Kyk hoe briljant is Matteus geskryf! Hoofstuk 11 eindig met Jesus se uitnodiging om by Hom rus te vind. Direk daarna in Matteus 12 volg die gedeelte wat Jesus die sabbatdag, die rusdag kom vervul. Lees gerus Matteus 12:1-14 weer deur.
Jesus se dissipels het koring gepluk op die sabbat en die Fariseërs is dadelik ontsteld want dit oortree die wette en hulle gaan klik by Jesus daaroor. Natuurlik om te kyk of Hy iets daaraan gaan doen. Maar Jesus antwoord hulle nie net op so manier dat Hy weer openbaar Wie Hy is nie, maar wys ook hoe dit werk deur iemand op die sabbat te genees.
Eers iets oor die sabbatdag: onthou dat die sabbatdag begin op Vrydagaand met sononder en duur tot Saterdagaand met sononder. Dit is met ander woorde nie Sondag nie. Sondag is die eerste dag van die week – die dag waarop die Here Jesus opgestaan het! (Lees gerus weer Matt 28:1)
Dan moet ons ook onthou hoe ernstig die Jode was oor die nakoming van die 4de gebod, dat ‘n mens nie op die sabbatdag mag werk nie. Daarom het hulle ‘n hele klomp ekstra wette uitgedink om hulleself te beskerm daarteen dat hulle nie per ongeluk die Wet oortree nie. So mag jy byvoorbeeld nie op die sabbat op ‘n stoel gesit het nie, want as die stoel ‘n streep op die grond trek dan het jy geploeg en het jy gewerk en oortree jy die Wet. Dit was belangriker vir hulle om niks te doen nie as wat dit was om goed te doen! Dit gaan nog bietjie verder as alles wat ons vir jare lank uitgedink het wat ‘n mens nie op ‘n Sondag mag doen nie (my eie ma mag bv. op ‘n stadium as predikantsvrou nie op ‘n Sondag haar wasgoed opgehang het nie).
Jesus antwoord die Fariseërs eerstens met ‘n verwysing na Dawid wat as koning saam met sy soldate offerbrood geëet het (1 Sam 21:6). Daarmee sê Hy dadelik iets oor sy eie Koningskap as ware Koning wat regeer. Tweedens verwys Hy na die priesters wat ook op die sabbat dubbeld moes gewerk het (Num 28:9-10) en die sabbatsgebod oortree het, maar nie skuldig was nie. Daarmee sê Hy ook iets oor Homself as die Hoëpriester wat namens ons die offer bring (Vgl. Heb 9:11-12).
Maar dan bring Hy dit nog verder huistoe deur in vers 6 te sê: “Hier is Een wat groter is as die tempel.” Die tempel was die woonplek van God. God se teenwoordigheid by sy volk. Jesus is Immanuel – God met ons! Hy gaan verder en tree as Profeet op en haal aan uit een van die profete (Hos 6:6) en sê in vers 7 en 8:
“As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”
Jesus is die Koning, die Hoëpriester, God met ons, die Profeet, die Here! By HOM is daar rus!
In vers 9-14 wys Jesus waaroor dit gaan. Nie oor ‘n ritualistiese en wettisistiese skyn-gehoorsaamheid aan die wet net ter wille van die wet en my eie sg. heiligheid nie. Maar oor om goed te doen!
Jesus kom wys dat die Wet nie bedoel is om mense bang genoeg te maak vir die hel nie, maar om ons te wys wat dit beteken om in ‘n liefdevolle VERHOUDING met God en met ons naaste te lewe. Hierdie doel kyk die Fariseërs (en ons!) mis wanneer ons die Wet van God reduseer tot slegs ‘n stel reëls wat ons gebruik om kindertjies bang te maak en om vingers na mekaar te wys.
Leef jy vir Jesus, doen jy goeie dinge en probeer jy om nie slegte dinge te doen nie, uit vrees vir die straf van God? Of doen jy dit omdat jy lief is vir Jesus wat jou eerste liefgehad het?