Gedagte vir die dag – As die geduld nou opraak

Onthou jy nog vir La Linea?  Lank, lank gelede was dit ‘n eenvoudige animasie reeks op TV wat die avonture van ‘n lynmannetjie vertel.  Elke nou en dan het die kunstenaar die mannetjie verras met die een of ander ding wat hom gewoonlik aan die begin vermaak het. Maar hy het tog so gou ongeduldig of kwaad geword vir die kunstenaar as dinge nie uitwerk soos hy dit wou hê nie. Dit was groot pret om te kyk.  As jy wil gaan loer, daar is klomp episodes op YouTube beskikbaar: https://www.youtube.com/user/LaLineaSeries

Nou sien ek die ander dag iemand maak nou ‘n t-hemp met die lynmannetjie van La Linea wat die kunstenaar berispe oor 2020.  Dit is so beskrywend van hoe ons voel oor alles wat hierdie jaar al aan die gebeur is en ek is seker ons is ná die soveelste toespraak van die president en die soveelste verandering van regulasies al lus om 2020 daar uit te vee en eerder ‘n paar ander goed daar te wil skryf!

Ons het al op dag 48 van Lockdown nagedink ook geduld – nou trek ons al by Dag eleventy-plenty-hundred en die eindstreep lyk nog vêr… waar kry ons dan nog geduld?  Die Engelse het ‘n mooi uitdrukking wat sê “at the end of one’s tether/rope” wat beteken dat jy nie meer geduld of krag oor het om iets te kan hanteer nie en dit sluit eintlik mooi aan by La Linea wat telkens die einde van sy strepie bereik en dan baie emosioneel raak daaroor.

Ek dink twee dinge is belangrik.  Die eerste is dat ons geduld by die huis moet inoefen.  Daar waar ons die naaste aan mekaar lewe en die draadjies maar soms kort raak is juis die plek waar ons geduld die meeste getoets word.  Maar as ons geduldig is met mekaar, met die mense vir wie ons lief is dan gebeur daar ‘n paar goed gelyk.  Ons leer geduld aan, maar ons groei ook in die proses nader aanmekaar en dit is ‘n getuienis vir die wêreld van hoe ons mekaar behoort te hanteer – ook in beproewende omstandighede.

Tweedens is die bron van ons geduld by God en nêrens anders nie. Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat die einde van die tou/lyn/afgrond bereik het en dáár die liefde en omarming van die Here beleef het.  Omdat Hy geduldig is met ons kan ons ook na Hom toe gaan en by Hom leer van geduld, maar ook by Hom rus en vrede en berusting vind vir ons ongeduldige harte.

Kolossense 1:11 is ons gebed ook vir vandag:

“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.”

Gedagte vir die dag – Sien

Ons kan tog nie anders nie as om die Here te loof vir die voorreg om te kan sien.  Die manier hoe die menslike oog ontwerp het is mindblowing!

In die Bybel word daar eintlik nogal baie van hierdie sintuig gepraat.  Daar is eintlik te veel voorbeelde om op te noem, maar kom ons kyk net na ‘n paar. Daar is, eerstens, dit wat ons sien:

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Ps 8:4-5)

Die Bybel vertel ook vir ons wat God sien:

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.” (Ps 139:1) en Wie in die hemel of op die aarde is soos die Here ons God, wat hoog woon en hier onder alles sien?” (Ps 113:5-6)

Dan sê dit ook natuurlik iets van wat ons nie sien nie:

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb 11:1)

En wat ons graag wil sien sodat ons kan glo as ons in Johannes 20:25 lees van Tomas:

“Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” ”

Dan gebeur die wonderwerk in die volgende verse:

“Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” ”

Ons is soms geneig om neer te kyk op die arme “ongelowige Tomas” oor sy kortsigtigheid.  Maar soos Tomas het ons almal tog die behoefte dat ons graag wil sien en glo.  Maar die wonderlike is dat die Here aan die dissipels verskyn het sodat ons kan glo en sien!  Ons lees in Johannes 20 vers 30 en 31:

“Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”

Omdat ons glo kan ons anders na die wêreld kyk, verander ons perspektief, sien ons dinge raak wat ons andersins sou misgekyk het, sien ons die werk van sy vingers soos Psalm 8 sê.   Maar kan ons weereens ook, soos ons die res van die week ook ontdek het, deur ons lewens, deur ons liefde, God sigbaar maak vir ‘n wêreld wat Hom nog nie gesien het nie en Hom so, so nodig het.

Gedagte vir die dag – Voel

Die Afrikaanse woord “voel” is maar kort en lyk eenvoudig, maar dit is eintlik so ‘n diep en veelkantige woord.  Ons gebruik dit nie net om dit wat ons met ons vingers, ons velle, ons tassintuig, kan voel te beskryf nie, maar ook vir ‘n wye spektrum ander maniere waarop ons verskillende dinge voel.

In hierdie tyd van inperking voel ons dit nou baie meer intens aan ons lywe.  Skielik moet ons ver van almal rondom ons bly en is drukkies en soene nou amper ‘n misdaad.  Vir baie van ons is die gebrek aan drukkies groot verlies, wat weer ‘n klomp ander gevoelens tot gevolg het.  Maar behalwe fisiese aanraking is daar natuurlik ander dinge wat ons mis en ander dinge wat ons voel.  Ons voel teleurstelling, spanning, frustrasie, vrees, hartseer, die volle gewig van emosies wat ons tref.  Maar gelukkig voel ons ook nog hoop, blydskap, vreugde, vrede, afwagting, opgewondenheid, ens.  Dit is behoorlik ‘n emosionele rollercoaster!

Ek is sommer weer van vooraf verbaas en verwonderd oor hoe die Here ons so fyn aanmekaar geweef het en oor wat ons alles kan voel – ekstern én intern!

In die Bybel is daar ‘n opvallende verskil wanneer daar gepraat word oor waaraan mense alles raak.  Een verhaal in die Ou Testament waar die tassintuig prominent voorkom is natuurlik daar waar Jakob sy pa Isak bedrieg deur die bokvelle op sy arms te sit.  Dan wanneer die blinde Isak daaroor vryf dan dink Hy dit is sy harige seun Esau en seën hy vir Jakob i.p.v. Esau (Gen 27).

Maar vir die res van die Ou Testament is dit amper elke keer as daar gepraat word van om aan iets/iemand te raak, in die konteks van dit waaraan mense NIE mag raak nie omdat dit onrein is.  Oor en oor die opdrag dat hulle nie daaraan moet raak nie.

Dan is dit opvallend dat die eerste keer wat daar weer in die Nuwe Testament daarvan gepraat word dan is dit in Matteus 9:20-22 wat die vrou aan die soom van Jesus se klere raak:

‘n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was die vrou gesond.”

Wow! Nou is dit skielik anders, want die EEN wat Heilig is kom verander die wêreld en gaan dit nie meer oor waaraan jy nie mag raak nie, maar wat dit beteken om deur sy krag aangeraak te word!

Daar is ‘n verhaaltjie van die dogtertjie wat een aand in die bed lê en toe steek daar ‘n groot storm op.  Sy het bang geword en haar pappa geroep om by haar te kom sit.  Hy sê toe vir haar dat Jesus mos by haar is.  Sy antwoord hom toe en sê: “Ja, ek weet, maar ek soek nou iemand met ‘n vel om!” Ons is die Liggaam van Christus wat sy hande en voete in die wêreld moet wees, sy liefde ‘n vel om moet sit.  Mag ons dit vir mekaar wees en sy liefde sigbaar, en TASbaar, uitleef!

Gedagte vir die dag – Ruik

Daar is darem net iets aan reuke en die manier hoe dit onmiddelik ou herinneringe kan oproep.  Plekke, mense, gebeurtenisse word sterk aan reuke gekoppel en dan as mens dit weer ruik dan word mens sommer weggevoer en beleef mens weer daardie selfde emosies.  So vat daardie mengsel van die reuke van chloor en swembadwater en sonbrandroom my dadelik Warmbad toe waar ek jaarliks saam my ouers vir 10 dae op Dienswerkkamp was.  Die reuk van winterveldbrande weer, vat my terug na die laaste week van Mei 1998 toe ek my vrou gevra het om my meisie te wees en kry ek nou nog daai opgewonde skoenlappers-in-die-pens gevoel as ek dit ruik.

Natuurlik is daar ander reuke wat behoorlik voel of hulle mens (soos in die cartoons!) wil optel en kombuis toe laat sweef en al is jy versadig, maak die reuk mens onmiddelik sommer weer honger.  Jy ken dit: boerewors op die vuur, lekker warm pannekoek, gebraaide uie,  vars gemaalde koffie… Nou maak ek net myself honger!

In die Bybel, voor die tyd van Sunlight Liquid en Omo, was reukolie en parfuum en kruie belangrike en duur items.  Geen wonder nie, dat die mense dan so ontsteld was oor die duur nardusolie wat die vrou op Jesus se kop uitgegiet het! (vgl. Joh 12:1-8 en Matt 26:6-13)

Maar een geur wat ons baie teekom in die Bybel is die van wierook.  Dit kom o.a. voor in die tempel waar die wierookoffers gebrand is. Ons koppel dit ook, a.g.v. die verwysing in Openbaring, sterk aan die gebede van die gelowiges wat opgestyg het voor God (Op 5:8, 8:3-4).

Paulus verwys ook na wierook in 2 Korintiërs 2:14-15 wat ons weer oproep om dieselfde as hy te doen:

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan.”

Soos ons vroeër ook smaak gesê het wil ons sout wees, smaak gee.  Oor gehoor het ons gesê ons wil láát hoor van die magtige dade van die Here. Laat die reuk dan, die geur wat ons afgee, versprei soos ‘n aangename geur wat mense dadelik sal assosieer met die liefde en die genade van die Here.

In 2 Korintiërs 2:17 help Paulus ons met raad oor hoe ons dit kan regkry:

Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.

Gedagte vir die dag – Hoor

Om te kan hoor is ook ‘n groot voorreg wat ons nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie.  Ons raak soms vinnig geïrriteerd oor geluide wat ons pla en wens net vir ‘n bietjie stilte.  Maar daar is baie van ons boeties en sussies wat nie die voorreg het om te kan hoor nie wat weer wens om iets, enige iets, te kan hoor. Jy hoef maar net te kyk hoe mense wat doof is die Here loof om te besef dat ons wat kan hoor, baie het om te leer.

Soos wat ons gister oor die wonder smaak nagedink het, kan ons dieselfde sê van gehoor – dat die meganika in ons ore wat maak dat ons kan hoor ‘n absolute wonderwerk is! Daardie klein beentjies, jou oordrom, en hoe dit op die ou end deur jou brein as uitkenbare, verstaanbare klanke verstaan word, is net ongelooflik.

Een plek waar die gehoorsintuig ooraktief gebruik word is in Handelinge 2. Ons lees in vers 2: Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. En dan in vers 6: Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.” In vers 11 hoor ons wat hulle hoor: ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.

Petrus gaan dan verder om die Evangelie aan die skare te verkondig en omtrent drie duisend mense het daardie dag tot geloof in die Here gekom. Dit moes ‘n belewenis gewees het om daar te kon wees en al die geluide en tale en Petrus se toespraak te kon hoor – en te kon hoor hoedat mense tot bekering kom!

Wat hoor ons, elke dag?  Anders gestel: waarna luister ons? Waaraan leen jy jou ore uit? Maar ook wat láát ons hoor?  Wat is die geluide wat ons maak? Is dit van die “groot dinge wat God gedoen het”?

In die Psalms word die woord “hoor” baie gebruik, en meeste van die tyd verwys dit na die Here wat die gebede van sy kinders hoor.  Dieselfde Psalm 34 wat ons gister gelees het sê in vers 18 en 19:

“As die regverdiges om hulp roep,
hoor die Here hulle
en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.
Die Here is naby die gebrokenes,
Hy help die moedeloses.”