Week van Gebed 2021 – Dag 2

Gister het ons in Matteus 6 gelees dat die Here Jesus sy dissipels aangespoor het om die gesindheid en motivering waarmee hulle tot Hom bid te ondersoek. Jesus het sy dissipels uitgenooi om die binnekamer te besoek met die oog op gemeenskap met die Vader wat in die verborgene sien en beloon.  Die binnekamer of binneste kamer (2020-vertaling) is ’n belangrike aspek van ons voorbereiding vir gebed.

’n Tweede belangrike voorbereidende aspek vir gelowiges en die kerk se gebedslewe, is die dissipline van ’n tydsgleuf vir gebed tot God. Om tyd te maak vir afsondering met God, is ’n uitdaging waarmee menige gelowige worstel. Dit is nie eenvoudig om tyd in te ruim en die dissipline te vestig vir ritmiese gebedstye saam met God nie.

Kyk na hierdie twee verse wat ons dalk so biejtie kan help om hieroor na te dink.  Psalm 5:4 (2020 Vertaling) sê:

“Here, in die oggend hoor U my stem,
in die oggend lê ek my saak aan U voor, en wag.”

En Jesaja 50:4 sê op sy beurt: “Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ’n leerling moet luister.”

Die bidders van Psalm 5 en Jesaja 50 getuig dat God in die oggend met hulle besig is. God hoor my stem; God laat my opnuut luister. Dit is in die oggend dat die bidder sy/haar saak voor die Here bring en met die gesindheid van ’n leerling na God toe gaan. Daarmee kom Dr. Murray se tema van die leerskool van die Here Jesus aan die orde.  Die oggend skep geleentheid om opnuut na God te luister, as’t ware weer te probeer, jouself oop te stel vir wat God se wil is en aan te sluit by dit waarmee God besig is.

Dr. Murray skryf passievol oor die belang van die oggend-uur as geloofsdissipline vir God se kinders. Van die vroegste tye af, skryf hy, het die diensknegte van God die môre-uur beskou as uitnemend geskik vir die aanbidding van God. Die onwrikbare besluit om die môrewaak (oggend gebed) waar te neem en die eerste halfuur van die dag alleen met God deur te bring, is een van die heel belangrikste dissiplines vir die heiliging van die geloofslewe.

Dr. Murray beskryf die doel van die môrewaak as geloofsdissipline, om die teenwoordigheid van Christus vir die hele dag te verseker.  Namate die môre-uur begin om sy uitwerking op die dag af te druk, sal die dag reageer op sy eerste halfuur, en gemeenskap met Christus sal ’n nuwe betekenis en ’n nuwe krag verkry. Dr. Murray is daarvan oortuig dat die vaste voorneme om die teenwoordigheid van Christus voor alles te bekom, vanuit die onderhouding van die môre-uur groei en die grondtoon van ons daaglikse lewe word.

Die Week van Gebed aan die begin van die jaar is ’n goeie praktyk. Mag die Here ons die dissipline gee om sy aangesig en teenwoordigheid elke dag te soek.

Temas vir gebed:

  • Vra die Here vir die toewyding en deursettingsvermoë om daagliks tyd af te sonder vir gemeenskap met God.
  • Bid dat God ons in ons tyd van stilte by Hom, bewus sal maak van ons diens vir die koninkryk van God in die wen van siele en voorbidding.
  • Bid vir ons skole, kinders en onderwysers, in hierdie onsekere en gevaarlike tyd – dat die Here hulle sal beskerm en die skooljaar sal seën.

Week van Gebed 2021 – Dag 1

Onder normale omstandighede sou ons elke aand hierdie week in ons aanbiddingsruimte bymekaar gekom het vir ons Week van Gebed eredienste.  Al kan ons nie bymekaar kom daarvoor nie, wil ons steeds hierdie week aan gebed wy en as gemeente saam bid.  Daarvoor gaan ons dagstukkies dan hierdie week op gebed fokus en ons leen so bietjie gedagtes uit die pragtige stukke wat die Christelike Lektuur Fonds vir hierdie jaar se Week van Gebed gepubliseer het.

Die Week van Gebed aan die begin van ’n nuwe jaar is ’n belangrike geloofspraktyk. Daardeur vestig ons geloofsritmes om ons lewe in God se teenwoordigheid te begelei. Ons dra die nuwe jaar aan God op en erken daarmee ons totale afhanklikheid van God.

In Matteus 6:6 beklemtoon Jesus die gesindheid waarmee gelowiges behoort te bid: “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Jesus wil sy hoorders leer van intimiteit met God en ’n geloofshouding waarin God alleen vir ons genoeg is; dat God ons begeerte en diepste verlange moet wees. Daarom nooi Jesus ons uit na die binnekamer, of soos die 2020-vertaling dit noem, die “binneste kamer”, waar niemand anders kan hoor of sien wat tuseen my en God gebeur nie.

Die uitdrukking “binneste kamer” nooi ons uit om oor méér te dink as net die fisiese vertrek in ’n huis waar ek met God alleen kan wees. Dit open ook die moontlikheid om oor die hart as setel van my innerlike gemeenskap met God te dink. Dan word die binneste kamer die ruimte waar God my ontmoet, op enige plek en tyd waar ek mag beweeg.

Die bekende Dr. Andrew Murray skryf breedvoerig oor gebed en die gelowige se geloofskarakter, soos wat dit in Deel IV van sy Versamelde Werke uitgelê is. Vir Dr. Murray was die binnekamer en die oggend-gebed belangrike elemente van die gelowige se gemeenskap met God.

Hy noem in hierdie verband van die daaglikse behoefte aan geloofsdissiplines die volgende: afsondering en stilte; die ware gees van gebed; die stigtelike lees van God se Woord; die gemeenskap met God waarvoor hierdie dinge bestem is en waardeur alleen hulle ’n seën kan aanbring; die geestelike lewe wat hulle bedoel is om te versterk en geskik te maak vir die daaglikse plig in omgang met die wêreld; die diens aan die koninkryk van God in die wen van siele en voorbidding.

Volgens Dr. Murray is die binnekamer die plek of ruimte waar die Here Jesus sy skool hou. Hy stel dit sterk: “Die Christen wat nie na sy binnekamer gaan nie, kan onmoontlik deur die Here geleer word om te bid… Beoefen die teenwoordigheid van God. Roep die hulp van die Here Jesus in om jou te leer om opreg te bid.”

Mag die 2021 Week van Gebed ons Kerkfamilie na die binneste kamer nooi, sodat ons ons opnuut kan verbind aan die Vader wat in die verborgeheid sien.

Temas vir gebed:

  • Vra die Here om in ons die begeerte te wek om alleen sy wil en eer te soek en na te streef.
  • Bid dat die Here ons motivering tot en gesindheid met ons gebede sal inspireer sodat ons gebede nie selfgerig sal wees nie.
  • Vir almal met COVID-19, maar ook vir elke gesin wat direk of indirek deur die siekte geraak word.

Gedagte vir die dag – Die Here is Naby

Psalm 145:18-19 sê:

Die Here is naby almal wat Hom aanroep,
almal wat Hom in opregtheid aanroep.
Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.

Wat ‘n wonderlike vertroosting om te weet dat die Here naby is!  Hy is die Koning wat op die troon sit en die Skepper en die Heerser, maar Hy is nie vêr op ‘n afstand en ontoeganklik nie.  Hy buig af, Hy kom naby aan ons.  So naby dat Hy ons hoor as ons om hulp roep.  Nader as die trane wat oor jou wang rol.

Daar word in die Ou Testament op verskillende maniere gepraat oor God se nabyheid.  Psalm 23 praat van God se goedheid en guns wat jou sal agtervolg.  Dit is nie die rower of die roofdier wat jou in die donker dieptes agtervolg nie, maar God se nabye teenwoordigheid.

Elders kry ons die beeld van die rivier en die oewer. Dat God se nabyheid so werk – soos wat die rivier en die oewer mekaar nooit kan los nie en oral saam gaan, so is die Here by ons, langs ons, teenaan ons en sal Hy ons nooit los nie.

Natuurlik is dit ook so dat dit nie altyd ons eie belewenis is nie.  Dat daar tye in ons lewens is wat dit voel of die Here vêr van ons af is.  Maar ons belewenis verander niks aan die feit dat die Here naby is nie.  Hy bly naby.  Hy bly “ondersteunend en helpend” (v. 14).

Dalk moet ons ingesteldheid in die tye wat die Here vir ons vêr voel, so bietjie anders lyk.  Dat ons nie armpies gevou sit en wag vir die Here om “op te daag” nie, maar eerder in hierdie tye juis die Here se aangesig soek.  Aktief soek, luister, lees, bid…

Die Here se nabyheid word sigbaar en tasbaar in Jesus Christus, Immanuel, God met ons.  Hy kom klim binne in ons lewens in en kom woon tussen ons.  Hy kom wys vir ons hoe God se liefde lyk – hoe die Vader se hart werk.  Dan kom sterf Hy aan die kruis en roep uit “My God, my God, waarom het U my verlaat!” En op daardie Goeie Vrydag en op daardie Stil Saterdag voel dit of die Here nou regtig vêr is.  Maar dan kom die deurbraak – die opstanding, die oorwinning!

So het die dissipels ook weer verlate gevoel na die Here Jesus se hemelvaart.  Dan kom wys die Here weer sy nabyheid en stort sy Gees oor hulle uit.

Soos ‘n Vader sorg vir sy kinders, so sorg die Here vir die wat Hom dien (Ps 103).  Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (Joh. 1).  Die Gees kom woon in ons en staan ons in ons swakheid by (Rom. 8).  Waarlik die Drie-Enige God is naby.  Dit is hoe Hy Homself aan ons kom openbaar.  Dit is he Hy wil hê dat ons Hom leer ken.

Die Here is naby jou en Hy hoor jou gebede.  Mag jy dit ook vandag spesiaal beleef.

Gedagte vir die dag – U maak U Hand oop

Psalm 145:16 sê:

“U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.”

In die Ou Vertaling klink die vers so: U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”

Die meeste Engelse vertalings vertaal die vers met: You open your hand and satisfy the desires of every living thing.”

Dink hoe die wêreld sou gelyk het as die Here altyd aan al wat leef en beef presies gegee het net wat hulle wil hê.  Dit sou ‘n redelike chaotiese prentjie gewees het as mens en dier die heeltyd gekry het wat hul harte begeer.  Mense se harte is nie altyd gevul met goeie en onskuldige begeertes nie.  Net soos wat die roofdier in die veld vleis bo alles begeer is mense se begeertes soms ook, en selfs meer, bloeddorstig en selfsugtig as die van die gevaarlikste roofdier.

Maar die teendeel is ook natuurlik waar, en dit is dat ons as kinders van die Here na die Here toe gaan in gebed en smeking met gebedsversoeke van goeie dinge wat ons graag wil hê en belangrike dinge wat ons baie nodig het.  As dinge nie uitwerk soos en wanneer ons dit wil hê nie, dan raak ons vinnig negatief en ongeduldig en wonder of ons gebede dalk teen die plafon vasslaan.

Gelukkig sorg die Here vir ons in liefde en gee Hy nie altyd alles wat ons wil hê wanneer ons dit wil hê nie.  Hy gee wat ons nodig het, en méér!  Hy skenk sy guns in oorvloed, Hy versadig alles wat lewe met welbehae. Oorvloed. Versadig. Satisfy.

Om aan die Here vas te hou beteken met ander woorde nie dat ons altyd alles het wat ons dink ons moet hê nie, maar dat ons nog altyd die Here het.  Selfs al het ons niks nie, het ons nog die Here, en het Hy ons.  Dat ons nog ons vreugde in Hom kan vind en kan weet dat niks ons uit sy Hand kan ruk nie.  Dat Hy ons versadig op maniere wat ons nie altyd raaksien of verstaan nie.

Dit beteken ook (soos ons vroeër die week ook oor God se goedheid en koningskap gepraat het) dat ons met ons begeertes, ons ontevredenheid, ons spanning en ons vrae na die Here toe moet gaan en met Hom daaroor praat.  Dit is nie altyd maklike gesprekke nie (gaan lees weer die Psalms!), maar Hy bly vir ons ons enigste toevlug.

Onthou die woorde van Filippense 4:6-7.  Mag jy vandag daardie vrede beleef:

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Gedagte vir die dag – As jy geval het…

Die verskuiwing wat plaasvind in vers 14 van Psalm 145 is meesterlik.  Ons het nou net gelees van die Koningskap van God en dat Hy op die hoogste troon sit.  Hy is dit oppermagtigste Heerser van die heersers.  Daar is niemand groter as Hy nie, niemand met meer mag as Hy nie.  Hy regeer.  Nou lees ons in vers 14 wat hierdie magtigste van Konings doen:

Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.

Hoe wonderlik is dit nie dat ons weer hier in die Ou Testament weer so mooi beskrywing van die Evangelie kry nie!  Dit is wat die Here doen. Hy, die Koning van die konings, buig af na die mens om in te gryp in ons lewens.  Hy buig af om te help.  Die Here Jesus kom af om te kom soek en te red die wat verlore is.  Ons Here is so groot dat Hy nie net op die troon van die heelal sit nie, maar dat Hy ook elkeen help wat val.  Waarlik Hy is Wie Hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy doen!

Die Hebreeuse werkwoordvorme hier bedoel eintlik dat die Here altyd aanhou op te help en te ondersteun.  Dit hou nie op nie.  Die Here is helpend en ondersteunend.  Aanhoudend. Sonder ophou.  Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Want sien die mens hou aan om te val.  Die sorge van die lewe hou aan om te druk.  Maar die Here hou aan om te help en te ondersteun.

Ons almal ken tog daardie gevoel.  Dat daar dinge is wat ons bekommer, dinge is wat ons bedruk of teneergedruk maak.  Dat die sorge van die lewe voel of dit te veel vir ons raak.  Die Here nooi ons om met daardie sorge en swaar laste na Hom toe te kom.

So ook ken ons daardie verskriklike gevoel van dat mens geval het… hetsy deur jou eie toedoen of deur omstandighede.  Dat dinge net nie reg wil loop nie.  Of daardie gevoel wanneer jy weet jy het nie net geval nie, maar gefaal.  Dat jy besef dat jy ‘n fout gemaak het en dat jy nie weet hoe jy dit ooit weer kan regmaak nie, of hoe jy ooit weer gaan opstaan nie.

Die Here se genade is so groot dat Hy ons ook uit daardie gevalle omstandighede ophelp.  Omdat Hy afgebuig het, omdat Hy die prys betaal het, omdat Hy ons straf reeds gedra het, kan ons na Hom toe kom ook met ons grootste las, ons grootste fout – ook wanneer ons die hardste en die verste geval het.

Lees gerus weer Filippense 2:5-11.  Die Here het Homself die laagste gemaak – aan die kruis gesterf – sodat ons weer kan opstaan as ons geval het. En juis daarom sal elkeen laag buig voor die Naam bo elke naam!

Mag jy vandag die Here se teenwoordigheid helpend en ondersteunend beleef.