Gedagte vir die dag – Vrygemaak om te Volg

Wanneer die Here ons vry maak kan ons nie anders as om aan Hom te wil gehoorsaam wees nie.  En boonop los die Here ons nie net daar wanneer Hy ons red nie. Hy hou aan om in ons te werk sodat ons met energie vir Hom wil werk. Dit is wat Filippense 2:12-13 wil kom sê:

“My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Paulus vermaan sy lesers om gehoorsaam te wees, maar daar is ‘n spanning, ‘n afwagting tussen dit wat God doen en dit wat ons moet doen.  Paulus sê dat wanneer ons verlos is dan gee God nog vir ons die energie om gehoorsaam te wees en sy wil te doen.  ‘n Wil om te doen wat God wil hê ons moet doen. Die Gees van God werk in ons, so maak Hy ons gewillig en bekwaam om sy Wil te doen.  Daarom moet ons dit ook voluit doen, voluit vir Hom lewe – halfhartigheid is net nie goed genoeg nie.

Maar hoe lyk dit?  Hoe is mens so gehoorsaam aan die Here?  Ek dink dit begin daarby om sy Wil vir ons lewe te soek en te ken.  Dit help nie ons wil die Here gehoorsaam as ons nie eens weet wat dit wat Hy van ons verwag nie.  Efesiërs 5:17 sê Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” Ons denke moet vernuwe word sodat ons kan onderskei wat vir die Here goed en aanneemlik en volmaak is, wat sy Wil is (vgl. Rom 12:2).

Dit is iets wat met ons gebeur wanneer ons die Woord van die Here bestudeer.  Wanneer ons die Woord bestudeer dan begin ons sien dat die Here eintlik van ons verwag om soos Jesus te lewe.  Efesiërs 5:1 en 2 sê: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.”

In 1 Johannes 2:5-6 lees ons dit ook: Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”

Mag ons ook in dankbaarheid op God se genade reageer met gehoorsaamheid.  En mag ons gehoorsaamheid meer inhou as net godsdienstige oefeninge, maar eerder soek en strewe daarna om Jesus te ken en sy voorbeeld te volg.  Sy voorbeeld van liefde!