Gedagte vir die dag – Noudat Hy julle ken

Ons het in ons dagstukkies al op verskeie plekke, maniere en tye gedink en gelees oor die feit dat die Here ons deur en deur ken.  Daar is op soveel plekke in die Bybel daardie versekering dat die Here nie net ons name ken nie, maar dat Hy ons harte, ons gedagtes en alles van ons en oor ons ken.  Ek wil nie oor en oor dieselfde ding herhaal nie, maar ek kan ook nie anders as om vandag weer daaroor te wil juig nie.

Ek is vandag net opnuut weer oorweldig en dankbaar vir die voorreg om die Here te mag ken en om deur Hom geken te word.  Die feit dat die Here Homself aan ons kom openbaar – dat Hy “kenbaar” is, ons liefdevolle Vader is wat met oop arms vir ons wag – is te hoog vir my begrip!  Hoe wonderlik dat ons die Almagtige God, ons Vader mag noem.

Maar dit beteken ook dat ons Vader ons as sy kinders ken – beter as wat ons Hom ooit kan ken!

Ons hoor iets hiervan in Galasiërs 4:6-9 as Paulus skryf:

“En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?”

Om deur God geken te word beteken m.a.w. nie net dat Hy my hart en gedagtes en vrese en drome ken nie, maar dat ek deur Hom geKEN word – as sy kind, sy erfgenaam erken word. Hoe kan ons dan anders as om vir Hom te wil lewe!

Wat ‘n voorreg om die Here te kan en om deur Hom geken te word. Hy het ons vrygemaak!

Ek herinner jou graag weer aan Filippense 3:8 se woorde:om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” Mag dit ook die belydenis van ons harte wees, waarvan ons harte vol is sodat ons monde daarvan oorloop.