Ek lees vanoggend Filippense 1 en deur die hele hoofstuk is daar iets wat vir my opnuut hier uitstaan. Paulus se absolute, onbetwisbare oortuiging dat die lyding wat hy moet verduur (én nog ander omstandighede!) alles ter wille van die Evangelie is. Selfs hier aan die begin van die brief waar hy die gemeente groet en bedank, kan ‘n mens hoor dit gaan alles vir hom oor die verkondiging van die Evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan (vgl Fil 1:3-7).
Hoor wat sê hy verder in vers 12-14:
“Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”
Hy vertel hierna ook van die mense wat Christus verkondig vir hulle eie verskuilde agendas. Maar ook dit sien Paulus as positief, want “wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly.“ (Fil 1:18)
Ook die bekende gedeelte oor Paulus se tweestryd wat hierop volg loop op die punt uit dat dit beter is om te bly “sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê.” (vgl Fil 1:19-25)
In vers 27-29 bemoedig Paulus sy lesers en roep hy hulle op om standvastig te bly en aan te hou om saam te stry “vir die geloof in die evangelie” (vers 27). In vers 29 sê hy dan: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.“
Dit het my sommer laat wonder oor die dinge wat ons ly, wat dit ookal mag wees. Oor ons ingesteldheid waarmee ons struikelblokke aanpak? Hoeveel van dit wat ons doen en beplan en aanpak en na strewe en moet hanteer is intensioneel daarop gefokus om die Evangelie te verkondig? Ek praat nou nie van om met die Bybel onder die arm en ‘n megafoon op die straathoek te staan nie. Maar wat as ons die dinge wat ons doen, die dinge wat met ons gebeur, en wat ons graag wil doen, in ‘n ander lig begin sien? Dat dit alles “ter wille van die Evangelie” kan wees…