Afgesonder Dag 15 – Hy lê sy lewe af

Goeie Vrydag.  Op hierdie dag word ons gevul met vrede en dankbaarheid en kan ons werklik sê dit is en sal altyd ‘n Goeie Vrydag wees omdat ons weet wat op hierdie dag gebeur het.  Ons is verlos! Genade, onbeskryflik groot! Die prys is betaal!

Maar wat is daardie prys?  Vir ons is dit Goeie Vrydag, slegs omdat dit vir Jesus die slegste Vrydag was.  Lees gerus Markus 15 deur. Die verskrikking en pyn van daardie dag het vir ons vrede en lewe gebring.  Dit moet ons weer opnuut besef dat Hy ONS straf gedra het, dat Hy IN ONS PLEK gesterf het.  Hy het dit nie verdien nie. Niemand kon dit aanskou en vinger wys en sê: “Ja lekker, kry vir jou! Jy wou mos!” nie.  Want Hy het niks daarvan verdien nie.  Maar Hy het dit gedoen juis sodat daar nie na ons vinger gewys kan word nie, dat ons die straf kan vryspring.

Behalwe vir die fisiese pyn en lyding wat Hy moes deurgaan, dink ek, moes die pyn van om die skuld te kry vir iets wat Hy nie gedoen het nie, alreeds erg genoeg gewees het.  Om onskuldig te wees en nog skuldig bevind en tot die dood gevonnis te word.

Dit is hier waar die genade inskop. Waar Liefde, bo ons verstand, geopenbaar word.  Dat Hy sy lewe vir ons aflê.  Dat die Koning van die konings, wat al die mag het, kies om aan te hou, kies om deur te druk.  Natuurlik kon Hy die lyding gestop het. Natuurlik kon Hy van die kruis afgeklim het.  Maar Hy kies om sy lewe af te lê vir jou.

Het jy al mooi gedink oor wat daar gebeur het? Verby die woorde op die papier gekyk en gedink oor die fisiese gebeure? Hy is beskuldig en gespoeg en gespot en gevloek en geslaan.  Hulle het ‘n doringkroon op sy kop gesit en dit met stokke dieper ingeslaan.  Dink aan hoe dit moes gebloei het – ‘n kop wond bloei tog verwoed!

Hulle het hom met ‘n kats geslaan.  Nie ‘n gewone sweep nie.  Die ding het klomp lang rieme gehad en dan het hulle allerhande swaar ystertjies en skerp beentjies daarin gevleg.  Die swaar goed het die vel gekneus totdat die skerp goed die vel binnegedring het en vasgesteek het.  Dan het die romeinse soldaat weer die kats losgeruk en weer geslaan.

Die groot houtbalk, die kruis, vol splinters, moes Jesus op sy rou geslaande rug tel en dit self Golgota toe dra.  Daar het hulle die spykers deur sy polse geslaan.  Nie deur sy palms nie, deur die pols sodat dit nie uitskeur nie.  En die ander spyker deur sy voete.  Daar moes Hy hang, kaalgestroop en verneder.

Hoe ‘n gewone kruisiging dan gewerk het is dat die persoon se asem opgeraak het en hy homself moes optrek aan die spykers deur sy hande en stut op die spyker deur sy voete om weer asem te kry.  Totdat hy dit nie meer kon hou nie en dan weer gehang het tot hy nie meer kon asem key nie.  So het dit aangehou totdat die persoon op die ou end versmoor het. Sonder asem.

Maar dan lees ons in Markus hoofstuk 15 vers 37 hierdie woorde:

Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.”

Jesus het nie sommer net versmoor nie, ‘n mens het asem nodig om te kan hard uitroep!  Hy het nie sommer net gesterf nie – Hy het sy lewe vir ons afgelê!  Hy DOEN dit. God is hier besig.  Hy red ons met sy REGTERHAND!  Daarom kan ons vrede hê, daarom kan ons lewe hê, daarom kan ons vry wees, en wáárlik vry wees!

Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader. (Fil 2:9-11)

Mag jy hierdie Goeie Vrydag opnuut ontdek hoe oneindig groot die genade van die Here vir jou is.  Dat die prys betaal is en dat jy vry is.

Onthou: Die Here is lief vir jou!

 

Afgesonder Dag 13 – Ons berei voor vir Paasnaweek

Ons verskuif vandag bietjie ons fokus na Paasnaweek en ons voorbereidings om dit saam te kan vier.  Ons gaan probeer om sover moontlik te hou by ons beplanning soos op ons kalender – al doen ons dit nie saam bymekaar nie, kan ons dit darem nog saam doen, al is dit apart.  Ter voorbereiding kan jy solank vandag Markus 14:12-25 in al die vertalings tot jou beskikking deurlees.

So ons beplanning lyk so:

  • Donderdag 9 April “kom ons bymekaar” om 18:30 vir ons “Vissie-en-Broodjie Aand” om Heilige Donderdagaand te vier.
  • Sondag 12 April hou ons saam Paasontbyt om 6:00 en kyk hoe die son opkom. En ons erediens begin dan om 7:00.

Donderdag

Die idee agter “Vissie-en-Broodjie Aand” is dat dit ‘n “bring wat jy het”-ete is. Soos die seuntjie net gebring het wat hy het met die vissies en broodjies waarmee Jesus die skare kos gegee het (Joh 6:9).  So dit gaan nie oor om dieselfde kos te eet as wat Jesus saam met sy dissipels daardie aand geëet het nie, maar dat ons SAAM kan eet en elkeen bring wat hy het.  En dat ons dan so saam aan tafel kan wees en “terwyl ons eet” (Mark 14:22) dan kan oorgaan na die Nagmaal en dit saam kan gebruik.

So sien ons altyd by hierdie ete hoedat die Here sorg en dat daar altyd meer as genoeg kos vir almal is. En boonop het ons verlede jaar die wonderwerk van die “Vermeerdering van die tafels en stoele en spasie” beleef toe ons net nog en nog en nog moes uitpak omdat daar net meer en meer mense ingekom het!

So kom ons doen dit nog steeds. Dat jy môre aand saam met jou mense wat saam met jou in afsondering is, daar by die huis die tafel dek en saam eet en saam Nagmaal gebruik.  Dit hoef m.a.w. nie vissies en broodjies te wees nie, en hoef ook nie te lyk asof dit uit Nigella se nuutste kookboek ontsnap het nie.  Onthou die gedagte is: bring wat jy het! En ons almal se koskaste lyk mos nou maar tydens die Lockdown self bietjie anders en meer ingeperk as gewoonlik. Dit gaan eerder oor die SAAM aan tafel wees as oor wat ons spesifiek gaan eet.

Daar sal dan teen 19:00 môre ‘n spesiale Heilige Donderdagaand video-boodskap beskikbaar wees, wat julle as gesin saam kan kyk met riglyne dat ons almal saam Nagmaal kan gebruik.  Gebruik asb. ook dit wat jy in die huis het (of as jy nog druiwesap by die Spar kan kry, moenie wyn probeer koop nie!) vir die Nagmaal en moenie bekommer as jy nou nie “regte” Nagmaalwyn en brood het nie.  Dit gaan nie oor spesifiek die wyn en die brood nie, maar oor wat dit beteken en simboliseer – Jesus se bloed wat vir ons gevloei het en sy Liggaam wat vir ons gebreek is. Dáárop wil ons fokus!

Deel dan groot asb. met ons ‘n foto van julle ete saam. En weereens dit hoef nie professioneel te wees nie, sommer ‘n selfie (of ‘n “onsie”). Eintlik soek ons net ‘n foto van JULLE saam aan tafel of waar julle saam sit om Nagmaal te gebruik sodat ons so in mekaar se vreugde kan deel. Ons sal dan al die foto’s mooi bymekaar sit en dit met almal op ons Facebook deel.

So om op te som vir Donderdag:

  • 18:30 – Kuier en eet saam met jou mense aan tafel.
  • 19:00 – Skakel aanlyn in vir die boodskap en die Nagmaal en gebruik dit saam.
  • Deel met ons ‘n foto op Facebook of via WhatsApp.

Sondag

Sondag volg ons dieselfde plannetjie.  Staan lekker vroeg op en eet 6:00 saam met jou mense ontbyt.  Die son kom blykbaar al 6:22 op.  Ons kyk dan almal saam, daar waar ons is, hoe die son opkom. En ons onthou, soos wat die nuwe dag aanbreek, daardie oggend vroeg hoedat die vrouens die leë graf ontdek het en daar vir ons ‘n nuwe dag, Nuwe Lewe, aangebreek het omdat Jesus die dood oorwin het!

Om 7:00 Sondagoggend sal die Paassondag erediens dan aanlyn beskikbaar wees vir jou en jou mense om in te kan deel.  Deel dan weereens met ons ‘n foto van julle wat saam ontbyt eet of van hoe die sonsopkoms daar van jou huis af lyk.

Hoop jy is saam met my opgewonde om Paasnaweek te vier! Kom ons deel dit sover moontlik met mekaar en bring eer aan die Koning van konings wat vir ons gesterf het.

En onthou: die Here is by jou!

Afgesonder Dag 12 – Die Here is naby

Vandag lees ons die bekende woorde van Filippense 4:4-7.  Hier is die 1983 vertaling:

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Die teks praat van vreugde en vrede en ons fokus so graag daarop, maar ons kyk die grond waarop dit staan mis. Die vreugde en die vrede waarvan Paulus hier praat staan en val by die wete dat die Here naby is! Die nabyheid van die Een wat gekom het, een van ons geword het, vir ons gesterf het, en wat weer gaan kom, het ‘n invloed op die totale lewe van die mens.  Dit beïnvloed die glimlag op ons lippe en die gesteldheid van ons harte.

Hierdie blydskap is nie ‘n toestand van geestelike vervoering of a.g.v. ‘n meevallertjie wat jy gekry het nie.  Dit is nie maar net ‘n houding van “keep smiling” wat jy inneem nie. Dit is ‘n opdrag wat gegrond is in die werklikheid van die allesveranderende nabyheid van die Here. Die opdrag gaan verder as dit deur te sê dat ons ons altyd moet verbly.  Ons moet ook in die diepste wanhoop en in die twyfel altyd ons koppe optel en ons verbly in die Here. Dit is ‘n vreugde wat moontlik is wanneer ons die nabyheid van die werklike God en die werklikheid van die nabye God leerken.

Die nabyheid van die Here bepaal tog hoe ek ander mense hanteer.  Dit word sigbaar in die totale instelling van my lewe op die belange van ander. Die woord wat hier gebruik word vir inskiklik beteken welwillendheid, beskeidenheid, tegemoetkomendheid, toegeeflikheid, afsien van eie regte, gebrokenheid. Só moet die gelowige wees teenoor alle mense, nie net teenoor sekere uitgesoektes nie

Dit moet die gelowiges se kenteken word in die wêreld, daardeur moet hulle bekend word.  Só lyk die gemeente wat leef in die bewussyn van die nabyheid van die Here:  bly voor God te alle tye, voor alle mense vriendelik te alle tye.

Ons moet die dinge waaroor ons besorg is en wat ons beangs maak met gebed benader. Die groot dinge wat baie erg is, maar ook die klein goedjies wat ons pla.  Paulus praat van “niks” en “alles”.

Gebed is aanbidding van God, oorgawe aan God.  Neerbuiging van die mens voor God.  Nie ‘n passiewe aanvaarding van omstandighede nie, ook nie ‘n rebellie teen God se wil nie.  Dit gaan hier oor ‘n pynlike eerlikheid voor God.  Om dit wat in jou hart aangaan aan Hom bekend te maak.  Kyk na die Psalms hoe die digter daarvan hulle harte uitstort voor die Here en vra hoe lank Hy nog van hulle gaan vergeet?  Om oop te wees vir dit waarmee God besig is.

Smeking is om eerlik alles van God te verwag, om van Hom alleen afhanklik te wees in alles.  In dankbaarheid, nie omdat Hy elke wens laat waar word nie, maar omdat Hy die beste weet en omdat ons weet dat alles van Hom af kom.

Terwyl besorgdheid ons vreugde en vrede steel en ons dring tot groter en hoër prestasies om geluk te kan “maak”, bring gebed werklik vrede. Dit is nie net ‘n vrede wat ons verwag te bowe gaan nie, maar ook ‘n vrede wat dit wat ons vermag, kan regkry, te bowe gaan.

Hierdie vrede is nie afhanklik van die realiteite van die wêreld nie, die skommeling van wêreldgebeure nie, dit hang nie af van menslike vemoë, tegniese vaardigheid, vroomheid of intelligensie nie, maar is gegrond in die onveranderlike Woord van God. Dit bewaar ons harte en gedagtes teen die aanslae van die wêreld, ‘n vesting waarin ons veilig kan wees en werklik rus kan vind.  Hierdie vrede is net moontlik in Christus, wat as Messias die vrede bring.  Om Hom te ken skep vir my die ruimte waarbinne die vrede daagliks ‘n werklikheid word en waarin ek kan uitsien na die vrede van die ewige lewe.

Alles verander as die Here nader aan ons kom, nader as al die ander dinge wat vroeër so naby aan ons was: ons geluk, ons voorspoed, dit wat ons bedreig, ons bekommer en kwel, dit wat ons bangmaak, ons kanse, ons goeie naam.  As die Here nader as al hierdie dinge kom gaan daar nuwe lewensmoontlikhede oop, moontlikhede waarin ons ons kan verbly!  Selfs daar waar dit te seer en te stukkend gelyk het kom daar nuwe moontlikhede.  Dit is ook nie, ‘n vertoonblydskap of ‘n kortstondige blydskap wat net ‘n rukkie hou nie, maar ‘n blywende blydskap voor die aangesig van die Here wat naby is.

Hoe anders sal ons reageer op dit wat ons nou hier vandag besorg maak as ons dit so met gebed benader?  So vanuit die nabyheid van die Here lewe.  So ons harte oopmaak, aan Hom bekend maak?

Mag jy oor niks besorg wees nie.  Mag die Here nader aan jou wees as al die dinge waaroor jy jou bekommer.  Mag jy jou hart oopmaak met pynlike eerlikheid voor God.  Mag jou oë oop wees vir dit waarmee die Here besig is.  Mag jy werklik vreugde ervaar.  Mag jy werklik vrede ervaar, die vrede wat net van die nabyheid van die werklike God, die werklikheid van die nabye God kan kom, in Christus Jesus, die Messias, Immanuel, God met ons.

Gebed: Ons bid vir ‘n nasie wat saamstaan en omgee, simpatie en meegevoel het vir mekaar ten spyte van al ons verskille en dat dit dan ook verder sal strek as die huidige situasie, maar dat ons sal aanhou voortbou daarop.

Afgesonder Dag 11 – Soek en jy sal vind

Verlede week het ons Matteus se vertelling gelees van die moment waar Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid.  Vandag lees ons hoedat Lukas daardie gebeure beskryf en sien ons dat hy dit nog ‘n bietjie verder vir ons uitbrei.  Maar deur dit te doen bevestig Lukas eintlik so mooi vir ons wat ons reeds by Matteus se weergawe van die Onse Vader geleer het: ons Hemelse Vader is die Beste!

Daarom kan jy gou voor jy verder hier lees, Lukas 11:1-13 gaan deurlees.

In vers 1 lees ons:

Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” 

Die dissipels moes gesien het dat daar iets anders is aan die manier hoedat Jesus bid, anders as waaraan hulle gewoond was en daarom graag wou leer hoe hulle Leermeester dit doen. Hierdie was ook iets wat hulle gereeld moes gesien het want ons lees in Lukas van ‘n klomp geleenthede waar Jesus besig was om te bid, dit was sy manier.  In Lukas 5:16 lees ons dan:

“Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.”

Jesus stel die voorbeeld! Ons moet ook so maak, só met die Here praat, só afhanklik wees van Hom, só tyd spandeer met Hom.

Wanneer Jesus sy dissipels leer om God as Vader aan te spreek was dit iets nuuts.  Die beeld van God as Vader was nie vreemd in die Ou Testament nie, ons ken bv. Ps 103:13 mos baie goed:

Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.”

Dit word egter nou meer as net ‘n vergelyking, manier om God te beskryf, dit word nou die verhouding en die manier hoe ons met Hom kommunikeer. Uit hierdie verhouding verduidelik Jesus hoe gebed werk.

Die Here gebruik dan twee beelde (gelykenisse) om die dissipels iets te leer oor gebed, maar ook oor God, oor die Vader, oor hierdie verhouding met Hom. In altwee beelde gebruik Hy dieselfde formule: As ‘n mens dit kan doen (ons kan daarmee vereenselwig, dit verstaan) die Vader sal dit SOVEEL meer doen, want Hy is nie soos ‘n mens nie!

Die Here vertel hierdie gelykenissie nie net om iets te sê oor volharding in gebed nie, maar oor die Vader wat ons aanbid.   Dit is nie om te wys dat die Here eintlik onwillig is om ons gebede te verhoor en dat ons daarom moet volhard in gebed nie, maar kontrasteer juis die mens se onwilligheid teenoor die Vader se gewilligheid!

As ‘n buurman selfs al is hy onwillig, ‘n vriend help wanneer hy vra vir hulp, hoeveel te meer sal die Vader nie gewillig wees om ons te help wanneer ons dit van Hom vra nie.  Dit beklemtoon juis dat ons maar kan aanhou om die Here te vra vir dit wat ons nodig het omdat Hy juis gewillig is om ons te antwoord.  Die Here nooi ons uit om na Hom toe te kom met ons nood, ons behoeftes, selfs op tye wat onvanpas mag lyk.  Hy is ‘n gasheer wat altyd beskikbaar is!  Psalm 23:5-6  herinner ons daaraan:

“U laat my by ’n feesmaal aansit,terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Om in gebed te volhard is belangrik, nie omdat die Vader onwillig is en oortuig moet word nie, maar omdat gebed ‘n intieme verhouding met die Vader kweek/ontwikkel – Dit wat ons die meeste nodig het is nie dat al ons gebede verhoor word nie, dit wat ons die meeste nodig het is God self!

So sê Hy dan met die tweede gelykenis: God die Vader is beter as aardse ouers. En gebruik weer dieselfde formule: As aardse ouers, met al hulle foute, nie vir hulle kinders dinge sal gee wat vir hulle sleg is nie, hoeveel te meer sal die Vader nie vir sy kinders net dit gee wat goed is nie?

Die Here beskryf in vers 9 se uitnodiging so presies raak hoe ons harte werk (Hy ken ons!) en breek ons gebede op in drie maniere waarmee ons ons behoeftes aan die Here bekend maak:

  1. Ons vra vir dit waarvoor ons wens,
  2. ons soek na dit wat ons mis en
  3. ons klop vir dit wat ons voel vir ons toegesluit is.

Die punt van die illustrasie is dat die Vader vir ons gee wat goed is!  Partykeer is die slegste ding wat die Here vir ons kan doen om ons selfsugtige gebede te verhoor.  Dit wat Hy hier belowe beteken nie dat ons altyd gaan kry wat ons wil hê nie, maar dat Hy vir ons sal gee dit wat ons nodig het en dat dit wat God gee altyd goed is.

Ons kan nie die Vader dwing om vir ons net te gee wat ons wil hê, dinge wat nie vir ons goed is nie.  Maar ons kan na Hom toe gaan met enige behoefte, op enige tyd, soveel keer as wat ons wil. Die ongelooflike van gebed is daarom nie dat ons altyd ‘n spesifieke antwoord kry op ons versoeke nie, maar dat ons tyd met die Vader spandeer het. Ons moet aanhou vra, aanhou soek, aanhou klop, nie om die Here te oortuig of om Hom van onwillig na gewillig te probeer verander nie, maar om van Hom afhanklik te wees, om te bely hoe graag ons wil hê dat sy Wil moet geskied.

Hy is gewillig om jou gebed te verhoor, Hy wil vir jou gee wat jy nodig het, Hy wil vir jou sorg.  Geen hoeveelheid woorde of herhalings van gebede gaan die Vader oortuig om vir jou iets te gee wat vir jou sleg kan wees nie.  Die Beste wat ons as kinders van die Here uit gebed uit kry is nie die waarword van al ons wense nie maar ‘n dieper verhouding en ‘n dieper afhanklikheid van God.

Mag jy vra en ontvang: Meer as wat jy ooit kan wens, meer as wat jy ooit na kan verlang, meer as wat jy ooit kan dink vir jou beskore kan wees.

“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.” – Efesiërs 3:20-21

Gebed: Ons bid vandag vir elke ouer, kind, familielid en vriend regoor die wêreld wat reeds geliefdes aan die dood moes afstaan a.g.v. die virus.