Afgesonder Dag 15 – Hy lê sy lewe af

Goeie Vrydag.  Op hierdie dag word ons gevul met vrede en dankbaarheid en kan ons werklik sê dit is en sal altyd ‘n Goeie Vrydag wees omdat ons weet wat op hierdie dag gebeur het.  Ons is verlos! Genade, onbeskryflik groot! Die prys is betaal!

Maar wat is daardie prys?  Vir ons is dit Goeie Vrydag, slegs omdat dit vir Jesus die slegste Vrydag was.  Lees gerus Markus 15 deur. Die verskrikking en pyn van daardie dag het vir ons vrede en lewe gebring.  Dit moet ons weer opnuut besef dat Hy ONS straf gedra het, dat Hy IN ONS PLEK gesterf het.  Hy het dit nie verdien nie. Niemand kon dit aanskou en vinger wys en sê: “Ja lekker, kry vir jou! Jy wou mos!” nie.  Want Hy het niks daarvan verdien nie.  Maar Hy het dit gedoen juis sodat daar nie na ons vinger gewys kan word nie, dat ons die straf kan vryspring.

Behalwe vir die fisiese pyn en lyding wat Hy moes deurgaan, dink ek, moes die pyn van om die skuld te kry vir iets wat Hy nie gedoen het nie, alreeds erg genoeg gewees het.  Om onskuldig te wees en nog skuldig bevind en tot die dood gevonnis te word.

Dit is hier waar die genade inskop. Waar Liefde, bo ons verstand, geopenbaar word.  Dat Hy sy lewe vir ons aflê.  Dat die Koning van die konings, wat al die mag het, kies om aan te hou, kies om deur te druk.  Natuurlik kon Hy die lyding gestop het. Natuurlik kon Hy van die kruis afgeklim het.  Maar Hy kies om sy lewe af te lê vir jou.

Het jy al mooi gedink oor wat daar gebeur het? Verby die woorde op die papier gekyk en gedink oor die fisiese gebeure? Hy is beskuldig en gespoeg en gespot en gevloek en geslaan.  Hulle het ‘n doringkroon op sy kop gesit en dit met stokke dieper ingeslaan.  Dink aan hoe dit moes gebloei het – ‘n kop wond bloei tog verwoed!

Hulle het hom met ‘n kats geslaan.  Nie ‘n gewone sweep nie.  Die ding het klomp lang rieme gehad en dan het hulle allerhande swaar ystertjies en skerp beentjies daarin gevleg.  Die swaar goed het die vel gekneus totdat die skerp goed die vel binnegedring het en vasgesteek het.  Dan het die romeinse soldaat weer die kats losgeruk en weer geslaan.

Die groot houtbalk, die kruis, vol splinters, moes Jesus op sy rou geslaande rug tel en dit self Golgota toe dra.  Daar het hulle die spykers deur sy polse geslaan.  Nie deur sy palms nie, deur die pols sodat dit nie uitskeur nie.  En die ander spyker deur sy voete.  Daar moes Hy hang, kaalgestroop en verneder.

Hoe ‘n gewone kruisiging dan gewerk het is dat die persoon se asem opgeraak het en hy homself moes optrek aan die spykers deur sy hande en stut op die spyker deur sy voete om weer asem te kry.  Totdat hy dit nie meer kon hou nie en dan weer gehang het tot hy nie meer kon asem key nie.  So het dit aangehou totdat die persoon op die ou end versmoor het. Sonder asem.

Maar dan lees ons in Markus hoofstuk 15 vers 37 hierdie woorde:

Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.”

Jesus het nie sommer net versmoor nie, ‘n mens het asem nodig om te kan hard uitroep!  Hy het nie sommer net gesterf nie – Hy het sy lewe vir ons afgelê!  Hy DOEN dit. God is hier besig.  Hy red ons met sy REGTERHAND!  Daarom kan ons vrede hê, daarom kan ons lewe hê, daarom kan ons vry wees, en wáárlik vry wees!

Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader. (Fil 2:9-11)

Mag jy hierdie Goeie Vrydag opnuut ontdek hoe oneindig groot die genade van die Here vir jou is.  Dat die prys betaal is en dat jy vry is.

Onthou: Die Here is lief vir jou!