Gedagte vir die dag – Stroomop
Meeste van ons het tog seker al êrens in ons lewens in verkeer vasgesit en gewens jy kon teen die stroom op ry, in jou eie baan, vry om te beweeg, niks wat jou keer nie, niks wat jou jaag nie.
As dit maar ‘n prentjie kon wees van wat dit beteken om ‘n Christen te wees in die tyd waarin ons lewe, in ons land. Dat stroomop juis iets van hierdie vryheid, beteken het. Dat mens oral waar jy kom oor die Here kon praat sonder om bang te wees, sonder om eers te wonder hoe die mense rondom jou gaan reageer.
Die realiteit is egter dat daar so baie dinge is wat ons keer, of anders gestel, dat ons toelaat dat daar so baie dinge is wat ons keer. Dat ons toelaat dat wat mense van ons dink, ons keer om oor God te praat. Dat dit ons keer om op ‘n manier te leef en op te tree wat getuig van die Here Jesus.
Om werklik anders as die wêreld te wees moet ons op so manier optree dat dit nie oor ons eie heiligheid en ons eie eer te gaan nie, maar oor God se eer, want dit is oor Hom wat dit gaan en van Hom wat ons moet getuig.
Paulus sê in Romeine 12:1-2 die volgende:
“En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.“
Wanneer jy iets opoffer behoort dit nie meer aan jou nie. Jy kan nie nog enige deel vir jouself hou nie. Paulus sê juis dat jou hele lewe ‘n offer moet wees aan God, ‘n lewende offer, met ander woorde dit hou aan en is nie net ‘n eenmalige ding nie. Jou elke dag, jou sit en opstaan, jou werk, jou verhoudings, jou lag en jou huil, alles moet jy aan die Here offer, alles wat jy doen moet aan Hom eer en dank bring.
Die Engelse vertaling van vers 2 klink so: “Do not conform to the pattern of this world, but be transformed by the renewing of your mind.”
Dit is opvallend hoe dat “conform” en “transformed” teenoor mekaar staan. Wanneer ons ons wil doen en dit oor ons gaan en ons eer en wat ons alles kan regkry, dan “conform” ons en word ons soos die wêreld. Maar wanneer ons God laat werk in ons lewens, laat Hy ons verander, ons denke vernuwe, ons transformeer, eers dan kan ons sy wil onderskei en aan Hom gehoorsaam wees. Hierdie vernuwing van ons denke begin natuurlik by die bestudering van sy Woord.
In ‘n wêreld wat ingestel is op selfverheerliking, moet ons ingestel wees daarop om God te verheerlik, moet ons aan Hom eer bring. Is ons bereid om die Here te volg, selfs al beteken dit dat ons teen die stroom moet beweeg?
Gedagte vir die dag – God is aan ons kant
Ek het op skool altyd so bietjie ongemaklik gevoel as ons voor die rugby wedstryd gebid het. En boonop was ek gereeld die gelukkige wenner wat moes bid. Natuurlik hoop en wens ons vir ‘n wen, maar hoekom sal die Here óns dan nou laat wen – die ander span bid dan nou vir dieselfde ding? So ek het maar gebid dat niemand ernstig beseer word nie, dat ons lekker sal speel en dat ons die Here ook op die veld sal eer. Maar dit is een van daai situasies waar die tekkie (die tokse) die teer tref en dit voel asof ons NOU, HIER die Here nodig het – want as ons hier amen sê is dit oorlog! Ek het eers na die tyd besef dat, veral by spesifieke skole, ons eerder vir die ref en die ouers langs die veld en die ref se veiligheid moes bid…
Dalk lê die kuns daarin om eerder te besef dat, wen of verloor, die Here altyd aan ons kant is. En dat die feit dat Hy aan ons kant is soveel meer beteken as dit waartoe ons dit baie keer wil reduseer. Daar is natuurlik oral om ons en in ons sigbare en onsigbare oorloë aan die gang, en dit het ver groter implikasies as ‘n rugby wedstryd. Maar die punt is, maak nie saak wat jou oorlog is nie, of wie jou opponent is nie – of dit mense, depressie, jyself, krisis, siekte, hartseer, watookal is – God is aan jou kant.
Dit help ons om dit te onthou en daaraan vas te hou selfs al lyk dit of ons gaan verloor, selfs al het die fluitjie geblaas en die telling wys ons hét verloor. Want jy sien, Jesus het reeds die oorwinning behaal – oor dood en sonde en pyn en lyding. Dit beteken dat ons die groter prentjie moet raaksien van God wat as oorwinnaar staan en dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Rom 8:18)
Die mens en al sy vernietigende gedagtes en aksies het nie die finale sê in ons lewens nie, maar God het!
Dawid het verskeie kere in sy lewe met hierdie vrae geworstel. Dalk het hy makliker by ‘n antwoord uitgekom omdat die “span” waarteen hy ge-“speel” het telkens vir ander gode gebid het. Maar nie te min, was sy lewe gereeld in gevaar, en boonop was hy self nie altyd ewe onskuldig aan die situasies waarin hy homself bevind het nie. Ons kan egter by hom leer van om aan God vas te hou, selfs in die moeilikste omstandighede.
Lees gerus die hele Psalm 56 deur, maar hoor wat sê hy in vers 4 en 5:
Mag dit ook elke dag ons seker wete en die belydenis van ons harte wees, waarvolgens ons kan LEEF!
Gedagte vir die dag – Die werk van Sy Hande
Sjoe! Psalm 138 is ‘n kort psalm, maar dit is ‘n GROOT psalm. Daar is by Dawid geen bybedoelings of dubbelsinnigheid as hy die Here met sy hele hart loof nie. Daar is nie plek vir enige ander god in sy hart nie, sy hele hart behoort aan die Here. En hy is ook nie skaam om dit te sê nie. Nee, onbeskaamd sing hy tot eer van die Here, maak nie saak wie dit hoor nie.Hy kyk (vorentoe!) in die verlede in en getuig dat die Here sy gebede verhoor en hom nuwe krag gegee het. Die mag van die Here is groot, en Hy is verhewe bo alle konings en maghebbers. Hulle wat dink dat hulle mag het, moet almal voor die Almagtige buig. Maar dan hierdie wonderlike versekering dat die Here wat hoog bo alles staan, Hom neerbuig om om te gee vir die nederiges (die laagstes).
In die hede is hy verseker van die Here se sorg, krag en teenwoordigheid. God se hand, sy Regterhand, is by hom. In die toekoms (wat agter sy rug lê!) is hy verseker van die Here se liefde, want daar is geen einde daaraan nie. En gee hy homself oor en leef in afhanklikheid van die Here. Dit is die Here wat hom gemaak het, deur hom werk en aanhou om in Hom te werk.
Mag hierdie psalm ook vandag die gebed van ons harte wees, verseker van die feit dat die Here nie die werk van sy hande laat vaar nie.
Hier is die psalm soos hy in die 1983 vertaling staan, maar lees hom gerus in elke vertaling waarop jy jou hande kan lê:
“Ek wil U met my hele hart loof.
Laat die gode maar hoor;
dit is tot u eer dat ek sing.
Ek wil na u heilige tempel toe buig
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord bo alles gestel.
Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor
en my nuwe krag gegee.
Al die konings van die aarde sal U loof, Here,
wanneer hulle u woord hoor,
hulle sal sing oor wat die Here gedoen het,
want die mag van die Here is groot.
Ja, al is die Here hoog verhewe,
Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.
As die nood my oorval,
hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in:
U strek u hand uit,
u regterhand red my.
Die Here sal vir my alles goed laat afloop.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.”
Gedagte vir die dag – Noudat Hy julle ken
Ons het in ons dagstukkies al op verskeie plekke, maniere en tye gedink en gelees oor die feit dat die Here ons deur en deur ken. Daar is op soveel plekke in die Bybel daardie versekering dat die Here nie net ons name ken nie, maar dat Hy ons harte, ons gedagtes en alles van ons en oor ons ken. Ek wil nie oor en oor dieselfde ding herhaal nie, maar ek kan ook nie anders as om vandag weer daaroor te wil juig nie.
Ek is vandag net opnuut weer oorweldig en dankbaar vir die voorreg om die Here te mag ken en om deur Hom geken te word. Die feit dat die Here Homself aan ons kom openbaar – dat Hy “kenbaar” is, ons liefdevolle Vader is wat met oop arms vir ons wag – is te hoog vir my begrip! Hoe wonderlik dat ons die Almagtige God, ons Vader mag noem.
Maar dit beteken ook dat ons Vader ons as sy kinders ken – beter as wat ons Hom ooit kan ken!
Ons hoor iets hiervan in Galasiërs 4:6-9 as Paulus skryf:
Om deur God geken te word beteken m.a.w. nie net dat Hy my hart en gedagtes en vrese en drome ken nie, maar dat ek deur Hom geKEN word – as sy kind, sy erfgenaam erken word. Hoe kan ons dan anders as om vir Hom te wil lewe!
Wat ‘n voorreg om die Here te kan en om deur Hom geken te word. Hy het ons vrygemaak!
Ek herinner jou graag weer aan Filippense 3:8 se woorde: “om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” Mag dit ook die belydenis van ons harte wees, waarvan ons harte vol is sodat ons monde daarvan oorloop.
Gedagte vir die dag – Werp
Die taal van ons bly darem so lekker. Daar is woorde wat soveel meer emosie dra as ander wat min of meer dieselfde beteken. Die woord “werp” is een van daai. Dis ‘n woord wat ons waarskynlik nie meer so baie in ons alledaagse spreektaal gebruik nie. Ons praat mos maar van “gooi”. Bal gooi, klip gooi, (visstok) ingooi, weggooi, neergooi…
Daar is iets terapeuties daaraan om iets te gooi. Ek dink dit is omdat die hele aksie van gooi daaroor gaan dat die voorwerp weg van jouself af beweeg – jy raak daarvan ontslae. Party goed kom natuurlik weer terug, wat ook lekker is (soos ‘n hoek met ‘n vis aan, ‘n bal, ‘n boemerang), want dan kan jy hom weer gooi. Maar daar is iets bevredigend daaraan om iets te gooi, eerder as om dit net neer te sit.
As dit waar is van gooi, dan dink ek, is dit nog soveel meer waar van WERP. Dit voel vir my of werp amper soos ‘n intensiewe vorm van gooi is. As jy ‘n ding werp, dan gooi jy hom nie net, jy GOOI hom met mening. So klink diskus gooi baie minder intensief as skyfwerp. Werp voel amper asof dit met meer krag gebeur. ‘n Katapult gooi mos nie klippe teen die kasteel se muur nie – daai klippe word geWERP!
Dit help ons so bietjie om te verstaan wat bedoel word in 1 Petrus 5:7 wat sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Wanneer ons ons bekommernisse op Hom werp dan verstaan ons nou hier is intense aksie en emosie betrokke. Maar dat ons ook moet hoor dat ons dit regtig moet wegwerp, weg van onsself af – daarvan ontslae raak. Dit is natuurlik nie maklik nie, maar daar lê ‘n groot stuk vrede daarin om die Here werklik so te vertrou. Natuurlik doen ek my deel met die krag wat Hy my gee, maar as ek my bekommernisse op Hom kan werp dan word ek nie verstrengel deur die greep van vrees en spanning en stres nie. Ek kan vrede vind in die feit dat die Here vir my sorg.
Ek kry amper die gevoel van om daai oorlaaide skooltas aan die einde van ‘n lang dag van my skouer af te werp. Daardie verligting, daardie las wat van jou skouers af is…
Mag jy met moed en geloof jou bekommernisse nie net gooi nie, maar dit WERP op Hom wat vir jou sorg en mag jy daarin die vrede wat alle verstand te bowe gaan beleef.