40 Dae 2022 – Dag 11

Ons het gister gesien hoedat Matteus te werk gegaan het om seker te maak sy lesers verstaan dat Jesus groter is as Moses en dat Moses eintlik maar net die skaduwee was van dit wat ‘n werklikheid sou word in Jesus.

Met dit in ons agterkoppe kan ons nou Matteus 5:17-20 net soveel beter verstaan.  In vers 17 sê Jesus:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.”

In die Persoon, Boodskap en Werk van Jesus word ook die Wet vervul.  Hy is die voorbeeld van hoe dit lyk om waarlik God se Wet na te kom. In wat hierna in die Bergrede volg verduidelik Jesus wat dit prakties vir die interpretasie van die Wet sou beteken wanneer Hy verskillende kwessies aanraak (bv. versoening, kuisheid, vergelding, egskeiding, liefde vir die vyand, ens).

Hy kom wys waaroor die Wet nog altyd eintlik gaan: Liefde vir God en liefde vir jou naaste (Matt 22:37-40). En dit is die liefde wat die Fariseërs en die skrifgeleerdes (en mense oor die algemeen) vir eeue lank in die Wet miskyk. Daarom dat Jesus in Matteus 5:20 sê:

As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Wanneer ons God se gebooie probeer nakom slegs vir ons eie eer en aansien en sg. heiligheid dan mis ons die punt.  Wanneer dit slegs vir ons gaan oor om ons eie persoonlike paadjie hemel toe en om alles perfek reg te doen net omdat ons nie hel toe wil gaan nie dan mis ons die punt.  Wanneer ons eie persoonlike vroomheid en heiligheid vir ons belangriker raak as die behoeftes van die mense rondom ons dan mis ons die punt en hou ons wetsonderhouding niks meer in as die van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie.

Maar as ons vanuit ons persoonlike verhouding met God en ons liefde vir God en vir mense sy gebooie wil nakom, dán kom ons by die punt uit.  Dan begin ons die Koninkryk soek en vanuit ‘n Koninkryksperspektief na die wêreld kyk. Dan doen ons dinge vir ‘n ander rede – nie meer vir ons eie selfsugtige motiverings nie, maar ter wille van die Koninkryk en die verspreiding van die Goeie Nuus van Liefde!

Mag ons ons Here al hoe beter en beter leer ken sodat ons sy voorbeeld al hoe nader kan navolg.