40 Dae 2022 – Dag 27

Uitsig vanaf Berg Arbel oor die See van Galilea

Aan die westekant van die See van Galilea is die berg Arbel.  Van bo van hierdie berg het mens ‘n uitsig oor die hele meer en sou mens in Jesus se tyd ook die dorpies langs die kus daarvan duidelik kon sien.  Ook die drie dorpies aan die noordelike oewer waaroor Jesus ‘n oordeel uitspreek in Matteus 11:20-24 nl. Gorasin, Betsaida en Kapernaum.

Vir baie jare voor en ná Jesus se tyd was berg Arbel die skuilplek vir die Joodse Selote.  Hulle was fanatiese beskermers van die Joodse geloof en het vanuit die grotte in die berg met guerilla-oorlogvoering teen die Romeine geveg.  Die Selote se ideologieë was ‘n duidelik sigbare en hoorbare stem in die dorpe rondom die See van Galilea.  Een van die twaalf dissipels was vroeër ook deel van hierdie groep en het bekend gestaan as Simon die Seloot (Handl 1:13).  Geen wonder dat die Koninkryk van die Hemel wat Jesus kom aankondig het vir hulle ‘n bitter pil was om te sluk nie.  Hulle wou natuurlik wraak neem en baklei teen wat die onderdrukkers van die Romeinse ryk aan hulle en hulle godsdiens gedoen het.

Jesus praat as Profeet in bekende profetiese taal oor hierdie dorpe as Hy sê “Ellende wag vir julle…”  Net soos wat Jesaja die volk honderde jare vroeër gewaarsku het dat as hulle hulle nie bekeer nie en nie omdraai en eerder God se rigting volg nie, dit hulle ondergang sal beteken – dat Jerusalem sal val en dat hulle in ballingskap weggevoer sou word – so waarsku die Here ook hierdie dorpe.

Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Volk en leiers sal saam van honger sterf, omkom van dors. Die doderyk maak sy keel wyd oop vir hulle, hy sper sy bek groot oop.  (Jesaja 5:13-14)

Jesus kom herinner hulle, in woorde wat vir hulle baie bekend moes klink, aan wat gebeur as mense aanhou met selfsug en wraaksug en geweld – meer geweld en moord en doodslag.  Dit was ook hierdie groep Selote se lot, reeds so vroeg as die oorlog teen Rome in 66-74 nC.

Die godsdienstige leiers van hierdie dorpe het die God van Israel geken en die geskiedenis van Israel geken.  Hulle weet hoe God werk met die onvrugbares (Abraham en Sara), die nat-agter-die-oor, selfvoldane tieners (Josef in Egipte), die kleinste en op-die-oog-af onaansienlikes (Koning Dawid) en ander om sy planne uit te voer.  Maar tog is politieke en godsdienstige mag en die stryd teen die Romeinse ryk vir hulle te belangrik.  Daarom maak Jesus se nederige herkoms en sagmoedige optrede en woorde vir hulle nie sin nie – is dit moeilik om Hom te volg en te vergewe, hul vyande lief te hê, die ander wang te draai, ens.

Jesus meen dat van almal wat van die Koninkryk van God gehoor het moes dit juis hierdie dorpe gewees het wat tot bekering gekom het.  Hulle moes die onderstebo karakter van sy Koninkryk raakgesien en omhels het.  Hulle het wonderwerk op wonderwerk gesien en eerstehands beleef hoedat Jesus dit wat Hy gepreek het as die waarheid bewys het deur dit uit te leef.  Maar hulle het eerder vasgeklou aan hulle eie eer en eie koninkryke.  Tog was dit die eenvoudiges, die kindertjies wat Jesus se woorde gehoor het en dit aanvaar het (Matt 11:25-26).

Jesus vra van mense om Hom te volg, om die “onnatuurlike”/onderstebo ding te doen en volgens Jesus se voorbeeld te leef, eerder as om die “natuurlike”/menslike ding te doen. En dit is moeilik om te doen.  Dit is moeilik om op te offer, moeilik om te vergewe, moeilik om ons vyande lief te hê.  Dit is moeilik om God se eer te soek eerder as ons eie, moeilik om mense wat volgens ons nie waardig is nie in te nooi, lief te hê en nie te veroordeel nie. Want die menslike natuurlike instink is juis die teenoorgestelde.

Maar dan sê Hy in die opvolgende verse vir mense (wat Hy weet dit moeilik vind om sy Koninkryk te soek) om na Hom toe te kom en Hy sal vir hulle rus gee. Hy wat die mag oor siekte, sonde, dood, die bose en die natuur het, en ook die mag oor die Romeinse en elke ander ryk het – Hy nooi ons uit om by Hom te kom rus vind.  Die juk, die las van om in hierdie onderstebo Koninkryk te leef, om Hom te volg – Hy is daar om daardie las vir ons ligter te maak.  Om ons te help dra.  Hy is vir ons die voorbeeld. Hy is ons bron van krag.  By Hom vind ons rus.

 

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)