In Matteus 6:19-24 kry ons daardie mooi gedeelte oor skatte in die hemel:
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Noudat ons so bietjie beter weet van die klem wat Jesus plaas op die Koninkryk van die Hemel, maak dit hierdie woorde sommer vir ons opnuut oop. As ons fokus dan op die Koninkryk van die Hemel moet wees, wat aanbreek in Jesus, dan kan ons tog nie anders as om eerder skatte in die hemel bymekaar te wil maak nie. Anders gestel, om ons perspektief te verander sodat dit wat vir ons die meeste waarde het, juis dinge sal wees wat in die Koninkryk ewige waarde het, en nie net tydelike aardse waarde nie.
Wat is daar in ons lewens wat as aardse skatte beskou sou kon word? Natuurlik dink ons dadelik aan geld en ons bankbalans en beleggings. Maar dink ook aan die dinge waarsonder ons (volgens wat die wêreld vir ons vertel) nie sou kon/wou klaarkom nie. Die nuutste en die beste fone met die grootste kameras, en nuwe karre, of ‘n nuwe vinniger rekenaar of watter ander ding ookal – goeters wat geld kos. Of dalk is die oorheersende gedagte net dat jy nie dit of dat het of kan kry nie. Maar dan is daar natuurlik ook ander minder tasbare dinge. Soos die doelwitte wat ons nastreef, die posisies wat ons beklee, ons eie eer en roem…
Wanneer die Koninkryk van die Hemel vir ons die belangrikste word en ons ons fokus instel daarop, dan gaan ons doelwitte verander. Ons perspektief oor die doel van die posisies wat ons beklee gaan verander. Die manier hoe ons na mense kyk gaan verander, want ons gaan na mense kyk soos wat Jesus na mense kyk en nie om te probeer uitvind wat ons vir onsself uit hierdie persoon kan kry nie. Dan gaan ons besef dat Jesus Homself vir ons gee, dat Hy vir ons voorsien vir alles wat ons nodig het – ons daaglikse brood. Dat ons weet hoe afhanklik ons van God is (5:3). Hy sorg vir alles!
Wanneer ons eerder soek en strewe na die doelwitte en skatte van die Koninkryk. Wanneer ons fokus, ons oë, die lamp van die liggaam (6:22-23) op die regte plek gefokus is. Wanneer ons besef dat ons God alleen kan dien en nie twee gode gelyk kan dien nie (6:24). Dan kan ons begin verstaan wat dit beteken dat ons ons nie hoef te bekommer oor môre nie, maar begin om God se Koninkryk te soek (6:31-34).
Waar lê ons fokus? Wat is vir ons die hoogste waarde – die waardevolste skat? Jesus sê: Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.