Afgesonder Dag 13 – Ons berei voor vir Paasnaweek

Ons verskuif vandag bietjie ons fokus na Paasnaweek en ons voorbereidings om dit saam te kan vier.  Ons gaan probeer om sover moontlik te hou by ons beplanning soos op ons kalender – al doen ons dit nie saam bymekaar nie, kan ons dit darem nog saam doen, al is dit apart.  Ter voorbereiding kan jy solank vandag Markus 14:12-25 in al die vertalings tot jou beskikking deurlees.

So ons beplanning lyk so:

  • Donderdag 9 April “kom ons bymekaar” om 18:30 vir ons “Vissie-en-Broodjie Aand” om Heilige Donderdagaand te vier.
  • Sondag 12 April hou ons saam Paasontbyt om 6:00 en kyk hoe die son opkom. En ons erediens begin dan om 7:00.

Donderdag

Die idee agter “Vissie-en-Broodjie Aand” is dat dit ‘n “bring wat jy het”-ete is. Soos die seuntjie net gebring het wat hy het met die vissies en broodjies waarmee Jesus die skare kos gegee het (Joh 6:9).  So dit gaan nie oor om dieselfde kos te eet as wat Jesus saam met sy dissipels daardie aand geëet het nie, maar dat ons SAAM kan eet en elkeen bring wat hy het.  En dat ons dan so saam aan tafel kan wees en “terwyl ons eet” (Mark 14:22) dan kan oorgaan na die Nagmaal en dit saam kan gebruik.

So sien ons altyd by hierdie ete hoedat die Here sorg en dat daar altyd meer as genoeg kos vir almal is. En boonop het ons verlede jaar die wonderwerk van die “Vermeerdering van die tafels en stoele en spasie” beleef toe ons net nog en nog en nog moes uitpak omdat daar net meer en meer mense ingekom het!

So kom ons doen dit nog steeds. Dat jy môre aand saam met jou mense wat saam met jou in afsondering is, daar by die huis die tafel dek en saam eet en saam Nagmaal gebruik.  Dit hoef m.a.w. nie vissies en broodjies te wees nie, en hoef ook nie te lyk asof dit uit Nigella se nuutste kookboek ontsnap het nie.  Onthou die gedagte is: bring wat jy het! En ons almal se koskaste lyk mos nou maar tydens die Lockdown self bietjie anders en meer ingeperk as gewoonlik. Dit gaan eerder oor die SAAM aan tafel wees as oor wat ons spesifiek gaan eet.

Daar sal dan teen 19:00 môre ‘n spesiale Heilige Donderdagaand video-boodskap beskikbaar wees, wat julle as gesin saam kan kyk met riglyne dat ons almal saam Nagmaal kan gebruik.  Gebruik asb. ook dit wat jy in die huis het (of as jy nog druiwesap by die Spar kan kry, moenie wyn probeer koop nie!) vir die Nagmaal en moenie bekommer as jy nou nie “regte” Nagmaalwyn en brood het nie.  Dit gaan nie oor spesifiek die wyn en die brood nie, maar oor wat dit beteken en simboliseer – Jesus se bloed wat vir ons gevloei het en sy Liggaam wat vir ons gebreek is. Dáárop wil ons fokus!

Deel dan groot asb. met ons ‘n foto van julle ete saam. En weereens dit hoef nie professioneel te wees nie, sommer ‘n selfie (of ‘n “onsie”). Eintlik soek ons net ‘n foto van JULLE saam aan tafel of waar julle saam sit om Nagmaal te gebruik sodat ons so in mekaar se vreugde kan deel. Ons sal dan al die foto’s mooi bymekaar sit en dit met almal op ons Facebook deel.

So om op te som vir Donderdag:

  • 18:30 – Kuier en eet saam met jou mense aan tafel.
  • 19:00 – Skakel aanlyn in vir die boodskap en die Nagmaal en gebruik dit saam.
  • Deel met ons ‘n foto op Facebook of via WhatsApp.

Sondag

Sondag volg ons dieselfde plannetjie.  Staan lekker vroeg op en eet 6:00 saam met jou mense ontbyt.  Die son kom blykbaar al 6:22 op.  Ons kyk dan almal saam, daar waar ons is, hoe die son opkom. En ons onthou, soos wat die nuwe dag aanbreek, daardie oggend vroeg hoedat die vrouens die leë graf ontdek het en daar vir ons ‘n nuwe dag, Nuwe Lewe, aangebreek het omdat Jesus die dood oorwin het!

Om 7:00 Sondagoggend sal die Paassondag erediens dan aanlyn beskikbaar wees vir jou en jou mense om in te kan deel.  Deel dan weereens met ons ‘n foto van julle wat saam ontbyt eet of van hoe die sonsopkoms daar van jou huis af lyk.

Hoop jy is saam met my opgewonde om Paasnaweek te vier! Kom ons deel dit sover moontlik met mekaar en bring eer aan die Koning van konings wat vir ons gesterf het.

En onthou: die Here is by jou!