40 Dae 2022 – Dag 4
Ons is nog nie klaar met die “Byse Manne” nie! (As jy wonder hoekom ons “wyse manne” met ‘n B spel, gaan lees eers gister se dagstukkie.) Daar is nog Koninkrykslesse om by hulle te leer. Dit gaan oor wat gebeur wanneer hulle by Jesus aankom. Ons lees in Matteus 2:11 daarvan:
“Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.”
Die woord wat ons hier vertaal met “reissakke” sou ons beter kon vertaal met “skatkiste”. Hulle het hulle skatkiste saamgebring en dit wat vir hulle waardevol was gegee om aan Jesus hulde te bring. Maar waarom nou juis goud, wierook en mirre?
Goud was in daardie tyd nie so skaars of waardevol soos ons vandag daaraan dink nie, maar dit is wat konings in oorvloed gehad het. 1 Konings 9:27-28 vertel vir ons: “Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.”
Dit was ‘n koninklike geskenk en met hierdie stukkie detail kom bevestig Matteus weer vir ons dat Jesus die Koning is. ‘n Voorskou van die feit dat Hy nie net die Koning van die Jode is nie, maar die Koning oor alles en almal.
Wierook is gebrand in die tempel as offer. Eksodus 30:8 sê: “Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word.” Deur hierdie geskenk word die offer wat Jesus sou bring ook reeds hier uitgespel. Dat Hy self die geur in die tempel sou wees van ‘n offer wat aan God gebring is vir die versoening van sonde, dat Hy self die offer was.
Mirre is gebruik as verdowingsmiddel vir mense wat gekruisig word, soos Markus 15:23 vir ons wys: “Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie.” Dit is ook gebruik om ‘n liggaam te behandel voor ‘n begrafnis. Johannes 19:39 & 40 sê:
“Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.”
Hier kry ons ook ‘n voorskou van wat met die Koning sou gebeur. Hy het gesterf aan die kruis, sy liggaam is behandel, maar Hy het opgestaan. Dat Hy moes ly en sterf en begrawe moes word, maar dat die dood Hom nie gevange sou kon hou nie.
In ons soeke na die antwoord op die vraag oor watter kant bo is in hierdie deurmekaar wêreld begin Matteus ons vroeg in sy evangelie al help om te sien dat daar Een is wat bo staan – Koning Jesus. As ons dit besef dan kan ons begin om uit te werk wat dit beteken om weer ons wêreld, ons lewens regtekant bo te draai.
40 Dae 2022 – Dag 3
Een van my seuns (wat ter wille van sy tiener-selfbeeld nou naamloos sal bly) het eendag by die huis gekom na daar die oggend by die kleuterskool geoefen is vir die Kersspel. So gee hy die dag sy oupa ‘n drukkie en my pa sê vir hom: “Oupa se engeltjie!” En my seuntjie antwoord dadelik terug: “Oupa ek is nie ‘n engeltjie nie, ek is ‘n Byse Man!” (Gespel met ‘n B, want hy kon nie ‘n W sê nie.)
Nou die storie van die “wyse manne” wat Jesus kort na sy geboorte kom besoek is natuurlik een van die groot hoogtepunte van die Kersverhaal. Ongelukkig word dit meestal slegs in Kerstyd gelees, terwyl hierdie gedeelte van Matteus so ryk is aan Koninkrykstaal en ons al duideliker kan sien hoe die Koninkryk van die Hemel, reeds met Jesus se geboorte, begin deurbreek.
Die verhaal van die Sterrekykers wat uit die ooste kom om die Koning van die Jode te kom opsoek is opgeteken in Matteus 2. Lees gerus weer die hele hoofstuk deur. Dit is gelaai met aanhalings uit die Ou Testament, profesieë wat in Jesus vervul word (sien Matt 2:5-6, 15, 17-18, 23). Daarmee word weereens beklemtoon dat daar geen twyfel moet wees oor die identiteit van Jesus nie. Hy IS die lankverwagte Messias. Die Een wat moes kom.
Die verhaal leer ons ‘n paar dinge oor die Koninkryk. Eerstens dat Jesus, “Hy wat as koning van die Jode gebore is” (2:2), nie kom net vir die Jode nie. Sy Koninkryk sluit almal in! Die sterrekykers kom uit die ooste (waarskynlik uit Babilonië). Hulle is nie Jode nie, maar hulle kom om aan die Koning hulde te bewys. Sy Koningskap strek tot aan die uithoeke van die wêreld.
Tweedens leer ons vir Herodes, ‘n aardse koning, hier ken en begin Matteus om vir Jesus, die Hemelse Koning wat aarde toe gekom het, te kontrasteer met aardse konings. Die sterrekykers kom soek die koning by die paleis, want dit is mos waar konings bly. Maar Hy is nie daar nie, want Hy is nie soos aardse konings nie. Hy is in ‘n nederige krip in Bethlehem gebore.
Vir hulle wat hulle eie eer soek, soos Herodes, is die koms van die Koning, nie noodwendig goeie nuus nie, maar eerder ‘n bedreiging. Die Koninkryk van die Hemel gaan oor selfopoffering. Daarom dat Herodes so hard probeer en na sulke uiterstes gaan om vir Jesus uit te wis.
Derdens leer ons dat die koms van God se Koninkryk onkeerbaar is. Selfs nie eers die woedende Herodes se massa kindermoord kon dit keer nie. Hy sal sy plan uitvoer! God stuur vir Maria en Josef en die Kindjie na Egipte om hulle te beskerm en daarna na Nasaret, net soos die profete gesê het.
Dank die Here dat ek en jy ook deel van sy Koninkryk kan wees, ook hier in die Bosveld, aan die uithoeke van die wêreld. En dat Hy nie soos aardse konings en leiers is nie, maar dat Hy aan Wie al die eer toekom, ons nederige en sagmoedige Koning is.
40 Dae 2022 – Dag 2
Die idee van Jesus wat God se Koninkryk kom vestig het is reeds van die eerste vers van die Nuwe Testament af sigbaar. Matteus 1:1 sê:
“Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham”
Matteus beklemtoon die feit dat Jesus uit die nageslag van Abraham kom en dat Hy ‘n afstammeling van koning Dawid is (sien Matt 1:6) en kom wys daarmee reeds van die begin af dat ons hier met die beloofde Koning wat moes kom te doen het. Saam met die belofte in Daniël 2 wat ons gister gelees het, is daar natuurlik die belofte dat die Messias (die Gesalfde van God) uit die huis van Dawid sou kom.
Dit kom uit God se belofte aan Dawid in 2 Samuel 7:12-13 wat sê:
“Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee. Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan.”
As ons nog bietjie verder terugblaai dan kry ons ook in Genesis 22:18 die belofte (waaraan Matteus se Joodse lesers vasgehou het) wat sê dat al die nasies van die aarde in Abraham se nageslag geseën sal wees.
Jy sien hoe belangrik dit is dat Matteus vir Jesus hier die Seun van Dawid en die seun van Abraham noem! Met sorgvuldige moeite bewys hy hierdie feite dan in die opvolgende verse met Jesus se geslagsregister. Wat vir ons maklik soos ‘n onsinnige lang lys van name kan lyk, of soos net ‘n onnodige lang inleiding kan klink, wat ons maklik oorslaan om by die meer interessante deel van die verhaal uit te kom, is eintlik alreeds besig om vir ons so baie te sê oor Wie Jesus is.
Dit is ook sommer hier aan die begin al vir ons ‘n groot leidraad in ons soeke na hoe die Koninkryk werk en watter kant bo moet wees – dit wys vir ons sonder twyfel Wie die Koning is en nooi ons dadelik in om meer uit te vind oor Hom en wat dit beteken om in SY Koninkryk te lewe.
Dit openbaar ook aan ons iets oor die getrouheid en die grootheid van God. Dat sy eeue oue beloftes waar word. Dat niks sy Plan in die wiele ry nie (selfs nie eers die sondes van die mense in Jesus se geslagsregister nie). Dat Hy die Een is wat in beheer. Soos wat ons in die dae wat kom alhoemeer gaan ontdek: Jesus is Koning! In Hom breek die Koninkryk van God aan, en Hy nooi ons om burgers en medebouers daarvan te wees.
40 Dae 2022 – Dag 1
In ‘n deurmekaar wêreld waar alles oor die algemeen voel of niemand meer weet watter kant bo is nie, wil ons in hierdie 40 dae saam soek na antwoorde en weer die wêreld regtekant bo draai. Natuurlik gaan dit nie net oor die wye wêreld nie, maar ook oor elkeen van ons. Dalk voel dit vir jou of jou eie persoonlike lewe op die oomblik die deurmekaar wêreld met al sy probleme soos ‘n lekker rustige piekniek laat lyk.
Om te kan weet watter kant nou eintlik die een is wat moet bo wees, moet ‘n mens natuurlik die saak van die regte kant af beskou. Dit gaan oor perspektief! Matteus help ons met hierdie perspektief. Hy vertel vir ons hoe die Here Jesus die Koninkryk van die Hemel kom aankondig het en dáárin lê die geheim. Jesus het die wêreld só totaal en al verander dat ons nuwe perspektief nodig het om te kan weet watter kant werklik bo is. As ons dan in die volgende 40 dae dieper delf in Matteus gaan ons vinnig agterkom hoe baie daardie perspektief afhang van ons verstaan van die Koninkryk van die Hemel.
Daarom vandag, op dag 1 van 40, dat ons so bietjie agtergrond nodig het oor Matteus se evangelie van die Koninkryk. Die frase “Die Koninkryk van die Hemel” is uniek aan Matteus terwyl die ander evangelies eerder verwys na die “Koninkryk van God”. Laasgenoemde kom natuurlik ook voor in Matteus en daar is baie parallelle verse tussen die evangelies wat vir ons bewys dat dit oor dieselfde Koninkryk gaan.
Maar wat sou die rede wees waarom Jesus in Matteus aangehaal word dat Hy meestal praat van die Koninkryk van die Hemel? By nadere studie sien ons dat Matteus meer na die hemel verwys as al die ander evangelies saam. Om die waarheid te sê verbind Matteus ook die “hemel” aan die “Vader” op meer as 20 geleenthede, terwyl slegs Markus ook hierdie konneksie maak, en dit net 2 keer.
Verder verwys Matteus ook meer as enige ander Nuwe Testamentiese boek na die “Koninkryk”. Behalwe vir die ander 3 evangelies praat Matteus meer oor die Koninkryk as al die ander Nuwe Testamentiese boeke saam! Dit is duidelik dat hierdie twee konsepte van hemel en koninkryk vir Matteus onafskeidbaar belangrik was.
Jesus se Koningskap teenoor die aardse konings word deur Matteus beklemtoon. So ook die Koninkryk van die hemel teenoor die aardse koninkryke. Matteus wou hê dat sy lesers (en ons!) moet weet dat God se koninkryk het gekom en dat dit die aardse koninkryke kom vervang het.
Matteus wil hê dat mense moet sien dat die belofte van Daniël 2-7 waar geword het in Jesus. In Daniël 2:44 lees ons:
“In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ‘n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan.”
Soos die gelowiges in Daniël se tyd en in Matteus se tyd sien ons hoedat die aardse konings en koninkryke teen God en sy koninkryk probeer in opstand kom (vgl. Psalm 2). Maar ons ken die ware Koning en Hy maak ons deel van sy Koninkryk. Dis wanneer ons dit verstaan dat ons in ons soeke na sy Koninkryk gaan ontdek watter kant van ons wêreld eintlik bo moet wees en hoe dit ons prioriteite, ons besluite, ons lewens, ons perspektief verander.
Wat as ons sy opdrag (en belofte!) in Matteus 6:33 regtig begin ernstig opneem en dit doen…?
“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Mag die Here ons help om te ontdek wat dit beteken om sy Koninkryk elke dag, aktief te soek.
Gedagte vir die dag – Verheerlik in lewe en in sterwe
In Filippense 1:20-21 sê Paulus hierdie aangrypende woorde:
“Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Ons moenie dink dat Paulus hier selfmoordneigings het nie. Dit is juis omdat Christus vir hom alles is en sy bron van onuitblusbare blydskap is dat hy hierdie woorde sê. In die lewe hier en nou beleef hy die vreugde en blydskap daarvan om die Here te dien en om te werk vir die verspreiding van die evangelie. Maar hy weet ook dat die heerlikheid van die ewige lewe hierdie lewe verreweg oortref omdat hy dan by die Here gaan wees.
1 Johannes 3:1-2 help ons so bietjie om hierdie houding van Paulus so bietjie beter te verstaan:
Hierdie ingesteldheid van Paulus moes hom regtig onkeerbaar gemaak het. Kan jy dink hoe hy die wagte daar in die tronk moes frustreer het. Dink jouself in…
As hulle hom dreig met die dood, dan is hy soos: “Great! Om te sterwe is vir my wins!” As hulle dan van plan verander en nie vir hom wil gee wat hy wil hê nie en hom eerder laat lewe dan sou hy hulle maklik kon antwoord: “Great! As ek lewe kan ek voortgaan met vrugbare arbeid.” (v. 22)
As die wagte dan besluit om te laat lewe maar om die lewe vir hom nog moeiliker te maak dan antwoord hy hulle met Romeine 8:18 se woorde: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”
Die arme wagte het waarskynlik nie geweet watter kant toe met Paulus nie. Dit maak absoluute sin dat Paulus in Filippense 1:13-14 sê:
“Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”
Paulus se onkeerbare ingesteldheid was moontlik omdat die Here Jesus sy alles was – alles in waarde oortref het. Dit kan ook vir ons waar wees as ons daardie selfde Waarheid ons eie maak! Dalk kan ons saam met Sint Patrick van Ierland hierdie 5de eeuse gebed bid en ons fokus weer op die Here instel:
“Ek staan vandag op met die krag van God om my te lei,
die mag van God om my regop te hou,
die wysheid van God om my te leer,
die oog van God om na my om te sien,
die oor van God om na my te luister,
die woord van God om my te laat getuig,
die hand van God om my te beskerm,
die pad van God om vir my die koers aan te dui,
die skild van God om my te beskerm,
die leermagte van God om my te verdedig.
Wees vanoggend tot vanaand, o Here,
by my en in my.
Christus, wees agter my en voor my.
Christus, wees langs my en rondom my.
Christus, wees bo my en onder my.
Christus, wees by my in die uur van stilte én storm.
Praat met my deur die mond van ‘n vriend
en deur die oë van ‘n vreemdeling.”