Lofoffer 2019 – Dag 3

Die derde naam waarmee die Huttefees bekend gestaan het was om daarna te verwys net as “Die Fees”.  So groot en bekend en belangrik was die fees dat, as mense gesê het hulle is oppad na “Die Fees” toe, dit nie eers nodig was om vir iemand te vra watter fees hulle bedoel nie.

Die Fees was so groot dat Salomo dit ook gebruik het as die geleentheid om die Tempel in te wy in 1 Konings 8:

“En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die maand Étanim, dit is die sewende maand. En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.”

Hierdie fees was jaarliks die grootste partytjie van die jaar en is die fees (van die drie Pelgrimsfeeste) wat die beste bygewoon is.  Dis die einde van die jaar, al die werk is gedoen, die oes is ingesamel – dit was tyd vir feesvier en rus en dankbaarheid.

“Die Fees” is sterk gekenmerk deur groot groepe mense wat in blydskap dans en, soos ons later sal sien, groot parades gehou het as deel van die mense se uitbundige dankbaarheid. Dit is iets wat dalk vir ons vreemd is, maar hier sien ons dat hulle lof aan die Here alles behalwe passief was.

‘n Baie belangrike en onmisbare deel van “Die Fees” was juis dat dit ‘n pelgrimsfees was waarheen mense moes “opgaan”. Mense moet reis na Jerusalem om daar in die teenwoordiheid van die Here in die Tempel die fees te vier.  Die fees wou die volk leer dat ware aanbidding gepaard gaan met op reis wees. Op reis saam met God en met mense.  Die Here wou hê dat sy volk uit hulle normale roetines, wat mens se aandag kan steel, moes uitklim en op reis gaan om by Hom te wees.

As mens die omvang van “Die Fees” so bietjie begin raaksien dan laat dit mens wonder oor ons eie feeste en ons eie dankbaarheid. Hoe reflekteer ons vandag iets van die grootheid van hierdie fees?  Dalk moet die fokus van ons feeste, ons rustye, ons vakansies, ons partytjies so bietjie verander – na Hom wat die bron van alles is en die bron van ware rus is.

Mag jy regtig dans met blydskap oor al die seëninge van die Here. Mag jy op jou reis saam met Here tyd kry en geleentheid skep in jou daaglikse lewe om bewus te raak van sy teenwoordigheid en saam met jou reisgenote sy lof te bring.

Gebed: Ons bid nog elke dag vir reën, dat dit wyd en ver en lank sal val. Maar ons loof ook die Here vir die reën wat gister geval het! Vra die Here vandag om jou help om raak te sien dat jy rede het om te dans.

 

Lofoffer 2019 – Dag 2

Die tweede naam waarmee daar na die Huttefees verwys is, is “Die Oesfees”.  Die fees was inderdaad heel eerste ‘n landboufees.  Dit gaan oor wannneer hulle die fees moes vier.  Aan die einde van die seisoen, aan die einde van die oes, as al die werk afgehandel is. Maar ook m.a.w. oor waarom hulle die fees moes vier – om vir die Here dankie te sê vir die oes!

Hoor wat sê Eksodus 23:16 hieroor:

Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande.”

Hierdie sterk band met die natuur en die seisoene was algemeen onder die meeste volke van daardie tyd en was daar verskeie sulke oesfeeste ook deur ander volke met ander gelowe gevier.  Maar die Here wou hê dat sy volk anders as die ander volke moes wees.  Waar die ander volke die skepping aanbid het, moes die volk van God eerder hul fokus na die Skepper draai en Hom alleen aanbid. So het die ander volke probeer om hulle godjies te manipuleer om vir hulle voorspoedig te maak en vir hulle goeie oeste te stuur.  Dit het gepaard gegaan met ‘n hele lot verskriklike praktyke.

Die Here wil hê dat sy kinders anders moet wees en met hierdie Oesfees wou Hy hulle daaraan herinner dat Hy die een is wat voorsien.  Hy is die een wat die seisoene in sy hand hou, wat die reën gee op die regte tyd en die oes gee op die regte tyd sodat hulle kos kan hê vir die jaar wat voorlê. Hy wil hê sy kinders moet verstaan Wie Hy is, dat Hy die enigste God en regeer oor alles. Daarom is die regte reaksie nie soos die ander volke se afgodsdiens nie, maar eerder opregte dankbaarheid – ‘n fees van dankbaarheid!

So moet ons ook reageer. Ons moet egter ook so ons fokus op ons Skepper behou. Die oorbeklemtoning wat daar in vandag se wêreld op die skepping en die oorbeskerming daarvan het hierdie fokus verloor. Natuurlik moet ons rentmeesters wees van die skepping maar ons moet onthou dat Hy nog steeds die bron van dit alles is, die Skepper van alles is en dat die hele skepping deur Hom en vir Hom is.  Die skepping is nie die doel self nie, maar die middel waardeur die Here verheerlik word. Die Oesfees dien dus ook as ‘n herinnering aan wat die regte rangorde in die heelal is – God is Koning en Skepper van alles.

Dink aan hoe die wêreld rondom ons lyk en hoe belangrik geld en mag en die mens se ego geword het. Die Here roep ons ook om anders as die wêreld van vandag te wees en te onthou dat alles wat ons het kom van Hom af. En dat ons daarop sal reageer met dankbaarheid.

Mag jy wanneer jy weer opnuut ontdek dat die Here vir jou voorsien gevul word met onkeerbare, uitbundige dankbaarheid. En mag daardie dankbaarheid ‘n getuienis wees wat wys na Wie ons God is!

Gebed: Ons bid vandag vir die boere van ons eie gemeenskap en hulle oeste.  Hoe daardie oeste ookal mag lyk – of dit voer vir hulle diere is, blare aan die bome, gras op die grond, of fisiese oeste van dit wat hulle geplant het. Ons bid dat die Here vir hulle sal voorsien en hulle sal seën met alles wat hulle nodig het en nog meer! Ons bid dat die Here, die Almagtige Voorsiener, dat Hy genoeg reën sal stuur.

Lofoffer 2019 – Dag 1

Dis Lofoffermaand en ons dink bietjie na oor waaroor ons alles vir die Here dankie sê en oor hoe ons dankbaarheid behoort te lyk. Hoe wys ons vir die Here dat ons werklik dankbaar is? Dit kan tog nie net ‘n aangeplakte of ‘n geforseerde dankie, met bybedoelings wees nie. Dit kan tog ook nie halfhartig en sommer net ‘n nagedagte aan die einde van ons gebede wees nie.

Juis daarom staan ons vir hierdie jaar se Lofoffer bietjie stil by die ‘Sukkot-Fees’, die ‘Fees van die Tabernakels’ of ‘Huttefees’.  Ons gaan by hierdie Bybelse fees so ietsie leer van hoe ‘n dankbaarheidsfees lyk en in die proses weer ‘n paar nuwe dinge ontdek oor ons verhouding met die Here. Of eerder: sy verhouding met ons!

Die Fees kry ‘n paar verskillende name en kry die volk die opdrag om die fees te vier in Levitikus 23:42-43:

“Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

Hier leer ons die fees dan ken as die Sukkot – sukkot beteken ‘tabernakels’ of ‘hutte’. Die klem val hier op ‘n tydelike struktuur wat maklik afgebreek en saam op reis geneem kon word en weer maklik opgeslaan kon word. (Ons kan maklik hiermee identifiseer, ons ken mos van tente en kamp!)

Met die opdrag om tydens die fees in hierdie tabernakels te bly wou die Here die volk herinner aan die feit dat hulle daar in die woestyn geswerf het en dat Hy nie net daar in hulle behoeftes voorsien het nie, maar dat Hy ook in die Tent van ontmoeting, in die Tabernakel en in die wolk- en vuurkolom by die volk teenwoordig was.

So moes die mense onthou dat hulle van God alleen afhanklik is. Dat Hy die bron van alles is. Alles wat ons het kom uit sy Hand. So herinner dit ook die volk aan die feit dat die Here hulle uit Egipte, deur die woestyn na die beloofde land, ‘n vaste vesting, gelei het en dat ook dit net genade van Bo is. Hulle onthou dat die lewe hier op aarde maar kortstondig en kwesbaar en tydelik is en dat hierdie nie ons permanente woning is nie, maar ons finale bestemming by God is.

Hierdie fees word vandag nog in die Joodse gemeenskap gevier, maar nie heeltemal soos dit was in die Bybelse tyd nie. Maar mens kan nog tydens die fees die Sokkot/Tabernakels/Hutte te sien kry waar mense hulle etenstye deurbring en ander nooi om saam met hulle in hierdie tydelike strukture te kom eet.  Die strukture word doelbewus so gebou dat die dak nie al die son of reën uithou nie en mens nog ‘n sterretjie deur die dak sou kon sien. So kan hul onthou dat die Here die voorsiener van alles is.

Ons kan baie uit hierdie gebruik leer en dalk is dit nodig dat ons ook so bietjie uit ons normale gemaksone uitklim en vir ‘n oomblik weer nadink oor ons eie afhanklikheid van God. As ons weer opnuut kan ontdek en onthou dat alles wat ons het en alles wat ons is van Hom af kom, dan kyk ons dalk met nuwe oë na dit wat ons het en kan ons dan nie anders as om meer en meer en meer vir die Here te wil dankie sê nie.

Ek wil jou uitnooi om juis dit te doen en êrens ‘n tydjie af te knyp en so rukkie in ons eie sukkah daar op die kerkterrein te kom sit. Kom eet jou middagete daar of breek net bietjie weg uit die gejaag van die lewe. Kom spandeer tyd om met die Here te praat en na te dink oor alles waarvoor jy kan dankbaar wees.

Gebed: Kom ons as gemeente vat hande tydens hierdie Lofoffermaand om die Here te loof vir alles wat ons het en vir sy voorsiening en teenwoordigheid, maar kom ons vat ook hande om voor die Here te buig in afhanklikheid en daagliks te bid vir reën vir ons land.