40 Dae 2022 – Dag 24

Omtrent, amper presies, twee jaar terug het ons ook by Matteus 10 stil gestaan.  Dit was net ná die oorspronklike 21 dae grendeltyd vir die eerste keer uitgestel is.  Hier is ons 2 jaar later en kan ons terugkyk en weer die Waarheid van hierdie woorde hoor en in dankbaarheid voor die Here staan.

Onthou waarmee is Jesus besig in hoofstuk 10.  Hy stuur sy dissipels uit om die Evangelie van die Koninkryk te gaan verkondig (10:7). En Hy waarsku hulle dat hulle teenkanting en vervolging moet verwag.  Dit is nie ‘n moontlikheid dat dit dalk kan gebeur nie, dit is ‘n voldwonge feit dat hulle lyding en vervolging sal beleef. Dat hulle uitgelewer en gehaat sal word (10:22).

Dit is binne hierdie konteks dat die Here Jesus sy dissipels wil verseker dat hulle nie vir mense moet bang wees nie (10:26).  Maar hoekom nie?  As dit dan ‘n feit is dat mense hulle sal haat en uitlewer en vervolg, waarom moet hulle nie bang wees nie?

In Matteus 10:29 lees ons die rede:

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie”

Maar as ons so bietjie aan die woorde krap soos hulle hier in die 1983 vertaling staan, dan kan ‘n mens tog wonder of wil die Vader dan hê die mossies moet val?  Is dit genoeg rede om nie bang te wees nie?  Troos vir mense wat weet dat hulle soos skape tussen wolwe moet ingaan (10:16)?

As ons in ‘n Engelse vertaling lees dan klink dit so:

“But not a single sparrow can fall to the ground without your Father knowing it.”

Dit is waar, maar tog laat dit ook ‘n mens wonder – want beteken dit Hy weet dat die mossies val, maar Hy doen niks daaraan nie?  Hy weet van ons lyding, maar laat dit net toe…?

Die Ou Vertaling (1953) en die Nuwe Direkte Vertaling (2020) help ons, omdat dit die naaste is aan wat in die oorspronklike Grieks daar staan:

En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.

Mossies mag dalk val, maar die Vader is DAAR! Hy is by ons teenwoordig, selfs al val ons, is Hy by ons.  Wanneer ons uitgaan om die Evangelie van die Koninkryk te verkondig, kan ons weet God is by ons.  Hy gaan saam met ons.

Om die Koninkryk te soek en te verkondig is nie populêr in ‘n wêreld wat onderstebo geraak het nie.  In ‘n wêreld waar dit nodig geraak het om onderstebo te leef om die wêreld weer regtekant bo te kan draai.  Om ons perspektief in te stel op die Koninkryk is nie maklik nie – dit vra opoffering.  Maar ons kan hoop skep want die Here is by ons!  Hy dra ons.

Dit bring vir ons troos (vers 30-31):

“Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”