Vlak 4 Dag 19 – Liewer laat as nooit
Ons het tog sekerlik almal al nie net hierdie uitrdukking gehoor nie, maar dit ook al self gebruik. Party keer is dit ‘n verligting en ander kere net ‘n groter frustrasie om daardie vier woorde te hoor: “Liewer laat as nooit!” Maar dit hang seker af van die situasie en van aan watter kant van die woorde jy jouself bevind.
Iets wat in die dae waarin ons leef nou weer skielik deel word van ons lewens is om te wag. In ‘n wêreld waar alles onmiddelik moet gebeur is ons nie meer gewoond daaraan om te wag nie. Kos, videos, boodskappe, oproepe, take, resultate – deesdae soek ons dit alles onmiddelik, want ons het mos nou die tegnologie wat veronderstel is om dit moontlik te maak. Maar nou terwyl ons in Lockdown is, is dinge nie meer so onmiddelik beskikbaar soos altyd nie. En dit maak ons onrustig en ongeduldig. Dalk is dit tog nie so slegte ding nie. Dalk leer ons weer iets van die waarde van tyd. Van tyd saam met mekaar. Tyd saam met die Here. Van geduld en die groei wat plaasvind in die tyd wat ons wag. En dalk het dit juis die teenoorgestelde uitwerking, dat ons juis weer ontdek dat ons, as ons net so nou en dan bietjie briek aan draai, méér tyd het vir die mooier en dieper dinge – vir mekaar, vir rus, vir gebed.
Abraham was iemand wat wag geken het. Die Here het aan hom groot beloftes gemaak, wat natuurlik Abraham se hele lewe verander het. Maar hy moes lank wag, en baie lank wag vir ‘n belofte wat te goed geklink het om waar te wees, om mee te begin. Natuurlik het hy ongeduldig geraak en daardie ongeduld het hom in die sop laat beland. Hy moes 25 jaar wag vir die belofte van ‘n nageslag om waar te word met Isak se geboorte. Kan jy dink jy moet 25 jaar wag vir iets wat jy weet jy gaan kry om waar te word…?
Maar wat ons by Abraham kan leer is dat die Here getrou bly, selfs al is ons ontrou. Die Here bly getrou al vat dit lank. Die Here bly getrou al lyk dit onmoontlik. Die Here bly getrou al verstaan ons nie. Die Here hou sy beloftes!
In Genesis 17:7 lees ons dat die Here sê:
“Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.”
En daardie selfde verbond hou Hy nog in stand, vir ons en ons nageslag. Hy is ons God en ons is syne! Ons kan op Hom vertrou. Al beteken dit soms dat ons bietjie moet wag…
Vlak 4 Dag 18 – Evangelie
Watter emosie kom by jou op as jy die woord “Evangelie” hoor? Of het die woord te veel deel geword van ons algemene “kerlike” spreektaal, dat ons vergeet het wat dit werklik beteken en daarmee saam ons emosionele konneksie aan die woord verloor het? Ons gebruik die woord dalk te maklik om te verwys na die Evangelies in die Nuwe Testament of na dit wat ons veronderstel is om te verkondig, of selfs om iets te beskryf wat volgens ons die “regte” waarheid is.
Die woord “evangelie” beteken “Blye Boodskap” of “Goeie Nuus”. Jesus is daardie Goeie Nuus. Die Evangelie is die boodskap van God se goeie nuus – die boodskap van oneindige liefde en ewige lewe! Daarom kan ons nie aanhou om maar net gevoelloos met hierdie woord om te gaan nie, maar moet weer ontdek dat ons oor die evangelie kan bly wees en juig. En kan ons weet dat daar waar daar soveel slegte nuus en gerugte van slegte dinge is, oor dit alles troon die Goeie Nuus: niks kan ons van die liefde van God skei nie!
Kan jy dink watter emosioneel gelaaide dag dit moes gewees het daar in die sinagoge in Nasaret toe die Here Jesus daar aangekom het en uit die boek van Jesaja voorgelees het (Luk 4:18-21):
Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”
Mag die Evangelie jou ook vul met blydskap en vreugde – soveel so dat dit oorborrel na almal om jou en jy nie anders kan as om ook vir hulle die Goeie Nuus te wil vertel nie.
Vlak 4 Dag 16 – ‘n Boom by Water
In Jeremia 17:7-8 lees ons hierdie woorde:
Kyk mooi wat dit sê. Dit is nie sommer net ‘n leë belofte wat te goed klink om waar te wees nie. Dis nie dat die boom nou in ‘n beskermende borreltjie weggesteek is en nie meer aan die elemente blootgestel word nie. Nee, die winter gaan kom, die droogte en die hitte gaan nog steeds kom. Maar binne in dit alles sal die Here sorg. Genoeg dat die boom nog kan aanhou om vrugte te dra. Winter, somer, droogte of reën, oorvloed of tekort – die Here sorg.
Mag jy ook jou vertroue in die Here stel en elke dag beleef dat Hy jou veilige vesting is!
Vlak 4 Dag 15 – Onophoudelik
Hoe verlang ons nie daarna om weer as gemeente saam te kan sing tot eer van die Here nie? Al kan ons dit ook alleen doen, en dit op enige plek doen, is daar darem net iets daaraan om dit so saam met ons medegelowiges te kan doen. Wanneer ons saam ons stemme voeg en met een hart saam aan die Koning lof bring. Wat ‘n wonderlike voorreg. Loof die Here dat Hy vir ons musiek gegee het om Hom mee te kan loof en aanbid!
Maar nou gaan dinge moeilik. Want nou kan ons nie bymekaar wees nie, en daai YouTube videos kan ook net sover gaan. Hoe loof ek dan nou die Here sonder musiek? Het ons nie dalk te gewoond geraak aan die idee dat wanneer die Bybel vir ons die opdrag gee om die Here te loof dat dit altyd met sang en musiek gepaard moet gaan nie?
Ons kan natuurlik Hom ook loof in gebed, uit ons harte, sonder musiek, sonder begeleiding. Wanneer ons sy grootheid in die mense en die natuur en sy sorg rondom ons beleef kan ons vir die Here dankie sê. Ons moet nie net van Hom praat nie, ons moet ook MET Hom praat.
Die Here vra egter meer van ons. Hy vra ons harte, ons gedagtes, ons woorde, ons dade, ons hele lewens. Laat ons hele lewens en alles wat ons doen ‘n loflied tot eer van die Here wees. In ons werk, ons ontspanning, in elke verhouding, diep en oppervlakkig, met ons gawes en talente, selfs in die fynste detail van ons dag – ook daar waar niemand anders ons sien nie.
Hebreërs 13:15, waarna ons nou al verskeie kere in die erediens na verwys het, help ons hier. Dit sluit natuurlik lofprysing met musiek ook in, en doen ons dit ook wanneer ons sing, maar dit gaan hier oor om sy Naam te bely:
Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring,
dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.
Wanneer ons aanhou om van Hom te getuig, dan bring ons aan Hom lof. Wanneer ons vertel van sy magtige dade en oneindige liefde. Ons kan dit nie vir onsself hou nie. Die volgende vers, vers 16, vat dit nog ‘n stappie verder. Mag dit ook ons elkeen se lofoffer wees:
Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie,
want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.
Vlak 4 Dag 14 – Weggesteek
Daar is alhoemeer gerugte wat rondloop oor wat agter die skerms van die pandemie aan die gang is. Dat mense voel daar is dinge wat nie gesê word nie, die waarheid verdraai word, feite wat toegesmeer word, syfers wat weggesteek word. Mag die Vader ons seën met onderskeidingsvermoë om te kan onderskei wat die waarheid is.
Dit is natuurlik frustrerend om in die donker gelaat te word, om nie te weet nie. Om iets te soek en dit nie te kan kry nie. Om te voel jy word om die bos gelei. Dit het ‘n invloed op ons gemoed, op ons besluitneming, ons beplanning, die lengte van ons humeurtjies se draadjies…
Dit is amper onmoontlik om regtig te bepaal wat ons alles nie weet nie, wat alles vir ons weggesteek word. Wat ons wel kan doen is om aan die Waarheid vas te hou!
Ons kan bid en soos Psalm 17:8 uitroep:
Ons kan hoop skep in die wete dat niks vir God verborge is nie, soos Psalm 139:11-12 vir ons sê:
En dan moet ons ook onthou dat ons in hierdie donker tyd, en elke ander tyd (tydig en ontydig!) self ‘n verantwoordelikheid het. In Matteus 5:14 sê die Here Jesus hierdie woorde:
“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”