Vandag lees ons die bekende woorde van Filippense 4:4-7. Hier is die 1983 vertaling:
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Die teks praat van vreugde en vrede en ons fokus so graag daarop, maar ons kyk die grond waarop dit staan mis. Die vreugde en die vrede waarvan Paulus hier praat staan en val by die wete dat die Here naby is! Die nabyheid van die Een wat gekom het, een van ons geword het, vir ons gesterf het, en wat weer gaan kom, het ‘n invloed op die totale lewe van die mens. Dit beïnvloed die glimlag op ons lippe en die gesteldheid van ons harte.
Hierdie blydskap is nie ‘n toestand van geestelike vervoering of a.g.v. ‘n meevallertjie wat jy gekry het nie. Dit is nie maar net ‘n houding van “keep smiling” wat jy inneem nie. Dit is ‘n opdrag wat gegrond is in die werklikheid van die allesveranderende nabyheid van die Here. Die opdrag gaan verder as dit deur te sê dat ons ons altyd moet verbly. Ons moet ook in die diepste wanhoop en in die twyfel altyd ons koppe optel en ons verbly in die Here. Dit is ‘n vreugde wat moontlik is wanneer ons die nabyheid van die werklike God en die werklikheid van die nabye God leerken.
Die nabyheid van die Here bepaal tog hoe ek ander mense hanteer. Dit word sigbaar in die totale instelling van my lewe op die belange van ander. Die woord wat hier gebruik word vir inskiklik beteken welwillendheid, beskeidenheid, tegemoetkomendheid, toegeeflikheid, afsien van eie regte, gebrokenheid. Só moet die gelowige wees teenoor alle mense, nie net teenoor sekere uitgesoektes nie
Dit moet die gelowiges se kenteken word in die wêreld, daardeur moet hulle bekend word. Só lyk die gemeente wat leef in die bewussyn van die nabyheid van die Here: bly voor God te alle tye, voor alle mense vriendelik te alle tye.
Ons moet die dinge waaroor ons besorg is en wat ons beangs maak met gebed benader. Die groot dinge wat baie erg is, maar ook die klein goedjies wat ons pla. Paulus praat van “niks” en “alles”.
Gebed is aanbidding van God, oorgawe aan God. Neerbuiging van die mens voor God. Nie ‘n passiewe aanvaarding van omstandighede nie, ook nie ‘n rebellie teen God se wil nie. Dit gaan hier oor ‘n pynlike eerlikheid voor God. Om dit wat in jou hart aangaan aan Hom bekend te maak. Kyk na die Psalms hoe die digter daarvan hulle harte uitstort voor die Here en vra hoe lank Hy nog van hulle gaan vergeet? Om oop te wees vir dit waarmee God besig is.
Smeking is om eerlik alles van God te verwag, om van Hom alleen afhanklik te wees in alles. In dankbaarheid, nie omdat Hy elke wens laat waar word nie, maar omdat Hy die beste weet en omdat ons weet dat alles van Hom af kom.
Terwyl besorgdheid ons vreugde en vrede steel en ons dring tot groter en hoër prestasies om geluk te kan “maak”, bring gebed werklik vrede. Dit is nie net ‘n vrede wat ons verwag te bowe gaan nie, maar ook ‘n vrede wat dit wat ons vermag, kan regkry, te bowe gaan.
Hierdie vrede is nie afhanklik van die realiteite van die wêreld nie, die skommeling van wêreldgebeure nie, dit hang nie af van menslike vemoë, tegniese vaardigheid, vroomheid of intelligensie nie, maar is gegrond in die onveranderlike Woord van God. Dit bewaar ons harte en gedagtes teen die aanslae van die wêreld, ‘n vesting waarin ons veilig kan wees en werklik rus kan vind. Hierdie vrede is net moontlik in Christus, wat as Messias die vrede bring. Om Hom te ken skep vir my die ruimte waarbinne die vrede daagliks ‘n werklikheid word en waarin ek kan uitsien na die vrede van die ewige lewe.
Alles verander as die Here nader aan ons kom, nader as al die ander dinge wat vroeër so naby aan ons was: ons geluk, ons voorspoed, dit wat ons bedreig, ons bekommer en kwel, dit wat ons bangmaak, ons kanse, ons goeie naam. As die Here nader as al hierdie dinge kom gaan daar nuwe lewensmoontlikhede oop, moontlikhede waarin ons ons kan verbly! Selfs daar waar dit te seer en te stukkend gelyk het kom daar nuwe moontlikhede. Dit is ook nie, ‘n vertoonblydskap of ‘n kortstondige blydskap wat net ‘n rukkie hou nie, maar ‘n blywende blydskap voor die aangesig van die Here wat naby is.
Hoe anders sal ons reageer op dit wat ons nou hier vandag besorg maak as ons dit so met gebed benader? So vanuit die nabyheid van die Here lewe. So ons harte oopmaak, aan Hom bekend maak?
Mag jy oor niks besorg wees nie. Mag die Here nader aan jou wees as al die dinge waaroor jy jou bekommer. Mag jy jou hart oopmaak met pynlike eerlikheid voor God. Mag jou oë oop wees vir dit waarmee die Here besig is. Mag jy werklik vreugde ervaar. Mag jy werklik vrede ervaar, die vrede wat net van die nabyheid van die werklike God, die werklikheid van die nabye God kan kom, in Christus Jesus, die Messias, Immanuel, God met ons.
Gebed: Ons bid vir ‘n nasie wat saamstaan en omgee, simpatie en meegevoel het vir mekaar ten spyte van al ons verskille en dat dit dan ook verder sal strek as die huidige situasie, maar dat ons sal aanhou voortbou daarop.