Ons hoor dikwels dat mense iets sê soos: “ek glo soos ‘n kind”. En dan bedoel ons daarmee dat ons nie deurmekaar gemaak wil word met slim redenasies oor die Bybel of oor geloofswaarhede wat moeilik is om te verstaan nie. Hulle sê boonop dat die woorde “om te glo soos ‘n kind”, iewers in die Bybel staan. Maar dit is een van daai goed wat in die volksmond begin transformeer het in “die Bybel sê mos…” maar wat nie in die Bybel staan nie.
Wat wel in die Bybel staan (en miskien is dit die woorde waarna verwys word) is Jesus se woorde in Matteus 18:3 – “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” (Sien ook Matt 19:13-15; Mark 9:33-37; Mark 10:14-15; Luk 9:48; Luk 18:17)
Om te glo soos ‘n kind is natuurlik deel daarvan, maar waarvan Jesus praat is om soos ‘n kind te word. As ons mooi na ons klein kindertjies kyk dan sien ons dat die vergelyking wat Jesus gebruik baie dieper is en meer fasette het as dit wat ons gewoonlik bedoel met “om te glo soos ‘n kind”. Natuurlik is daar hier ook iets van die eenvoud waarmee kinders na hul leefwêreld kyk hier teenwoordig. En natuurlik is daar baie oor God wat ons nie weet nie en nie verstaan nie en nog moet ontdek.
Maar om soos ‘n kindjie te word is nog meer as dit: kindertjies wat nog nie deur die sorge van die lewe aangetas is nie. Wat nog nie weet van rangordes en posisies of rykdom en armoede nie. Kindertjies wat met opgewondenheid die wonder van die wêreld rondom hulle ontdek. Wat met totale onbeperkte vreugde en oorgawe kan speel en lag en probleme oplos en nuwe maatjies maak. Wat sonder vrees en met oorgawe kan spring en weet dat pappa my sal vang… Dit is so mooi en goed en ons kan baie daaruit leer in ons eie verhouding met die Here.
Om te verstaan waarvan Jesus in hierdie verse (in Matteus, Markus én Lukas) praat, moet ons weet waarop Jesus reageer wanneer Hy hierdie woorde sê EN wat die posisie van ‘n kind was in die tyd van Jesus.
Die dissipels het begin stry oor wie die belangrikste in die Koninkryk was. Daarin sien ons ook ons eie misverstand oor Jesus se Koninkryk. Want soos die dissipels hoor ons van die Koninkryk, maar ons gewone menslike reaksie is om te probeer uitwerk hoe ons die belangrikste/heiligste/grootste in hierdie sisteem kan wees. Dit is op hierdie vraag wat Jesus reageer. Hy verduidelik wat Hy bedoel in die volgende vers (18:4) – “Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.”
‘n Kind het geen eer of aansien in Jesus se tyd gehad nie. ‘n Kind het niks gehad om aan te bied op grond waarvan hy of sy aanspraak sou kon maak op iets so groot soos die ewige lewe nie. Daarteenoor het die belangrike mense met baie eer en aansien lang lyste van prestasies gehad wat hulle gedink het hulle sou kon aanbied.
Lukas se weergawe word voorafgegaan deur die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Luk 18:9-14). Die Fariseër het by homself só gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste’. Hy sê dus: ‘Kyk hoe baie het ek om aan te bied. Kyk hoe getrou kom ek die wet na! Kyk hoeveel eer en status het ek! Kyk hoe belangrik is ek! Kyk hoeveel goeie dinge doen ek. Kyk hoe neem ek deel aan die werksaamhede van my kerk. Kyk hoe groot is my bydrae elke maand’. So iemand se hande is so vol van sy/haar eie prestasies en goeie werke dat daar nie plek beskikbaar is in sy/haar hande vir die genade wat God hom/haar aanbied nie.
Om die koninkryk van God soos ‘n kindjie te ontvang beteken om voor God te staan met NIKS! Dit is om staat te maak op God se genade alleen. Dit is om soos die tollenaar te sê: ‘O God, wees my, arme sondaar genadig!’ Dit is om te weet hoe afhanklik ek van God is. (Matt 5:3). Dit is om met leë hande voor God te staan sodat ek die ewige lewe, wat Hy my uit genade gee, kan vat.
Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is – wat weet dat hulle arm is aan hulle eie goedheid en aansien en eer en prestasie – want aan hulle behoort die koninkryk van God.