Nadat Jesus die Koninkryk van die Hemel aangekondig het (Matt 4:17), en reeds begin het om wonderwerke te doen (4:23), en die impak van die Koninkryk breedvoerig verduidelik het (5-7), kom Hy nou in 8:1 van die berg af en kom wys die krag van die Koninkryk met dade te wys. Hier in Matteus 8 tot 9 kry ons dan daardie versameling van 9 wonderwerke waarmee Matteus vir ons wys hoedat Jesus die Koninkryk met krag na die mense toe bring.
Die eerste wonderwerk in hierdie versameling is die genesing van die melaatse man. Onthou dat om melaats te wees in daardie tyd was baie erger as om net ‘n velsiekte te hê. Mense wat melaats was, is gesien as totaal en al onrein. En onrein mense se regte in die Joodse samelewing was min tot geen. Hulle was werklik die uitgeworpenes. Niemand mag aan hulle geraak het of eers naby aan hulle gekom het nie. En hulle mag ook natuurlik nie naby aan enige iets of iemand godsdienstig gekom het nie.
Daarom is die melaatse man se optrede hier, en spesifiek die manier hoe sy vraag aan Jesus stel, van groot belang: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Die Ou Vertaling help ons om nader aan die oorspronklike te kom: “Here, as U wil, kan U my reinig.” Hy vra dat die Here hom nie net sal gesond maak van sy siekte nie, maar dat Hy hom sal reinig.
Behalwe dit, kyk na die woordvolgorde hier: As U WIL, dan KAN U. En nie andersom nie: As U KAN, WIL/SAL U? Hy weet dat Jesus die vermoë het om Hom gesond te maak. Hy het al gehoor van Jesus en die dinge wat Hy doen, so sy vraag gaan nie oor of Jesus KAN nie, maar eerder oor of hierdie Joodse Rabbi, iemand onrein soos hy WIL gesond maak.
Die manier hoedat Jesus in vers 3 reageer is dan nog meer merkwaardig! Die Heiligste van heiliges steek sy Hand uit en raak aan die onreine, melaatse man. En in plaas daarvan dat die onreinheid die Heiligheid aantas, gebeur die teenoorgestelde en kom Jesus se krag en maak Hy die melaatsheid gesond, die onreinheid weer rein. Jesus KAN en Hy WIL!
Kan jy dink watter ongelooflike belewenis dit vir hierdie melaatse man moes gewees het? Nie net het hy die ongelooflike krag van die Here in sy lyf gevoel nie, maar Jesus het sy hand uitgesteek en aan Hom geraak. Vir iemand wat vir hoelank ookal siek was, en totaal en al in isolasie was en aan niemand kon raak nie en niemand ‘n drukkie kon gee nie, is hierdie ‘n groot oomblik. Jesus steek sy Hand uit na hom toe en raak aan hom.
Wat ‘n ongelooflike illustrasie van hoe die Koninkryk werk! Van hoe God se genade werk! Die Koninkryk van die Hemel kom breek in hierdie gebroke, onrein koninkryk in om dit weer te kom nuut maak. God steek, in sy groot genade, sy Hand na ons toe uit in liefde om ons gesond en rein te maak.
Jy sien, die Een wat al die mag het, ook oor siekte en oor menslike godsdienstige ideologieë, nooi jou uit om na Hom toe te kom en Hy wil vir jou rus gee!