LIEFDE – Nie afgunstig nie
Die bekende woorde van 1 Korintiërs 13:4-7 praat oor die liefde:
Wat dink jy beteken dit dat liefde “nie afgunstig is nie”? Afgunstig beteken om jaloers te wees – om die ander persoon nie te gun wat hy/sy kry nie. Dit het ‘n baie slegte invloed op verhoudings as een of albei persone in die verhouding die ander persoon niks gun nie. Natuurlik is dit so dat mens in ‘n verhouding bereid is om dinge wat jy graag wil hê en selfs verdien weg te gee of selfs te verloor ter wille van die ander persoon – maar dit moet van twee kante af kom! En natuurlik kan ‘n mens ook nie net glad nie omgee wat die ander persoon met sy/haar tyd doen nie, mens moet tog omgee! Maar liefde, ware liefde is nogal extreme! Liefde sou selfs kon beteken dat ‘n mens so baie vir iemand omgee dat jy bereid is om daardie persoon te laat gaan, as dit die beste vir daardie persoon is, selfs al maak dit jou seer. Ons raak so selfsugtig en besitlik dat ons selfs verskonings opmaak oor waarom dit vir die ander persoon beter is om maar eerder net by ons te bly – sodat ons hulle net vir onsself kan hou. Liefde werk anders! Liefde is bereid om te vertrou en te laat gaan – moenie dat jou liefde vir iemand anders so uitdraai dat dit eerder die persoon gevange hou nie. Maar moet ook nooit iemand anders se liefde vir jou en die vryheid wat hulle jou gun, misbruik nie!
LIEFDE – Bou eers die fondasie!
In Hooglied 2:7 sê Salomo hierdie woorde:
Watter nadeel lê daarin om die liefde te gou wakker te maak en aan te vuur? Sterk geboue het sterk fondasies. So moet die fondasie in ‘n verhouding ook eers behoorlik gelê word voordat ons die mure kan bou. Dit is belangrik dat jy jou verhouding sal kans gee om natuurlik te groei en nie die kar voor die perde span nie. Moenie te gou ernstig raak in jou verhouding net omdat ander mense druk op jou sit of omdat dit is hoe verhoudings volgens die TV “moet” lyk nie. Wees geduldig! As jy in die eerste week van die verhouding alreeds begin praat van trou en wat julle kinders se name gaan wees moet jy rooi ligte sien. Vra jouself af waarop is julle verhouding gebou of as jy nie nou in ‘n verhouding is nie – waarop wil ek hê moet my verhouding eendag gebou wees? As jy al die ekstras uit die verhouding wegvat moet daar nog iets wees wat niemand van jou af kan wegvat nie – Vriendskap! Leer mekaar eers behoorlik ken en word beste vriende – dit is al genoeg van ‘n uitdaging en ook bring genoeg vreugde – voordat julle begin om dinge te doen wat ernstige emosionele letsels los of maak dat jy vriendskappe vernietig.
LIEFDE – Is te veel van ‘n goeie ding ook sleg?
Hoor wat sê Spreuke 25:16 – “As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel eet, word jy naar.”
Wat dink jy bedoel die beeld wat Spreuke hier gebruik? Kan te veel van ‘n goeie ding ook sleg wees? Natuurlik! Partykeer voel dit nie vir ons so nie, en wil ons dit ook nie erken of raaksien nie, maar die realiteit is dat ‘n “goeie ding”, as dit te veel raak, ons lewens so kan oorheers dat dit maak dat ander dele van ons lewens skade lei. So werk dit met die liefde ook! Dit is die lekkerste en beste ding wat die Here kon gemaak het. Maar net soos wat te veel heuning vir jou sleg is kan ons in verhoudings ook so gefokus raak op die verhouding dat ons die res van die lewe se belangrike sake begin afskeep. Daar is soveel verhale van mense wat so ernstig oor ‘n liefdesverhouding (of die soeke daarna!) geraak het dat hulle later net te veel verloor het net om die verhouding te behou. Pasop dat jy nie al die goeie in die lewe mis omdat jy te veel van ‘n een goeie ding wou hê nie.
LIEFDE – Bewaar jou hart
Spreuke 4:23 sê
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Gewoonlik lees ons hierdie teks in ‘n baie breë sin i.t.v. hoe ons moet pasop vir dit wat wat ons sien en hoor en dink omdat dit ons lewens kan beïnvloed. Ons lees die teks ook baie keer saam met “Wat die hart van vol is loop die mond van oor” (Lukas 6:45). Dan praat ons oor wat in ons harte is – goeie dinge of slegte dinge en dat dit noodwendig goeie of slegte dade tevoorskyn bring. Maar is Spreuke nie juis hier besig om na emosies te verwys nie? Hartsake, liefde, gevoelens. Dink maar aan hoe daai verliefde gevoel jou hele lewe kan beïnvloed. Of aan die anderkant, wanneer jou hart gebreek is oor die een of ander liefdesteleurstelling. Pas jou hart daarom op: dit beïnvloed jou besluite, hoe jy die mense naby jou hanteer, jou verhouding met God en ook hoe jy sy Liefde uitleef!
Week van Gebed 2020: Naam bo elke naam
In die Bybel tref ons verskillende name vir die Here aan. Die bekendstes is natuurlik:
- Jesus (Matt 1:21) – Jesus beteken “Verlosser”. Die Een wat die wêreld van sonde verlos, wat ons straf op Hom geneem het.
- Christus (Luk 9:20; Joh 11:27) – Christus beteken “Gesalfde”. Die Een wat na die wêreld toe sou kom, die Een wat die profete oor geskryf het, die “Chosen One” wat deur God gestuur is.
- Immanuel (Matt 1:23) – Immanuel beteken “God met ons”. Hy het een van ons geword, onder ons kom woon, Hy is by ons.
Elders in die Nuwe Testament kry ons nog ander titels vir Jesus:
| Joh 1:1 en 14 | Die Woord |
| Luk 2:11 | Die Here |
| Matt 16:16 | Die Seun van God |
| Joh 1:29 | Die Lam van God |
| Joh 8:12 | Die Lig vir die wêreld |
| Op 19:16 | Koning van die konings, Here van die heersers |
| Op 22:13 | Alfa en Omega, Begin en Einde, Eerste en Laaste |
Hierdie name van Jesus help ons om beter te verstaan Wie Hy is en wat Hy hier op aarde kom doen het. Ons verstaan dan daarin dat Hy ons Verlosser is, maar ook dat Hy God self is, dat Hy ons Here is (Here beteken ‘eienaar’/’meester’), dat Hy die Koning is, nie net in ons lewens nie maar oor die hele heelal. Hy is die begin en die einde van alles en daar was nooit en sal nooit ‘n tyd wees wat Hy nie ‘is’ nie of wat Hy nie regeer nie.
Om die Ware Jesus te ken en te dien beteken meer as net om te weet wat sy Naam is, maar ook Wie Hy is, wat hierdie naam(e) in ons lewens beteken. Dit is duidelik dat God se Naam meer is as net ‘n titel of ‘n beskrywende woord. Daarvan getuig die derde gebod duidelik. Eksodus 20:7 sê dat ons nie die Here se naam mag misbruik nie.
Soms gebruik ons die Here se Naam in ons gebede in die hoop dat dit een of ander “magical power” het en daarom alles wat ons vra waar sal maak en probeer so die Here in beweging bring om vir ons te gee wat ons wil hê. Ons moet eerder afhanklik wees van Hom in plaas daarvan dat ons vir Hom probeer sê wat Hy moet doen. Ons probeer ook soms om dit wat ons sê meer “waar” te maak of meer gesag te gee deur die Here se Naam te gebruik. Deur te “sweer voor die Here” of te sê “as ek jok kan die Here my maar doodslaan”. Ons moet eerder altyd eerlik wees dat mense weet as ons iets sê dan is dit die waarheid. Die algemeenste manier is mos maar om die Here se Naam as ‘n vloekwoord te gebruik en net nie om te gee om sy Naam sonder respek rond te slinger nie.
Ons moet opstaan vir sy Naam en mense daarop wys dat dit nie aanvaarbaar is om so te praat nie. Die Here is God en Hy moet al ons lof en eer en respek kry, daarom moet die manier hoe ons oor en met Hom praat ook daarvan getuig. Ons moet BID dat mense in die media ook tot hierdie insig kom en besef waarmee hulle besig is en dat hulle die Here se Naam ook sal respekteer. Ons moet ook die voorbeeld stel in die manier hoe ons die Here se Naam gebruik en waak daarteen dat ons self nie te gewoond raak daaraan dat dit naderhand vir ons ook aanvaarbaar word om sy Naam so te misbruik nie.
GEBED:
- Kom ons vra die Here dat Hy ons sal help om sy Naam heilig te hou. Dat ons sal fokus daarop om sy Naam te eer en op só manier praat en doen dat Hy altyd die eer ontvang. Dat Hy ons sal help om te besef wat die waarde daarvan is om eerder altyd opreg en eerlik te wes as om ons standpunte te probeer staaf deur sy Naam te misbruik. Ons bid ook vir elke persoon in massa media wêreldwyd wat besluite kan neem oor die gebruik van God se naam in alle vorme van media, dat hulle Hom sal leerken en besluit om sy Naam te eer.
- Ons bid vandag vir ons Gemeente. Vir elke gemeentelid se persoonlike situasie en behoeftes. Dat die Here sy seën oor elkeen sal uitstort, sodat ons oral waar ons kom werklik tot seën vir ander kan wees.