Gedagte vir die dag – Jou sondes is vergewe
(In die lig van die kopseer met ons opname van gister se diens, dien vandag se dagstukkie as ‘n kort opsomming van gisteroggend se boodskap.)
Reg deur die Evangelie van Lukas sien ons hoe die Here Jesus saam met mense aan tafel sit en eet en dat dit veral dáár is wat Hy grense oorsteek na mense en só mense se lewens verander. Ons lees hier in Lukas 7:36-50 van een van daardie geleenthede.
Simon die Fariseër nooi vir Jesus na ‘n feesmaal toe, maar hy het ‘n agenda. Dit gaan vir hom oor sy eie eer en aansien en daarom wil hy graag die Profeet waaroor almal praat na sy huis toe nooi. Hierdie was ‘n deftige storie en die mense het by gedekte plekke by die tafel aangelê.
Vir hierdie rede was dit reeds ‘n groot skok dat daar iemand ongenooid by die fees aangekom het. Maar dit was nog verder vererger deur die feit dat die ongenooide gas ‘n “sondares” was. Die fariseërs het oor die algemeen nie baie van vroue gedink nie, en alles wat hierdie vrou gedoen op hierdie dag gedoen het was uit hulle oogpunt vreeslik sondig. Die feit dat sy ongenooid opdaag, in die mans se spasie inbeweeg, ‘n man in die openbaar gesoen het en boonop haar hare losgemaak het was vreeslik skandalig.
Daarom dat Simon so geskok was toe die Profeet Jesus nie reageer soos wat hy verwag het hy moes nie. Hy het gedink dat Jesus die vrou sal berispe oor haar sondige optrede, maar Jesus pas nie in die Fariseër se boksie in nie. Hy is méér as ‘n profeet, méér as ‘n leermeester en soveel meer as menslike godsdienstige verwagtings.
Die Here daag die Fariseër uit en vra eintlik vir hom wie het die meeste sonde en ontbloot die feit dat die fariseër self nie eers aan sy eie standaarde (waarvolgens hy ander se sondigheid wil meet) voldoen het nie.
Dan sê die Here hierdie woorde in vers 47: “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”
Dit wys vir ons die verskil tussen die twee mense hier. Die fariseër het gedink dat hy het alles onder beheer en hy doen al die regte dinge om die mense en die Here te beïndruk. Hy meng met die regte mense, hy kom die reëls na, hy het nie ‘n verlosser nodig nie. Terwyl die vrou deur haar optrede die teendeel bewys: sy het besef wie Jesus is en besef dat sy vergifnis nodig het, die Verlosser nodig het.
Deur hierdie vrou se optrede kom openbaar die Here vir ons hoe sy genade werk en ook Wie Hy is. Ons wil baie keer so graag iets doen om in die Here se regte boekies te kom, so graag genoeg doen om te kan opklim hemel toe. Maar die Here Jesus het juis afgeklim en die volle prys betaal sodat ons die lewe kan hê. Dáárom, in reaksie daarop, doen ons en leef ons tot eer van die Here – bewys ons liefde.
In vers 48 en 49 lees ons dan die mense se verbasing: “En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” “ Hier wys die Here Jesus dat Hy God self is – Hy het die mag om sondes te vergewe!
Besef vandag dat jy het Jesus, die verlosser nodig. Gee oor aan Hom en leef vanuit die wete dat Hy reeds vir elke sonde (selfs daai wat jy diep wegsteek en hoop niemand vind nooit daarvan uit nie) die volle prys betaal het.
Gedagte vir die dag – God gee nuwe moed
Psalm 10 is een van daardie psalms wat soms hard op ons ore val. Lees gerus die hele psalm weer in al die vertalings tot jou beskikking. Maar dit is ook ‘n baie goeie voorbeeld van hoe die psalmdigters die klaaglied in hulle harte voor die Here uitgestort het. Iets waaraan ons nie so gewoond is nie en eerder daarvan wegskram want “mens praat nie so met die Here nie!”
Maar iets wat die psalms oor en oor vir ons bewys is dat dit juis die Here is met wie ons moet praat, juis in die moeilikste van omstandighede – ook oor die sensitiewe en ongemaklike onderwerpe. Die Here is die psalmdigters se bron van hulp en troos. Dit is by die Here wat hulle kla en huil en vrae vra.
Daarom loop twyfel en geloof telkens hand aan hand in die psalms. Daarom sien ons klaagliedere en lofliedere in mekaar gevleg. Die psalmdigters het geweet en beleef dat die Here hulle enigste toevlug is – ook vir hul twyfel en vir hulle seer. Al die mooi en waar goed waarvan die psalms oor die Here getuig en wat vir ons ‘n troos is om te lees, is nie net waar omdat dit mooi digterlik in die Bybel staan nie. Nee, dit is die waarheid omdat die Lewende God binne-in mense se konkrete, moeilike omstandighede ‘n toevlug was: dood, siekte, verlies, bedreiging, gevaar, sonde, onregverdige behandeling, ens.
Dit is goed en mooi en reg om oor God te praat, maar ons moet MET Hom praat! Daarom sien ons telkens by die psalms die uitkoms daarvan om MET God te praat. Hy bring nuwe insig en hoop en redding en perspektief en vrede en bevestiging.
So kan ons met die emosie en situasie van die psalmdigter in Psalm 10 identifiseer. Veral in ‘n tyd soos nou met alles wat rondom ons deurmekaar is en erger gemaak word deur korrupsie en alles wat daarmee saamgaan. Kyk maar na alles wat hy vir die Here sê oor die mense wat so vol van hulleself is. Ek is seker almal van ons het al gevoel soos hierdie psalmdigter gevoel het:
Die psalm help ons om iets van ons eie emosie te verwoord. Daarom moet ons dit lees en nie net daaroor nadink nie, maar regtig ook met die Here praat oor wat in ons eie hart aangaan.
Natuurlik weet Hy presies wat jy gaan sê nog voordat jy dit dink, maar Hy in die proses van om ons harte met Hom te deel kry ons die geleentheid om weer sy hartklop vir ons te kan hoor!
Op die einde kom die psalm weer by hierdie punt in vers 17 en 18:
Gedagte vir die dag – Nie aan ons nie
Die eerste vers van Psalm 115 maal al heeldag in my kop rond:
Daar is soveel dinge wat hierdie jaar al gebeur het waaroor ons meer vrae as antwoorde het. Goed en sleg. Dinge wat ons in menslike terme nie kan verduidelik, verstaan of verklaar nie. Maar wat bo dit alles uitstaan en daarvan is hierdie vers, vir my, vandag net weer ‘n bevestiging, is dat ons van ons Here alleen afhanklik is en binne sy genade lewe. As ons net aan mense oorgelaat was en sonder die Here in hierdie stukkende wêreld moes leef sou dit ‘n verskriklike werklikheid wees wat ek myself nie eers wil indink nie.
Daardie gedagte is opsigself vir ons ‘n troos, maar ter selfde tyd ‘n oproep: dat ons wat die Here ken so moet lewe en vertel van Hom wat liefde en trou bewys, sodat hulle wat nog nie sy liefde leerken het nie, dit ook kan proe. Waarlik aan Hom kom al die eer toe!
“Waarom sou die heidene kan sê:
“Waar is hulle God nou?”
En dit terwyl ons God in die hemel is!
Alles wat Hy wil, doen Hy.
Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud,
die werk van mensehande.
‘n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie,
oë het hulle, maar sien kan hulle nie;
ore het hulle, maar hoor kan hulle nie;
‘n neus het hulle, maar ruik kan hulle nie.
Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie,
hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie.
Daar kom geen geluid uit hulle keel nie.
Wie hulle maak en op hulle vertrou,
sal net soos hulle word.
Israel, vertrou op die Here!
Hy help en beskerm jou.
Huis van Aäron, vertrou op die Here!
Hy help en beskerm jou.
Julle wat die Here dien, vertrou op die Here!
Hy help en beskerm julle.
Die Here dink aan ons: Hy seën,
Hy seën die huis van Israel,
Hy seën die huis van Aäron,
Hy seën dié wat Hom dien,
klein en groot.
Mag die Here julle talryk maak,
julle én julle kinders.
Mag die Here julle seën,
Hy wat hemel en aarde gemaak het.
Die hemel is net vir die Here,
maar die aarde het Hy aan die mense gegee.
Nie die dooies prys die Here nie,
nie dié wat die graf in is nie,
maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd!
Prys die Here!”
Gedagte vir die dag – Ter wille van die Evangelie
Ek lees vanoggend Filippense 1 en deur die hele hoofstuk is daar iets wat vir my opnuut hier uitstaan. Paulus se absolute, onbetwisbare oortuiging dat die lyding wat hy moet verduur (én nog ander omstandighede!) alles ter wille van die Evangelie is. Selfs hier aan die begin van die brief waar hy die gemeente groet en bedank, kan ‘n mens hoor dit gaan alles vir hom oor die verkondiging van die Evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan (vgl Fil 1:3-7).
Hoor wat sê hy verder in vers 12-14:
“Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”
Hy vertel hierna ook van die mense wat Christus verkondig vir hulle eie verskuilde agendas. Maar ook dit sien Paulus as positief, want “wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly.“ (Fil 1:18)
Ook die bekende gedeelte oor Paulus se tweestryd wat hierop volg loop op die punt uit dat dit beter is om te bly “sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê.” (vgl Fil 1:19-25)
In vers 27-29 bemoedig Paulus sy lesers en roep hy hulle op om standvastig te bly en aan te hou om saam te stry “vir die geloof in die evangelie” (vers 27). In vers 29 sê hy dan: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.“
Dit het my sommer laat wonder oor die dinge wat ons ly, wat dit ookal mag wees. Oor ons ingesteldheid waarmee ons struikelblokke aanpak? Hoeveel van dit wat ons doen en beplan en aanpak en na strewe en moet hanteer is intensioneel daarop gefokus om die Evangelie te verkondig? Ek praat nou nie van om met die Bybel onder die arm en ‘n megafoon op die straathoek te staan nie. Maar wat as ons die dinge wat ons doen, die dinge wat met ons gebeur, en wat ons graag wil doen, in ‘n ander lig begin sien? Dat dit alles “ter wille van die Evangelie” kan wees…
Gedagte vir die dag – Gideon die Dapper Man
Rigters is een van daai boeke in die Bybel wat as iemand ‘n lewensgetroue fliek daaroor sou maak, die fliek ‘n wilde ouderdomsbeperking sou hê. Dit is rof!
So lees ons van een van die Rigters met die naam Gideon in hoofstuk 6-8. Die volk gaan deur ‘n slegte tyd. Hulle is nou in die Beloofde Land maar hulle word geteister deur die Medianiete. Soveel so dat hulle weggekruip het. Dit is waar ons ook vir Gideon aantref as die Here aan hom verskyn: in ‘n parskuip waar hy weggekruip het.
Die manier waarop die Here vir Gideon groet is eintlik so perfekte inleiding vir die hele verhaal. Hy sê vir hom: “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigters 6:12) Vir ‘n groot deel van die verhaal kan mens skaars glo dat Gideon beskryf kan word as ‘n dapper man. Hy kruip weg en twyfel en vrees en die Here moet hom keer op keer met tekens, wonders, drome en bewyse herinner dat hy nie hoef bang te wees nie.
Gideon antwoord die Here daar in die parskuip met ‘n vraag wat sekerlik al baie in ons eie gedagtes deurgeflits het: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het?”
Die res van Gideon se verhaal is eintlik so mooi antwoord op hierdie vraag van hom – vir Gideon, én vir ons. Die Here stuur hom en is by hom soos Hy belowe het. In vers 14 sê Hy: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” en dan in vers 16: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”
Soos die verhaal dan uitspeel lees ons hoe die Here hierdie woorde waar maak – BIG TIME! Hy laat vir Gideon met net 300 soldate optrek teen die Midianiete en hulle maatjies wat ‘n magtige weermag gehad het. Rigters 7:12 sê hulle “was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see.” En boonop het die Here dit so bewerk dat hierdie groot mag uitmekaar gespat het en sommer mekaar begin doodmaak het selfs nog voor Gideon en sy manne ‘n swaard kon gebruik. Die Here het die oorwinning behaal.
Teen hierdie tyd sien ons dat Gideon met die krag van God verander het in die dapper man wat die Here hom gemaak het om te wees. Die dapper man wat die Here daar in die parskuip raakgesien het, in die hart van die bang outjie wat daar weggekruip het. So stuur die Here ook vir elkeen van ons. Hy gee vir ons die krag van sy Gees. Hy is by ons. Hy bewys dit keer op keer. Hy wil in ons en deur ons sy magtige dade bekend maak. Daarom kan ons ook dapper manne en vroue van God wees.
Onthou die woorde van 2 Timoteus 1:7 wat sê: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”