Gister het ons in Matteus 6 gelees dat die Here Jesus sy dissipels aangespoor het om die gesindheid en motivering waarmee hulle tot Hom bid te ondersoek. Jesus het sy dissipels uitgenooi om die binnekamer te besoek met die oog op gemeenskap met die Vader wat in die verborgene sien en beloon. Die binnekamer of binneste kamer (2020-vertaling) is ’n belangrike aspek van ons voorbereiding vir gebed.
’n Tweede belangrike voorbereidende aspek vir gelowiges en die kerk se gebedslewe, is die dissipline van ’n tydsgleuf vir gebed tot God. Om tyd te maak vir afsondering met God, is ’n uitdaging waarmee menige gelowige worstel. Dit is nie eenvoudig om tyd in te ruim en die dissipline te vestig vir ritmiese gebedstye saam met God nie.
Kyk na hierdie twee verse wat ons dalk so biejtie kan help om hieroor na te dink. Psalm 5:4 (2020 Vertaling) sê:
“Here, in die oggend hoor U my stem,
in die oggend lê ek my saak aan U voor, en wag.”
En Jesaja 50:4 sê op sy beurt: “Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ’n leerling moet luister.”
Die bidders van Psalm 5 en Jesaja 50 getuig dat God in die oggend met hulle besig is. God hoor my stem; God laat my opnuut luister. Dit is in die oggend dat die bidder sy/haar saak voor die Here bring en met die gesindheid van ’n leerling na God toe gaan. Daarmee kom Dr. Murray se tema van die leerskool van die Here Jesus aan die orde. Die oggend skep geleentheid om opnuut na God te luister, as’t ware weer te probeer, jouself oop te stel vir wat God se wil is en aan te sluit by dit waarmee God besig is.
Dr. Murray skryf passievol oor die belang van die oggend-uur as geloofsdissipline vir God se kinders. Van die vroegste tye af, skryf hy, het die diensknegte van God die môre-uur beskou as uitnemend geskik vir die aanbidding van God. Die onwrikbare besluit om die môrewaak (oggend gebed) waar te neem en die eerste halfuur van die dag alleen met God deur te bring, is een van die heel belangrikste dissiplines vir die heiliging van die geloofslewe.
Dr. Murray beskryf die doel van die môrewaak as geloofsdissipline, om die teenwoordigheid van Christus vir die hele dag te verseker. Namate die môre-uur begin om sy uitwerking op die dag af te druk, sal die dag reageer op sy eerste halfuur, en gemeenskap met Christus sal ’n nuwe betekenis en ’n nuwe krag verkry. Dr. Murray is daarvan oortuig dat die vaste voorneme om die teenwoordigheid van Christus voor alles te bekom, vanuit die onderhouding van die môre-uur groei en die grondtoon van ons daaglikse lewe word.
Die Week van Gebed aan die begin van die jaar is ’n goeie praktyk. Mag die Here ons die dissipline gee om sy aangesig en teenwoordigheid elke dag te soek.
Temas vir gebed:
- Vra die Here vir die toewyding en deursettingsvermoë om daagliks tyd af te sonder vir gemeenskap met God.
- Bid dat God ons in ons tyd van stilte by Hom, bewus sal maak van ons diens vir die koninkryk van God in die wen van siele en voorbidding.
- Bid vir ons skole, kinders en onderwysers, in hierdie onsekere en gevaarlike tyd – dat die Here hulle sal beskerm en die skooljaar sal seën.