Gedagte vir die dag – Meer en meer liefde
In Filippense 1:9 en 10 bid Paulus hierdie woorde:
“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”
Kom ons breek die versie bietjie op.
1. Wat is dit wat toeneem? Liefde. Die woord wat ons hier met ‘liefde’ vertaal beteken letterlik ‘voorkeur’, of ‘om te verkies’. Met ander woorde om iets te verkies bo iets anders, om ‘n voorkeur te hê vir een ding bo ‘n ander. In hierdie geval om God en ons naaste te verkies bo onsself.
2. Hoe moet hierdie liefde toeneem? In begrip en fyn aanvoeling. Die woord wat ons hier vertaal met ‘begrip’, vertaal die Ou Vertaling, na regte, met die woord ‘kennis’. En ‘fyn aanvoeling’ gaan oor ‘onderskeiding’. Maar kennis van wat? Kennis van God.
Ons wil baie keer kennis van God en liefde van mekaar skei. Maar die een kan nie eintlik sonder die ander nie. Dit kan beide kante toe verkeerd gaan. God is die bron van liefde en het ons eerste liefgehad. Kennis van God is nodig vir ons om waarlik te kan liefhê! En ons liefde kan dus toeneem soos ons kennis van God ook toeneem. 1 Johannes 4:7-8 sê dit mooi:
“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” en vers 19: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”
Aan die anderkant is kennis van God sonder liefde, net dit: kopkennis. En ongelukkig gebeur dit ook baie dat ons koppe vol teologiese redenasies en Bybelversies kan raak vir ons eie eer en agenda en dat die liefde kan ontbreek. Onthou 1 Korintiërs 13:2 se waarskuwing:
“Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”
Daarom is dit so nodig dat ons intensioneel daaraan sal werk om te groei in ons kennis van God. Maar nie net meer van Hom weet nie, maar eerder Hom regtig leer ken – groei in ons verhouding met Hom.
Dit bring ons by die fyn aanfoeling/onderskeiding. Kennis vra “Wat is reg?” terwyl onderskeiding vra “Wat is die beste?” Met ander woorde help hierdie fyn aanvoeling ons om te vra na die beste manier om ons naaste lief te hê op grond van ons kennis van Christus en sy Woord.
3. Waarom moet ons liefde in begrip en fyn aanvoeling groei? Sodat ons kan onderskei waarop dit werklik aankom. Laat ons nie deurmekaar raak met waarmee ons onsself moet besig hou nie. Waaraan ons ons tyd, energie en hulpbronne moet spandeer. As ons liefde toeneem sal ons kan onderskei wat werklik belangrik is en nie ons tyd mors met twis- en strydgesprekke en ander nonsens nie.
Romeine 12:2 sê: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Mag ons liefde ook so toeneem in kennis en onderskeiding en deur Christus “geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Fil 1:11)
Gedagte vir die dag – ‘n Nuwe ontdekking!
Daar is min dinge so opwindend soos om iets nuuts te ontdek. Dink aan toe ons klein was hoe lekker dit was om vir die heel eerste keer iets te doen. Die see vir die eerste keer te sien. Die eerste keer sonder enige hulp te kan fietsry. Die eerste keer iets groots te besef of te verstaan. Later kom ander opwindende ontdekkings – daai eerste soen, die eerste bok skiet, die eerste keer wat jy kar bestuur, jou eerste salaristjek…
Soos ons ouer word, word hierdie eerstes natuurlik al minder, omdat ons al meer ervaring het en meer van die wêreld gewoond geraak het. Maar darem verras die lewe mens nog so nou en dan met nuwe ontdekkings en nuwe belewenisse.
Dieselfde is waar van die Bybel. Dalk het ons die Bybel ook te “gewoond” geraak. Dat ons die Bybel in daardie kategorie in ons gedagtes sit van dinge wat ons al reeds gedoen het en dit nou maar deel van ons lewens geraak het. Ons sien dit nog op ‘n daaglikse basis met versies en prentjies op Whatsapp en Facebook en dit hou ons so half aan die gang. Maar daar is soveel meer! Daar wag soveel meer opwindende ontdekkings vir ons in die Bybel, as ons net bereid is om te soek. En nie net aan grashalms vashou met versies en mooi woordjies nie.
Natuurlik is die Here so groot dat Hy ook in die kortste versies van die Bybel met ons praat en vir ons hoop en insig en leiding gee. Maar daar is soveel meer om te ontdek.
Psalm 119:162 sê: “Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ‘n groot skat in die hande gekry het.”
In hierdie week het ek dit weer intens beleef. In 12, amper 13 jaar van voltydse bediening, het ek al verskeie kere oor Filippense 2:5-11 gepreek. Oggend- en aanddienste, kampe, seminare, oggendtee, skoolopeninge, dagstukkies geskryf, noem dit. Met verskillende temas en invalshoeke. Ten spyte daarvan en al die kere wat ek die teks al gelees het en van nader beskou het, het ek hierdie week ‘n klomp nuwe ontdekkings in die teks gemaak! En dit is so opwindend, dat ek dit vir almal wil vertel!
Ek moet eintlik die eerste sin van vandag se stukkie herhaal en aanpas: Daar is min dinge so opwindend soos om iets nuut te ontdek in ‘n paar Bybelverse wat jy al honderde kere gelees het! Dit laat my net weer besef dat daar soveel van die Bybel (en van God!) is wat ons nog nie weet nie. Soveel meer om te ontdek en te soek en oop te krap. Soveel meer wat die Here nog vir ons wil wys.
Die opsomming van my ontdekking hierdie week in Filippense 2 kom daarop neer dat Jesus nie net sommer ‘n mens was nie, maar dat Hy waarlik God is wat in ons plek om staan het en vir ons verlossing kom bewerk het. Dit opsig self is natuurlik nie nuwe nuus nie, maar die manier hoe Paulus dit in hierdie paar verse uiteensit om op die ou end by die punt te kom waar elke tong erken “Jesus Christus is HERE!” – dit is verrassend, nuut, opwindend, AMAZING!
As jy meer wil weet gaan luister gerus na Sondag se boodskap op ons webwerf: http://weskerk.co.za/sermons/die-blydskap-van-weggee/
Die Woord van die Here is ‘n bodemlose fontein waaruit ‘n mens oor en oor weer kan gaan skep en elke keer vars water kan kry.
Psalm 139:17 en 18 sê:
Mag jy dit ook in jou eie verhouding met die Here beleef!
Tyd om te bid
Toe ons gepraat het oor “Vat blydskap saam“, was die eerste manier hoe ons ons “Blydskap-Knipmes” skerpgemaak het, GEBED. Maar ons wil nie net praat oor gebed nie. Ons wil dit doen. Meer as net op Sondae, meer as net skietgebedjies, meer as net wanneer die tropiese vrug die waaier tref, meer as net in die aand voor jy gaan slaap. Ons wil meer tyd met ons Vader spandeer, meer met Hom praat.
Die Bybel is vol opdragte oor gebed. 1 Tessalonisense 5:17 is seker die eenvoudigste een. Die hele vers is net twee woorde: “Bid gedurig.”
In Lukas 18:1 vertel die Here Jesus ‘n gelykenis “om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.”
Maar ons wil nie net bid omdat ons MOET nie, maar omdat ons WIL. En ook wil ons nie net bid omdat ons God se arm probeer draai om te kry wat ons wil hê nie, maar omdat ons tyd met ons Vader wil spandeer. Sy Wil wil soek, Hom beter wil leer ken, wil groei in ons verhouding met Hom.
Een van ons gemeente se geloofsgewoontes is “Bly gewortel”. Kolossense 2:6-7 sê: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” Om dit te kan doen, moet ons tog met die Here praat in gebed.
Met dit ingedagte wil ons meer geleentheid skep vir gebed. Daarom sal ons kerkgebou, van hierdie Woensdag af, op sekere tye van die week oopwees vir jou om tyd in gebed in die aanbiddingsruimte te kan kom spandeer.
Die tye is soos volg:
- Maandae van 6:30-7:30
- Woensdae van 17:30-18:30
- Donderdae van 12:00-13:00
Jy hoef nie vir die hele uur te bly nie, jy kan net inkom en kom bid. Die hek en die deure sal oopwees vir daardie tyd, so jy kan inkom, (saniteer jou hande by die deure natuurlik) en gebruik dit tyd om te bid. Dit is nie ‘n begeleide biduur met ‘n program nie, maar doodeenvoudig ‘n geleentheid wat elke gemeentelid kan gebruik om te bid.
Natuurlik kan jy enige tyd en enige plek met die Here praat, maar ons wil vir jou hierdie geleentheid bied om wel ook ekstra tyd af te sonder vir gebed. Kom ons wees ‘n biddende gemeente, waar gebed deel is van wie ons is, ingevleg in ons gemeentekultuur en DNA.
Mag jy die Here se vrede beleef. “Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7
Gedagte vir die dag – Pak jy jou blydskap in?
As jy die afgelope paar weke saam met ons in ons eredienste opreis gegaan het deur die brief van Paulus aan die Filippense sou jy die tema van vandag se dagstukkie al bietjie gehoor het.
As jy nog nie het nie wil ek jou uitnooi om daarna te gaan luister en saam met ons deur die brief te gaan. Jy kan die hele reeks tot waar ons nou trek op ons webwerf kry by http://weskerk.co.za/series/onuitblusbare-blydskap/
Maar ek wil tog nou met jou opvolg en hoor of jy self al verder daaroor gedink het. Is die idee van om ‘blydskap in te pak’ al deel van jou daaglikse lewe…?
Dit is interessant wat ons alles doen in ons soeke na blydskap, vreugde, genot, vrede, geluk… noem dit. Dit voel baie keer asof ons na ‘n sekere plek toe moet gaan om weer gelukkig te kan wees. Of die een of ander spesifieke aktiwiteit moet doen om beter te voel of om weer bietjie blydskap te beleef. Dat ons geluk met ander woorde afhang van waar ons is, wat ons doen of wat ons het.
Paulus sien dit bietjie anders. Want waar hy ookal is en in watter omstandighede hy ookal is, en of hy oorvloed het of gebrek ly, hy het blydskap. Hoe kry hy dit reg? Hy vat blydskap saam met hom. Hy vat dit saam op die pad, saam tronk toe, saam oral – want dit is altyd by hom. Sy bron van blydskap is die Here en sy verhouding met die Here. Daarom maak dit nie saak waar hy is of wat hy doen of wat hy het of nie het nie, want Hy het vir Jesus… anders gestel: hy weet Jesus het hom!
Hoor wat sê Paulus in Filippense 3:8 – “ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”
Wat as ons dit saam met ons kan vat oral waar ons gaan? Dat dit nie net ons bron van vreugde is nie, maar ook soos vir Paulus ons dryfveer is. Jesus het vir ons gesterf, ons vrygemaak, die prys betaal, ons straf gedra. Hy is by ons en Hy dra ons en stuur ons en lei ons. Dit is ons bron van hoop en blydskap en dring ons om dit te wil vertel en te leef, oral waar ons kom.
Mag jy dit beleef dat jy nêrens hoef te soek vir blydskap nie, maar dit beleef, omdat jy dit saam met jou dra, omdat jy Here by jou is. Omdat as jy Hom het, dan het jy selfs al het jy niks, nog alles. Omdat Hy jou in sy Hand het.
Gedagte vir die dag – Medewerkers in die Koninkryk
Iets wat ek sukkel om uit my kop uit te kry, vanuit ons studie van Filippense, is hoe baie waarde Paulus daaraan heg dat die gemeente in Filippi sy medewerkers is vir die verkondiging van die evangelie.
Die woord wat Paulus gebruik is een wat ons baie goed ken: “Koinonia”. Dit is ‘n Griekse woord wat al baie lank deel is van kerklike gesprekke, strategiese beplanningsessies, vergaderings, preekreekse, ens. Die woord word in die algemeen bloot vertaal met “Gemeenskap van Gelowiges”. En wat meeste van die tyd daarmee bedoel word is ons saamwees, saam kuier, saam eet, koffie drink, ens. – die samesyn van gemeente wees. Die Engelse vertaal dit met “Fellowship”.
Hierdie saam wees is baie, baie belangrik. Dit is ook ‘n baie groot deel van wat ons van gemeente wees mis sedert Maart verlede jaar. En wanneer ons wel bymekaar kan wees dan besef ons weer waarom ons dit so baie gemis het en waarom ons dit (mekaar!) so baie nodig het. Hopelik kan ons soos wat die jaar vorder weer alhoemeer van mekaar sien en saam kuier.
Maar hier is iets meer aan die gang by Paulus wanneer hy in Filippense weer die woord “Koinonia” gebruik. In vers 5 word dit in ons 1983 Vertaling vertaal met “saamgewerk”:
“omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.”
Die woord beteken letterlik vennootskap. Dit gaan oor deelneem, hulp bydra, saam werk. Ons is vennote van mekaar. Waarvoor? Die verkondiging van die evangelie – op watter manier ookal.
Die afgelope tyd sien ons te midde van landswye nood darem alhoemeer mooi stories ook. Van gemeenskappe wat saam staan om mense te help herstel en herbou ná COVID, ná inperking, ná die vernietiging van winkels en besighede deur die “looters”. Dit is mooi om sulke samewerking en hulpverlening te sien en gee mens darem nog hoop vir ons land in ‘n donker tyd.
Sosiale media maak hierdie hulpprojekte natuurlik baie meer sigbaar, maar my vraag is of moet ons wag vir ‘n openbare tragedie waarvan almal weet voordat ons ook inspring en help? Wat as ons besef wie ons is – die Kerk van die Here, “sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef 1:23) – en begin om vanuit ons identiteit saam te werk aan die verkondiging van die evangelie. Besef ons is vennote. Besef ons is saam in hierdie ding. Besef jy is nie alleen nie.
Die leuen wat die wêreld wil hê ons moet glo is dat ons ons elkeen ons eie koninkryk moet bou – elkeen vir homself en die duiwel vir die res. Maar die Kerk moet anders wees. Hier gaan dit oor God se Koninkryk. En dit word sigbaar wanneer ons, sy kinders, lief is vir mekaar en saam met mekaar werk. Kan jy dink wat in ons dorp kan gebeur as elke gelowige besef ons het mekaar nodig, besef ons is medewerkers en nie mededingers nie – vennote vir die bevordering van die evangelie.
Mag die Here vir jou vandag elke geleentheid wys wat oor jou pad kom om ‘n medewerker te wees in sy Koninkryk – daar waar jy is, daar waar Hy jou stuur. En mag jy daardie geleenthede met albei arms aangryp. En mag jy die Here se seën in jou lewe beleef en daardeur ook tot seën wees vir elkeen wat jou pad kruis.