In Matteus 9:1-8 kry ons die wonderwerk wat Jesus doen wanneer Hy ‘n verlamde man genees. Maar hier is meer aan die gang as net ‘n verlamde man wat weer loop. Asof dit nie opsig self genoeg is nie!
Soos ons gister gesien het dat die mense geglo het dat dit God is wat die mag het oor die see en die wind, so sien ons hier dat hulle natuurlik geglo het dat dit net God is wat sonde kan vergewe.
En soos ons gesien het dat net God praat en dit gebeur (Gen 1:3) – Jesus het die wind aangespreek en dit het gaan lê (8:26) – sien ons dit hier ook in vers 6 en 7: “Hy sê toe vir die verlamde man: ‘Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.’ Hy het opgestaan en huis toe gegaan.”
Jesus bewys daardeur weereens dat Hy God is. Maar daar is nog ‘n groter bewys, want Hy wys juis deur die wonderwerk van genesing dat Hy ook die mag het om sonde te vergewe! Net voordat Jesus vir die verlamde man sê om op te staan en te loop, sê Hy vir die man dat sy sondes is vergewe. Wanneer die skrifgeleerdes Hom beskuldig dat Hy godslasterend praat dan sê Hy in vers 5 en 6:
“Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”
En dan sien ons in vers 8 hoe die mense reageer wanneer die man opstaan en loop. Hulle is getuies van ‘n wonderwerk maar ook van die openbaring van die Lewende God: “en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.”
Dit is interessant om op te merk dat dit dieselfde woord is wat ons hier in vers 6 vertaal met ‘volmag’, en in vers 8 met ‘mag’ en aan die einde van hoofstuk 7 met die ‘gesag’ waarmee Jesus gepraat het. Dit gaan hier oor Jesus se outoriteit. Hy het die outoriteit om te sê wat Hy sê en om te doen wat Hy doen.
Enige iemand kan die woorde van Jesus sê, vir ‘n verlamde man sê om op te staan, maar daar gaan niks gebeur nie. Net so kan enige iemand rondgaan en vir mense sê dat hulle sonde vergewe is en die feit dat hulle dit sê gaan niks verander nie. Maar Jesus is die een wat praat en dit gebeur! Hy het die outoriteit om die verlamde man te genees en net so het Hy die outoriteit om sonde te vergewe. Jesus kan vergifnis aanbied asof dit God self is wat dit aanbied, omdat Hy God self is!
Wanneer ons, soos die verlamde man se vriende, reageer op die outoriteit van Jesus dan kom ons na Hom toe in afhanklikheid en met die belydenis dat ons Hom bo alles nodig het. Hy is ons enigste Redder en is die Een met al die Mag!