Vlak 4 Dag 1 – Julle wou my kwaad aandoen

Die verhaal van Josef (die een met die veelkleurige baadjie) is ‘n verhaal van God se sorg en getrouheid.  As mens so vinnige oorsig oor die grootste gebeure in sy lewe doen, dan lyk dit eintlik meer soos moeilikheid as geluk.  Sy broers het nie van  hom gehou nie en hom in ‘n put gegooi.  Hulle wou hom eintlik doodmaak.  Maar toe word hy verkoop as ‘n slaaf en weggevoer na ‘n vreemde land.  Daar in Egipte word hy vals beskuldig en in die tronk gegooi.

Maar op verskeie plekke in Genesis 37-50 lees ons hierdie woorde: “Die Here was by Josef…”  Die Here het nooit vir Josef gelos nie. Inteendeel Hy het ‘n baie groter plan met hom gehad.

Later sien ons waarom Josef as ‘n slaaf na Egipte toe moes gaan.  Hy word in Egipte die onderkoning en is in beheer van die kosvoorsiening vir die hele land.  Toe daar hongersnood uitbreek kom sy broers en op die ou end sy hele familie na Egipte en word hulle, deur Josef (deur God se plan) gered van die hongersnood.  Die hele volk van God bly behoue as gevolg van hierdie gebeure.

Josef bevestig presies dit wanneer hy in Genesis 50:20 vir sy broers sê:

Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.

Waar bevind jy jouself in jou eie verhaal?  Waar bevind ons onsself nou in ons eie geskiedenis?  Wat is die groter prentjie?  Waarmee is die Here besig? Dinge mag dalk donker lyk en dit mag dalk voel of mense bose bedoelings het, maar ons God is groter, sy plan is groter.  Loof die Here want Hy is goed! Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Uitgestel Dag 14 – Ek wed jou…

Gewoonlik as mens die woorde “ek wed jou” of “ek dare jou” hoor dan moet jy weet, hier kom nou die een of ander vorm van moeilikheid. Die arme profete van Baäl moes ook geweet het daar is moeilikheid toe Elia na soveel jare weer sy opwagting maak in 1 Konings 18.  Maar hulle kon nie Elia se weddenskap weerstaan nie.

In vers 21 stel Elia die volk voor die keuse: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” En dan gaan hy verder om die 450 profete van Baäl uit te daag.  Twee bulle. Twee altare.  Die een wie se god met vuur antwoord, is waarlik God.

Dit moes ‘n vreeslike affêre gewees het om te sien hoe die 450 profete van die môre tot die aand te kere gaan om ‘n dooie, mensgemaakte god te kry om vuur uit die hemel te stuur.  Naderhand het Elia hulle begin spot (vers 27): “Roep harder! Hy is mos ‘n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” Hulle het nog erger aangegaan en nog steeds niks.

Toe bid Elia ‘n eenvoudige gebed. En sien ons die mag van die Here. Nadat die altaar driekeer met water natgegooi is lees ons in vers 38: Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

Dalk moet hierdie gebed van Elia ook ons gebed word, wat ons elke dag oor en oor kan bid.  Nie sodat ons die Here se arm kan draai vir vuur uit die hemel nie, maar dat die wêreld kan sien Wie God is en dat ons, en elkeen, se harte weer na die Here toe kan bekeer.

Ons lees die gebed in 1 Konings 18 vers 36 en 37:

“Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

Uitgestel Dag 13 – Slaap die Here dan?

Toe die dissipels daar in Markus 4:35-41 op die see in die storm vasgevang was kon hulle eintlik nie glo wat hulle sien nie.  Ons lees in vers 38:

Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

Maar Jesus staan op en bewys dat Hy God is!  Hy sê vir die wind en die golwe om op te hou en te bedaar, en dadelik het dit gebeur.  Sien, net God praat en dit gebeur.  Onthou Genesis 1:3 – “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”  Jesus praat en dit gebeur, vers 39:

Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”
Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom.”

Dan vra Jesus vir hulle waarom is hulle so bang en of het hulle dan nie geloof nie.  Hy, Jesus, die Lewende en die Almagtige, is by hulle in dieselfde boot! Dit moes vir hulle genoeg gewees het.  Om te weet dat Hy by hulle is.  Hulle moes geweet het dat Hy groter is as die storm.

Die Here is by ons, in hierdie boot, in hierdie strom.  En ons sou ook die dissipels se vraag van vers 41 kon vra en ons sou dieselfde antwoord kry – Hy is God en Hy is by ons!

Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Uitgestel Dag 12 – Laat redding reën

Onthou jy nog vir Kores? Kores die Grote was die outjie wat homself die koning van die konings genoem het.  Die koning van die Perse, die grootste wêreldmag in die geskiedenis.  Dit is sy Persiese mag wat ook vir Babel platgevee het en dit is hy wat toestemming gegee het dat die volk uit hul ballingskap kon vrykom en terugkeer na Jerusalem.

Maar hy, so groot en magtig as wat hy ookal was, was net ‘n pion in die Hand van die Almagtige.  Alles wat hy bereik het is deur die Here beskik vir sy Eer en vir die bevryding van sy volk.  Sien ons God is nie net in beheer van die natuur en die sterre in die hemel en die reën wat so lekker daar buite val nie.  Hy is in beheer in elke aspek van die wêreld se geskiedenis en kan Hy selfs ‘n ongelowige koning kies en salf om sy Wil te doen.

Waarlik ons God is die enigste, lewende God en Hy hou alles in sy Hand.  Aan Hom kom al die eer toe! Hoor wat sê die Here in Jesaja 45:1-8 hieroor:

So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores,
vir wie Hy as heerser aangestel het,
aan wie Hy nasies onderwerp
en voor wie Hy konings hulle wapens laat neerlê,
voor wie Hy deure oopmaak
en poorte nie gesluit laat bly nie:
Ek self sal voor jou uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
Ek sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.
Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat jy kan weet dat Ek die Here is,
dat Ek jou op jou naam geroep het,
Ek, die God van Israel.
Ter wille van my dienaar Jakob,
van Israel wat Ek uitverkies het,
het Ek jou op jou naam geroep,
gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie.
Ek is die Here, daar is geen ander nie,
buiten My is daar geen God nie.
Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie.
Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af
tot in die weste kan weet
dat daar buiten My geen God is nie;
Ek is die Here, daar is geen ander nie.
Ek maak die lig en skep die donker;
Ek gee voorspoed en skep rampspoed.
Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.
Laat die reën uitsak, hemel,
laat redding reën, wolke,
breek oop, aarde, laat voorspoed ontkiem,
laat trou uitspruit.
Ek is die Here, Ek skep hierdie dinge.

Uitgestel Dag 11 – Sonder die Vader

In Matteus 10:29 lees ons hierdie bekende woorde:

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie”

Woorde wat die Here Jesus sê om vir ons te herinner dat ons nie hoef bang te wees nie. Maar as ons so bietjie aan die woorde krap soos hulle hier in die 1983 vertaling staan, dan kan ‘n mens tog wonder of wil die Vader dan hê die mossies moet val?

As ons in ‘n Engelse vertaling lees dan klink dit so:

“But not a single sparrow can fall to the ground without your Father knowing it.”

Dit is waar, maar tog laat dit ook ‘n mens wonder – want beteken dit Hy weet dat die mossies val, maar Hy doen niks daaraan nie?

Die Ou Vertaling help ons, omdat dit die naaste is aan wat in die oorspronklike Grieks daar staan:

En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.

Mossies mag dalk val, maar die Vader is DAAR! Hy is by ons teenwoordig, selfs al val ons, is Hy by ons.

Dit bring vir ons troos (vers 30-31):

“Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”