Gedagte vir die dag – Hoor

Om te kan hoor is ook ‘n groot voorreg wat ons nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie.  Ons raak soms vinnig geïrriteerd oor geluide wat ons pla en wens net vir ‘n bietjie stilte.  Maar daar is baie van ons boeties en sussies wat nie die voorreg het om te kan hoor nie wat weer wens om iets, enige iets, te kan hoor. Jy hoef maar net te kyk hoe mense wat doof is die Here loof om te besef dat ons wat kan hoor, baie het om te leer.

Soos wat ons gister oor die wonder smaak nagedink het, kan ons dieselfde sê van gehoor – dat die meganika in ons ore wat maak dat ons kan hoor ‘n absolute wonderwerk is! Daardie klein beentjies, jou oordrom, en hoe dit op die ou end deur jou brein as uitkenbare, verstaanbare klanke verstaan word, is net ongelooflik.

Een plek waar die gehoorsintuig ooraktief gebruik word is in Handelinge 2. Ons lees in vers 2: Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. En dan in vers 6: Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.” In vers 11 hoor ons wat hulle hoor: ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.

Petrus gaan dan verder om die Evangelie aan die skare te verkondig en omtrent drie duisend mense het daardie dag tot geloof in die Here gekom. Dit moes ‘n belewenis gewees het om daar te kon wees en al die geluide en tale en Petrus se toespraak te kon hoor – en te kon hoor hoedat mense tot bekering kom!

Wat hoor ons, elke dag?  Anders gestel: waarna luister ons? Waaraan leen jy jou ore uit? Maar ook wat láát ons hoor?  Wat is die geluide wat ons maak? Is dit van die “groot dinge wat God gedoen het”?

In die Psalms word die woord “hoor” baie gebruik, en meeste van die tyd verwys dit na die Here wat die gebede van sy kinders hoor.  Dieselfde Psalm 34 wat ons gister gelees het sê in vers 18 en 19:

“As die regverdiges om hulp roep,
hoor die Here hulle
en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.
Die Here is naby die gebrokenes,
Hy help die moedeloses.”