Verlange Dag 1 – Soos ‘n wildsbok
Ons ken die woorde van Lied 163 – Soos ‘n wildsbok – so goed. Natuurlik is die lied na aanleiding van Psalm 42 geskryf. Waarna smag jy? Ek los die woorde van die 1983 vertaling van psalm vir jou hier. Lees dit. Bid daaroor. Lees dit weer. In soveel vertalings as waarop jy jou hande kan lê. Lees dit weer. Bid weer daaroor. Mag die woorde ook waar wees van ons harte.Vir die koorleier. ‘n Gedig van die Koragiete.
Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?
Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan
hoe ek opgetrek het na die woonplek van God,
voor ‘n skare uit na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang – ‘n skare wat feesvier.
Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.
Hy is my helper en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied, van Hermonberg,
van die Kleinberg af
waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
Tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag ‘n lied vir Hom sing,
‘n gebed tot die God van my lewe.
Ek wil vir God sê:
“My Rots, waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”
Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.
Hy is my helper en my God!
Lofprysing Dag 9 – Grootheid
In Efesiërs 1:3-14 herhaal Paulus drie keer die opdrag “Daarom moet ons sy grootheid prys” (vers 6, 12 en 14). Lees gerus die hele stuk by jouself deur. Maar wat is hierdie “daarom” waarvan hy praat?
Die daarom is dit wat ons in Christus ontvang het. Dit wat God deur Christus gedoen het. Wie ons is in Christus.
Deur dit wat Christus gedoen het:
- is ons geseën met al die geestelike skatte wat daar in die hemel is
- is ons uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees
- het God ons as sy eie kinders aangeneem
- is ons verlos
- het Hy sy Wil aan ons bekend gemaak en dit tot uitvoering te bring
- het ons deel van God se volk geword
- het ons die waarheid ontvang en geglo
- is ons tot eiendom van God gemerk met die Heilige Gees wat die waarborg is dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het
Kyk na die werkwoorde wat Paulus gebruik: ons is geseën, uitverkies, bestem, verlos, vergewe, beseël. Dit is wat die Here doen! Daarom moet ons sy grootheid prys!
Lofprysing Dag 8 – Lawaai
Ons ken die woorde van “Loof Hom met die tromme” so goed. Ek onthou nog hoe ons dit in die kinderkrans saam gesing het en die woorde altyd skeef uitgekom het. Die “harp” het meeste van die tyd as “hart” uitgekom. En die koortjie het meer soos volg geklink: “AAAlles wat ASSEM het, loof die Jee-re!” Gelukkig hoor die Here ons harte agter die woorde wat ons sing!
Die lied is natuurlik gebou op Psalm 150:
Nou begin ons iets verstaan van wat in die psalm aan die gang is. As ons al die stemme en al die instrumente bymekaar sit het ons ‘n oorverdowende loflied met ongekende volume wat die Here loof. Mag dit wat ons doen, die manier hoe ons die Here loof, met ons musiek, met instrumente, met ons stemme, met ons dade, ons verhoudings, ons liefde vir mekaar, ons lewens, ‘n onmisbare loflied tot eer van die Here wees. ‘n Lied waarvan die volume nie afgedraai kan word nie en wat werklik kwalifiseer om ‘n Halleluja genoem te word. Met ons hele hart, met alles wat ons is.
Lofprysing Dag 7 – Bosveld Halleluja
Een van ons gemeente se Geloofsgewoontes is Verheerlik die Skepper, en die verse wat o.a. daarmee saamgaan, wat ook op ons banier staan is Psalm 96:11-13. Dit sê:
Ons hoor ook hier dit wat ons gister in Psalm 103 gehoor het: die hele skepping loof die Here. Maar nou kom dit bietjie nader aan ons eie lywe as ons ons koppe oplig en die Bosveld rondom ons bekyk en sien hoe die Here se glorie ook reflekteer word in die bosveldsonsondergange, die bome, die diere… Hy het dit alles gemaak en so is ons bevoorreg om daagliks herinner te word aan sy grootheid en sy sorg.
Een van die dae, hopelik vroeër as later, gaan ons Jeugdienste kan afskop en dan gaan ons ‘n nuwe lied tot eer van die Here sing:
Daar is ‘n lied wat helder klink
En dag en nag word dit gesing
Die bome teen die son wat sak
Reik na die hemel en vertoon U mag
‘n Silhoeët wat die Koning lof besing
Die donderwolk wat die hitte breek,
genade-reën en die stof se reuk
Die koedoebul wat plankdwars staar.
Die vlakvark wat op sy knieë gaan
Voor die Een wat ons God en Koning is
Maak oop jou oë en jy sal dit sien
Als in die veld wat die Here dien
En hul stemme voeg by die hemelkoor
Wees stil… en jy sal dit duidelik hoor!
Die Bosveld sing Halleluja – die skepping prys sy Naam!
Die bos sing Halleluja en elke boom juig saam.
Hoor jy die Halleluja – die ritme van die reën?
Alles wat asem het sing Halleluja
Lofprysing Dag 6 – Oral
Ons het op 12 Mei 2020 reeds bietjie stilgestaan by die laaste helfte van Psalm 103. Die kontras tussen die stoflike, woestynblom-bestaan van die mens teenoor die onverganklike liefde van die Here! Die groot “maar”… MAAR onverganklik is die liefde van die Here…
Ons het ook daardie dagstukkie afgesluit met die laaste verse van die psalm, maar vandag kan ons ook hulle net so bietjie dieper beskou:
Net soos wat die digter vroeër in die psalm die beskikbare meetinstrumente gebruik het om God se oneindige liefde en onmeetbare vergifnis te beskryf, gebruik hy nou sy kennis van al die verskillende ruimtes wat bestaan en almal wat in daardie ruimtes woon, om te beskryf waar en deur wie die Here geloof moet word.
In die hemel en op die aarde moet die Here geloof word. En ALMAL in die hemel, en ALMAL op aarde moet die Here loof. Alles wat Hy geskep het, met ander woorde alles wat bestaan. Oral waar Hy heers, met ander woorde orals, want Hy heers op AL die plekke!
Dag in en dag uit word die Here se lof oral in die skepping en om sy troon besing. Die uitspansel reflekteer die glorie van die Here. Die vraag is dan of ons stemme ook daarby gehoor kan word? Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Elke asemteug behoort aan Hom. As dit sy asem is wat ons inasem, hoe kan ons dan anders as om sy lof te wil uitasem?
Ek wil die Here loof!