Gedagte vir die dag – Om by die HERE te skuil is beter

Reg in die middel van die Bybel kry ons Psalm 118.  As mens die verse van die Bybel tel dan is Psalm 118:8 presies in die middel.  Die middelste vers van die Bybel.  En wat sê die middelste vers van die Bybel?

“Om by die HERE te skuil, is beter as om op mense te vertrou.”
JAHWEH – Die HERE. Die Naam van die Here kom 22 keer in hierdie Psalm voor. Dit is HY op wie ons moet vertrou.  Hy is wie Hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy sal doen. Dit is die HERE,  en GELOOF is om dit te weet! – Die digter van Psalm 118 getuig van hierdie vaste geloof!
Die HERE is die VerbondsGod – die God van Abraham, Isak en Jakob (Israel)  – die God van Moses en Aäron – wat die volk uit Egipte gelei het – wat die volk vir 40 jaar in die woestyn beskerm en bewaar en gevoed het – wat hulle in die beloofde land ingelei het en hulle vyande voor hulle oë vernietig het, omdat Hy Hom aan sy volk verbind het!
Hy is ook die God wat in die lewe van indiwidue ingryp wanneer hulle nood op die hoogste is  – soos hierdie digter (waarskynlik was hy ‘n koning).  Kyk na ‘n paar van die beelde wat hy gebruik:

In my angs het ek geroep: “HERE!” – en Hy het vir my ruimte (breathing space) gemaak!” (v. 5)  Hy is vir my; ek is nie bang nie (v. 6) – my krag en my sterkte was die HERE; Hy het tot my redding (‘Jeshua’!) gekom in elke moeilikheid waarin ek beland het (v. 14). Hy wend die krag van sy regterhand aan (v. 15-16). Die Here is die krag en die sterkte – die Een wat redding verskaf uit elke moeilikheid.

Hy het my gered uit die tentakels van die dood! In Hebreeus is die dood “Moth”. Moth beteken om te sterf, maar is tegelyk ook die naam van die Kaänanitiese god van die dood. Maar die HERE is God.  Hy het Moth oorwin!

Wat is die Psalmdigter se reaksie op dit wat die HERE gedoen het en doen en op Wie Hy is?  Hy sê in vers 28 en 29:

“U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.  Loof die HERE, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Elkeen van ons kan ook terugkyk oor ons hele lewe, en getuig van die kere waar die HERE ons bewaar het, en gered het, en uitkoms gegee het. En daarom juis ook in die diepste nood aan Hom bly vashou want ons weet: Hy sal dit weer doen!

Hy is die HERE wat ons deur Jesus Christus ook gered het van die ewige dood!  Hoe kan ons dan anders as om ook uit te roep: “Loof die HERE, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Maar dan ook ons lof aan Hom gaan leef sodat dit sigbaar word in ons woorde en dade en liefde – vir Hom en vir ons naaste – en in ons deelname in die opbou en uitbou van die Kerk en in ons ywer vir sy Koninkryk.

Onthou: Sy Liefde sal jou nooit los nie!