Die eerste 5 verse van Matteus 7 is harde woorde:

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”

Ons sou ‘n hele 40 Dae (of 40 jaar!) kon spandeer aan net hierdie 5 verse, maar in kort net 4 dinge.  Eerstens, hoe vinnig vergeet ons die frase “met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word” wanneer ons ander veroordeel.  Hoe sou dit vir jou gevoel het as die rolle omgeruil is?

Tweedens moet ons dieper dink oor die balk in ons eie oog. Behalwe vir die feit dat ons ons eie sonde moet raaksien en erken, moet ons besef dat die balk in ons eie oog ook maak dat ons nie mooi kan sien nie – ons visie word belemmer.  Dit help ons om te besef dat ons nie die splinter in die oog van die ander persoon eers behoorlik kan sien nie, en ook nie die groter prentjie kan sien van wat in daardie persoon se lewe aan die gang is nie.

Derdens beteken “om die balk uit jou eie oog te haal” baie meer as om net te : “Ek judge nie, maar…” of om te sê: “Ek sê dit in liefde…”  of “Ek weet ek het ook foute, maar…” Dit gaan oor om in berou en in afhanklikheid na Jesus toe te gaan en daardeur te erken dat Hy die enigste Een is wat die balk kan uithaal.

Vierdens is die vraag dan, maar hoe help ek dan iemand wat nodig het om te hoor dat hulle op ‘n verkeerde pad is?  Sonder dat daardie persoon my as veroordelend of skynheilig beleef?  Die antwoord lê in VERHOUDING.  Dit is slegs binne ‘n verhouding waar daar genoeg wedersydse respek en vertroue en selfopofferende liefde is waar vermaning op ‘n opregte en nie-veroordelende manier gedoen kan word.

Daarom moet ons strewe nie wees om heiliger as die volgende persoon te probeer wees sodat ons onsself in ‘n posisie kan indink waar ons dink ons die reg het om na almal se foute vinger te wys nie.  Ons strewe moet wees om so lief te wees vir mekaar dat ons verhoudings sterk genoeg is dat ons mekaar werklik in liefde kan help om te sien dat ons almal Jesus regtig nodig het.