Meeste van ons het tog seker al êrens in ons lewens in verkeer vasgesit en gewens jy kon teen die stroom op ry, in jou eie baan, vry om te beweeg, niks wat jou keer nie, niks wat jou jaag nie.
As dit maar ‘n prentjie kon wees van wat dit beteken om ‘n Christen te wees in die tyd waarin ons lewe, in ons land. Dat stroomop juis iets van hierdie vryheid, beteken het. Dat mens oral waar jy kom oor die Here kon praat sonder om bang te wees, sonder om eers te wonder hoe die mense rondom jou gaan reageer.
Die realiteit is egter dat daar so baie dinge is wat ons keer, of anders gestel, dat ons toelaat dat daar so baie dinge is wat ons keer. Dat ons toelaat dat wat mense van ons dink, ons keer om oor God te praat. Dat dit ons keer om op ‘n manier te leef en op te tree wat getuig van die Here Jesus.
Om werklik anders as die wêreld te wees moet ons op so manier optree dat dit nie oor ons eie heiligheid en ons eie eer te gaan nie, maar oor God se eer, want dit is oor Hom wat dit gaan en van Hom wat ons moet getuig.
Paulus sê in Romeine 12:1-2 die volgende:
“En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.“
Wanneer jy iets opoffer behoort dit nie meer aan jou nie. Jy kan nie nog enige deel vir jouself hou nie. Paulus sê juis dat jou hele lewe ‘n offer moet wees aan God, ‘n lewende offer, met ander woorde dit hou aan en is nie net ‘n eenmalige ding nie. Jou elke dag, jou sit en opstaan, jou werk, jou verhoudings, jou lag en jou huil, alles moet jy aan die Here offer, alles wat jy doen moet aan Hom eer en dank bring.
Die Engelse vertaling van vers 2 klink so: “Do not conform to the pattern of this world, but be transformed by the renewing of your mind.”
Dit is opvallend hoe dat “conform” en “transformed” teenoor mekaar staan. Wanneer ons ons wil doen en dit oor ons gaan en ons eer en wat ons alles kan regkry, dan “conform” ons en word ons soos die wêreld. Maar wanneer ons God laat werk in ons lewens, laat Hy ons verander, ons denke vernuwe, ons transformeer, eers dan kan ons sy wil onderskei en aan Hom gehoorsaam wees. Hierdie vernuwing van ons denke begin natuurlik by die bestudering van sy Woord.
In ‘n wêreld wat ingestel is op selfverheerliking, moet ons ingestel wees daarop om God te verheerlik, moet ons aan Hom eer bring. Is ons bereid om die Here te volg, selfs al beteken dit dat ons teen die stroom moet beweeg?