Gedagte vir die dag – Rus in God se Sorg

Hoe belangrik is dit vir jou om te rus, om te “recharge”? Hierdie kan dalk klink na ‘n vraag met ‘n maklike antwoord, maar in die tyd waarin ons leef raak dit al belangriker.  In ‘n wêreld waar uitslae belangriker is as mense se eie welstand is dit maklik om meegesleur te word daarin en op daai trein te klim net om êrens te kom in die lewe.  Om anders as die wêreld te leef (Rom 12:2 wat ons gister weer gelees het!) beteken ook om te kies vir wat werklik belangrik is en dit geld ook vir jou tyd.

Wat DOEN jy om jou batterye te herlaai?  Net soos jou selfoon nie gaan laai as jy hom net bietjie op sy rug laat lê vir ‘n rukkie nie, gaan dit jou ook nie veel help nie.  Mens moet iewers ingeprop wees. Dit is soms belangrik om net te lê, maar ons moet die bietjie tyd wat ons het om te rus ook regtig goed gebruik en moet daarom dinge doen wat ons werklik “energize”!

Ongelukkig kry die wêreld dit nogal maklik reg om ons te laat fokus op al die slegte nuus en negatiewe dinge in die wêreld. Dan kyk ons maklik die mooi in die lewe, die gawes uit die Here se Hand, mis.  Daarom is dit nodig om elke dag moeite te doen om iets besonders raak te sien, en te onthou alles kom van God af en Hy sorg elke dag vir jou.  Hierdie gaan nie net daaroor om lekker te rus en mooi dinge te beleef sodat ons net lekker kan voel nie.  Dit gaan ook daaroor om weer op God te fokus.  Om te onthou dat Hy die Middelpunt, die Skepper, die Gewer van alles is.  Dat die lewe nie net verby ons gaan en ons alles as vansselfsprekend aanvaar nie, maar dat ons oë sal oop wees sodat ons al die gawes van God kan raaksien en werklik dankbaar daarvoor sal leef.

Lees vandag Matt 6:25-34.  Vers 26-30 sê:

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?”

Daar gebeur ‘n belangrike ding wanneer ons na die “wilde voëls” en die “veldlelies” kyk.  Ons moet raaksien dat die Here vir ons alles wat ons nodig het gee.  Dat ons werklik op Hom kan vertrou en ons dus nie hoef te bekommer oor enige iets nie, omdat ons weet dat Hy vir ons sorg.  Maak moeite hierdie week om dít raak te sien.