40 Dae 2022 – Dag 21

Vir die eerste lesers (hoorders) van Matteus se evangelie was die geskiedenis van God met sy volk baie belangrik.  Dink aan hoe baie klem Matteus van die heel begin af lê om die wortels van Jesus as die Messias in die Joodse geskrifte te bevestig.  Daarom kry ons so baie aanhalings uit die Ou Testament uit en al die verwysings na profesieë wat in Jesus se koms vervul word.

Ons kan dus met redelike sekerheid sê dat die geskiedenis rondom die uittog uit Egipte en die wonderwerk van die see wat oopgemaak word nie net vir hulle baie bekend was nie, maar ook vir hulle belangrik was.  Hulle het dit jaarliks herdenk en gevier met Paasfees en weer en weer onthou wat die Here gedoen het.  Die fondamente van hulle godsdiens is gebou op die feit dat God hulle uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het (Eks 20:2).

Daar is by hulle dus geen twyfel daaroor dat God self die een is wat die mag het oor die groot waters nie.  Hy het dit dan bewys toe Hy sy volk droogvoets deur die see gelei het om hulle te red van die Egiptenare.  So kry ons ook baie voorbeelde in Hebreeuse poësie waar die psalmdigters beelde gebruik van die bedreiging van groot waters en dat dit God is wat die mag daaroor het om die storms van ons lewens stil te maak (Vgl. Ps 69).

So sien ons hoedat Matteus in hoofstuk 8 vir ons wys dat Jesus die Regte Mag het – dat Hy God is.  Onthou dit is God wat praat en dit gebeur: “Laat daar lig wees en daar was lig.”  So kom Jesus en sê vir die wind en see om te bedaar en “dit het doodstil geword.” (8:26)  En dit is baie keer die punt waarop ons fokus wanneer ons hierdie wonderwerk lees. Maar nou dat ons die konteks beter verstaan is daar nog ‘n manier waarop Matteus wys dat Jesus self God is.

Kyk wat sê Psalm 89:9-10 vir ons:

Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.

Wie is dit wat die mag het oor die onstuimige see?  Die Almagtige God!  Dit is Hy wat die see aanspreek en dit luister (Vgl. Ps 106:8-9)!  Geen wonder nie dat die mense dan in vers 27 oor Jesus vra: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”  Hy is nie net die Messias nie, Hy is nie net die Koning nie.  Hy is Immanuel – God met ons!