40 Dae 2022 – Dag 38

Vandag se dagstukkie dien as ‘n opsomming van wat ons in die afgelope 40 Dae (die eerste 4 Sondae voor die Pinksterreeks) in ons eredienste oor gesels het.  Jy kan die hele reeks gaan luister op ons Preke Bladsy of direk op die reeks se bladsy deur [HIER TE KLIEK].  Luister van onder af boontoe want die nuutste preek is heelbo.

Die wêreld is onderstebo. So voel dit vir ons.  Alles is deurmekaar.  Maar ons het besef dat dit gaan oor perspektief.  Dit hang mos nou af van watter kant af ‘n mens ‘n saak beskou of dit vir jou gaan onderstebo lyk of nie.  Daarom het ons gesien dat die Here se Koninkryk teenoor die wêreld totaal onderstebo lyk.  Die waardes van die Koninkryk is anders as die van die wêreld.  Wat vir die wêreld belangrik is – eer, aansien, mag, selfverheerliking – staan teenoor dit wat in die Koninkryk belangrik is.

Ons enigste kans om die wêreld weer regtekant te bo te draai is om ons perspektief in te stel op die Koninkryk, God se Koninkryk daagliks te soek en deur die beginsels va die Koninkryk uit te leef, stukkie vir stukkie die wêreld in die direkte omgewing rondom ons te verander.

Om ons perspektief reg te draai moet ons dus weet watter kant is regtig bo en dit beteken om te weet Wie is bo.  Wie dit is wat regeer.  Op ‘n meesterlike manier bewys Matteus in die eerste 7 hoofstukke van sy evangelie dat Jesus waarlik die Messias is, die Hemelkoning wat moes kom.  Hy voldoen aan elke denkbare vereiste wat daar kon wees vir die Messias en vervul elke profesie wat op die die Koninkryk van die Hemel betrekking het.

In die volgende hoofstukke wys Matteus dan vir ons dat Jesus nie net die REGTE Koning is nie, maar dat Hy ook die REGTE mag het.  Hy het die mag oor die sonde, die dood, siekte, die bose en die natuur.  Elke vloek wat die sondeval in die wêreld ingebring het moet buig voor die mag van Koning Jesus.

In die Saligsprekinge (Matt 5:3-12) teken Jesus dan vir ons ‘n prentjie van wat belangrik is in sy Koninkryk.  Hy verduidelik wat dit is om werklik geseënd te wees.  Dit is anders en word anders gemeet as wat die wêreld wil voorgee dit is om geseënd te wees.  Dit gaan hier oor om te weet hoe afhanklik jy van God is, om arm van gees te wees – arm aan jou eie goedheid en aansien en eer en prestasie en ryk aan liefde en deernis, sagmoedigheid, opoffering…  Die Saligsprekinge gee ook vir ons ‘n prentjie van Jesus.  Hy is die voorbeeld wat ons behoort na te volg in die Koninkryk!

In Matteus 13 kry ons 8 Koninkryksgelykenisse.  In hierdie vier pare gelykenisse openbaar Jesus vir ons hoe ons moet leef of om sy Koninkryk in hierdie wêreld sigbaar te maak.  Ons moet sy woorde ter harte neem.  Dit nie net hoor nie, maar werklik luister en daarvolgens lewe.  Verder moet ons sy Koninkryk aan almal verkondig.  Tydig en ontydig!  Derdens moet ons ons oë oopmaak vir die ‘mostersaadjie en suurdeeg oomblikke’.  Om die klein dingetetjies wat die Here in ons en die mense om ons se lewens doen raak te sien.  Daardie klein, versteekte oomblikke wat groot impak kan hê.  Daardie dinge wat vir ons nietig en onbelangrik kan lyk, maar wat God wil gebruik vir groot dinge in sy Koninkryk.  En vierdens moet ons bereid wees om op te offer te wille van die Koninkryk.

Mag die wêreld ook na ons kyk en van ons sê soos hulle van Paulus en Silas gesê het in Handelinge 17:6-7

Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. (Die ESV sê ‘These men who have turned the world upside down’) Hulle is nou hier in ons stad, en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar ‘n ander koning is, Jesus!”