Gedagte vir die dag – Rus in God se Sorg
Hoe belangrik is dit vir jou om te rus, om te “recharge”? Hierdie kan dalk klink na ‘n vraag met ‘n maklike antwoord, maar in die tyd waarin ons leef raak dit al belangriker. In ‘n wêreld waar uitslae belangriker is as mense se eie welstand is dit maklik om meegesleur te word daarin en op daai trein te klim net om êrens te kom in die lewe. Om anders as die wêreld te leef (Rom 12:2 wat ons gister weer gelees het!) beteken ook om te kies vir wat werklik belangrik is en dit geld ook vir jou tyd.
Wat DOEN jy om jou batterye te herlaai? Net soos jou selfoon nie gaan laai as jy hom net bietjie op sy rug laat lê vir ‘n rukkie nie, gaan dit jou ook nie veel help nie. Mens moet iewers ingeprop wees. Dit is soms belangrik om net te lê, maar ons moet die bietjie tyd wat ons het om te rus ook regtig goed gebruik en moet daarom dinge doen wat ons werklik “energize”!
Ongelukkig kry die wêreld dit nogal maklik reg om ons te laat fokus op al die slegte nuus en negatiewe dinge in die wêreld. Dan kyk ons maklik die mooi in die lewe, die gawes uit die Here se Hand, mis. Daarom is dit nodig om elke dag moeite te doen om iets besonders raak te sien, en te onthou alles kom van God af en Hy sorg elke dag vir jou. Hierdie gaan nie net daaroor om lekker te rus en mooi dinge te beleef sodat ons net lekker kan voel nie. Dit gaan ook daaroor om weer op God te fokus. Om te onthou dat Hy die Middelpunt, die Skepper, die Gewer van alles is. Dat die lewe nie net verby ons gaan en ons alles as vansselfsprekend aanvaar nie, maar dat ons oë sal oop wees sodat ons al die gawes van God kan raaksien en werklik dankbaar daarvoor sal leef.
Lees vandag Matt 6:25-34. Vers 26-30 sê:
“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?”
Daar gebeur ‘n belangrike ding wanneer ons na die “wilde voëls” en die “veldlelies” kyk. Ons moet raaksien dat die Here vir ons alles wat ons nodig het gee. Dat ons werklik op Hom kan vertrou en ons dus nie hoef te bekommer oor enige iets nie, omdat ons weet dat Hy vir ons sorg. Maak moeite hierdie week om dít raak te sien.
Gedagte vir die dag – God het jou lief!
Vandag wil ek jou sommer net weer herinner daaraan dat die Here vir jou lief is. Ons kan partykeer so besig raak met ander denke oor God en soeke na antwoorde en allerhande idees en teologiese vraagstukke dat dit nodig is om weer te onthou van die een onveranderlike feit, die bottom line: God is oneindig lief vir jou!Die grootste bewys daarvoor is natuurlik die feit dat die Here Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. 1 Johannes 4:9-10 sê:
Dit is goed om (met jou verstand) te weet dát dit gebeur het. Dat Jesus in ons geskiedenis, in ons wêreld kom inklim het en daar op Golgota aan ‘n kruis gesterf het. Maar dink vandag weer vir oomblik (met jou hart!) na oor hoe groot daardie gebeurtenis is. Hy HET gekom en Hy HET gesterf sodat ons die lewe kan HÊ. Maar dit is nie net ‘n geskiedkundige gebeurtenis nie, dit het vandag nog ‘n impak op ons lewens en sal vir ewig nog aanhou, want Hy het alles kom nuut maak. Die Here, die God van die hemel en die aarde, het mens geword en in ons plek, ons straf op Hom geneem. Sonder dat Hy dit verdien is Hy gekruisig. Daarom is HY die Koning van die konings!
“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”
Gedagte vir die dag – Vrygemaak om te Volg
Wanneer die Here ons vry maak kan ons nie anders as om aan Hom te wil gehoorsaam wees nie. En boonop los die Here ons nie net daar wanneer Hy ons red nie. Hy hou aan om in ons te werk sodat ons met energie vir Hom wil werk. Dit is wat Filippense 2:12-13 wil kom sê:
“My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
Paulus vermaan sy lesers om gehoorsaam te wees, maar daar is ‘n spanning, ‘n afwagting tussen dit wat God doen en dit wat ons moet doen. Paulus sê dat wanneer ons verlos is dan gee God nog vir ons die energie om gehoorsaam te wees en sy wil te doen. ‘n Wil om te doen wat God wil hê ons moet doen. Die Gees van God werk in ons, so maak Hy ons gewillig en bekwaam om sy Wil te doen. Daarom moet ons dit ook voluit doen, voluit vir Hom lewe – halfhartigheid is net nie goed genoeg nie.
Maar hoe lyk dit? Hoe is mens so gehoorsaam aan die Here? Ek dink dit begin daarby om sy Wil vir ons lewe te soek en te ken. Dit help nie ons wil die Here gehoorsaam as ons nie eens weet wat dit wat Hy van ons verwag nie. Efesiërs 5:17 sê “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” Ons denke moet vernuwe word sodat ons kan onderskei wat vir die Here goed en aanneemlik en volmaak is, wat sy Wil is (vgl. Rom 12:2).
Dit is iets wat met ons gebeur wanneer ons die Woord van die Here bestudeer. Wanneer ons die Woord bestudeer dan begin ons sien dat die Here eintlik van ons verwag om soos Jesus te lewe. Efesiërs 5:1 en 2 sê: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.”
In 1 Johannes 2:5-6 lees ons dit ook: “Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”
Mag ons ook in dankbaarheid op God se genade reageer met gehoorsaamheid. En mag ons gehoorsaamheid meer inhou as net godsdienstige oefeninge, maar eerder soek en strewe daarna om Jesus te ken en sy voorbeeld te volg. Sy voorbeeld van liefde!
Gedagte vir die dag – Viool of Vuurmaakhout?
Ek dink meeste van ons sal saamstem dat die viool werklik ‘n wonder is. ‘n Pragtige voorbeeld van kuns en vaardigheid en fyn vakmanskap.
Die stukke hout is versigtig uit die boomstomp in dun velle gesny en dan presies in die regte vorms wat op mekaar pas om die musiekinstrument te vorm. Die sykante moet presies die regte breedte gesny word, verhit word en gebuig en gevorm word om die regte vorm aan te neem.
Die voor- en agterkante se rondings word uitgekerf en word uitgehol tot dit presies die regte dikte en ronding het om perfek te kan resoneer. As die hout te dik is, resoneer die viool glad nie, maar as dit weer te dun is dan kan die viool nie die spanning van die snare weerstaan nie.
Vergewe my ‘n oomblik se personifikasie en dink jouself in hierdie boom se situasie in. Die boom se lewe moet tot ‘n einde kom en hy moet gesny word en verhit word en gebuig word en afgekoel word en weer gebuig word. Ons sou almal heel hard geprotesteer het as so iets met ons gebeur het en geskree het van pyn en gehuil het.
Maar elke snit, elke buig en elke draai is nodig om iets nuuts en pragtig te maak. Hoe sou die boom nie bly gewees het as hy maar net kon weet dat hy besig is om getransformeer te word in iets besonders wat vir ewig kan hou.
So is dit ook met ons en leer Jakobus ons dat ons ons moet verbly wanneer ons deur moeilike tye moet gaan omdat dit beteken dat die Here iets besonders van ons lewens maak en ons vorm net soos die vioolmaker die boomstomp verander in iets ongeloofliks.
Jakobus 1:2-3 sê: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.“
Natuurlik is dit makliker gesê as gedoen want ons kan nie die finale produk sien nie, ons kan nie die anderkant van die moeilike omstandighede sien terwyl ons onsself daarin bevind nie.
Dit sou ‘n tragedie wees as die boom die vioolmaker êrens in die proses kon keer, kon keer dat hy aangaan met sy kunswerk. Wat sal die uiteinde dan wees? So sou die boom nooit iets nuuts en mooi kon word nie, maar sou dan net opgesny en stukkend gebly het en die viool sou nooit gemaak kon word nie. Die boom sou seker nog ‘n doel kon dien as vuurmaakhout en vir die kort tydjie wat dit brand dalk nog iets beteken. As ek kon kies sou ek kies om eerder ‘n viool te wees as vuurmaakhout.
Die bekendste en waarskynlik die beste vioolbouer wat nog geleef het is sekerlik Antonio Stradivari. Hy het op ‘n keer gesê: “God needs violins to send his music into the world, and if my violins are defective, God’s music will be spoiled.” Mag jy ‘n viool wees wat sing van die Here se glorie en sy eer en sy liefde en genade, ongeag van die pyn en vorming wat jy moet deurgaan om dit reg te kry!
Gedagte vir die dag – Om by die HERE te skuil is beter
Reg in die middel van die Bybel kry ons Psalm 118. As mens die verse van die Bybel tel dan is Psalm 118:8 presies in die middel. Die middelste vers van die Bybel. En wat sê die middelste vers van die Bybel?
“In my angs het ek geroep: “HERE!” – en Hy het vir my ruimte (breathing space) gemaak!” (v. 5) Hy is vir my; ek is nie bang nie (v. 6) – my krag en my sterkte was die HERE; Hy het tot my redding (‘Jeshua’!) gekom in elke moeilikheid waarin ek beland het (v. 14). Hy wend die krag van sy regterhand aan (v. 15-16). Die Here is die krag en die sterkte – die Een wat redding verskaf uit elke moeilikheid.
Hy het my gered uit die tentakels van die dood! In Hebreeus is die dood “Moth”. Moth beteken om te sterf, maar is tegelyk ook die naam van die Kaänanitiese god van die dood. Maar die HERE is God. Hy het Moth oorwin!
Wat is die Psalmdigter se reaksie op dit wat die HERE gedoen het en doen en op Wie Hy is? Hy sê in vers 28 en 29:
“U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. Loof die HERE, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Elkeen van ons kan ook terugkyk oor ons hele lewe, en getuig van die kere waar die HERE ons bewaar het, en gered het, en uitkoms gegee het. En daarom juis ook in die diepste nood aan Hom bly vashou want ons weet: Hy sal dit weer doen!
Hy is die HERE wat ons deur Jesus Christus ook gered het van die ewige dood! Hoe kan ons dan anders as om ook uit te roep: “Loof die HERE, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Maar dan ook ons lof aan Hom gaan leef sodat dit sigbaar word in ons woorde en dade en liefde – vir Hom en vir ons naaste – en in ons deelname in die opbou en uitbou van die Kerk en in ons ywer vir sy Koninkryk.
Onthou: Sy Liefde sal jou nooit los nie!