40 Dae 2022 – Dag 28
Kyk hoe briljant is Matteus geskryf! Hoofstuk 11 eindig met Jesus se uitnodiging om by Hom rus te vind. Direk daarna in Matteus 12 volg die gedeelte wat Jesus die sabbatdag, die rusdag kom vervul. Lees gerus Matteus 12:1-14 weer deur.
Jesus se dissipels het koring gepluk op die sabbat en die Fariseërs is dadelik ontsteld want dit oortree die wette en hulle gaan klik by Jesus daaroor. Natuurlik om te kyk of Hy iets daaraan gaan doen. Maar Jesus antwoord hulle nie net op so manier dat Hy weer openbaar Wie Hy is nie, maar wys ook hoe dit werk deur iemand op die sabbat te genees.
Eers iets oor die sabbatdag: onthou dat die sabbatdag begin op Vrydagaand met sononder en duur tot Saterdagaand met sononder. Dit is met ander woorde nie Sondag nie. Sondag is die eerste dag van die week – die dag waarop die Here Jesus opgestaan het! (Lees gerus weer Matt 28:1)
Dan moet ons ook onthou hoe ernstig die Jode was oor die nakoming van die 4de gebod, dat ‘n mens nie op die sabbatdag mag werk nie. Daarom het hulle ‘n hele klomp ekstra wette uitgedink om hulleself te beskerm daarteen dat hulle nie per ongeluk die Wet oortree nie. So mag jy byvoorbeeld nie op die sabbat op ‘n stoel gesit het nie, want as die stoel ‘n streep op die grond trek dan het jy geploeg en het jy gewerk en oortree jy die Wet. Dit was belangriker vir hulle om niks te doen nie as wat dit was om goed te doen! Dit gaan nog bietjie verder as alles wat ons vir jare lank uitgedink het wat ‘n mens nie op ‘n Sondag mag doen nie (my eie ma mag bv. op ‘n stadium as predikantsvrou nie op ‘n Sondag haar wasgoed opgehang het nie).
Jesus antwoord die Fariseërs eerstens met ‘n verwysing na Dawid wat as koning saam met sy soldate offerbrood geëet het (1 Sam 21:6). Daarmee sê Hy dadelik iets oor sy eie Koningskap as ware Koning wat regeer. Tweedens verwys Hy na die priesters wat ook op die sabbat dubbeld moes gewerk het (Num 28:9-10) en die sabbatsgebod oortree het, maar nie skuldig was nie. Daarmee sê Hy ook iets oor Homself as die Hoëpriester wat namens ons die offer bring (Vgl. Heb 9:11-12).
Maar dan bring Hy dit nog verder huistoe deur in vers 6 te sê: “Hier is Een wat groter is as die tempel.” Die tempel was die woonplek van God. God se teenwoordigheid by sy volk. Jesus is Immanuel – God met ons! Hy gaan verder en tree as Profeet op en haal aan uit een van die profete (Hos 6:6) en sê in vers 7 en 8:
“As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”
Jesus is die Koning, die Hoëpriester, God met ons, die Profeet, die Here! By HOM is daar rus!
In vers 9-14 wys Jesus waaroor dit gaan. Nie oor ‘n ritualistiese en wettisistiese skyn-gehoorsaamheid aan die wet net ter wille van die wet en my eie sg. heiligheid nie. Maar oor om goed te doen!
Jesus kom wys dat die Wet nie bedoel is om mense bang genoeg te maak vir die hel nie, maar om ons te wys wat dit beteken om in ‘n liefdevolle VERHOUDING met God en met ons naaste te lewe. Hierdie doel kyk die Fariseërs (en ons!) mis wanneer ons die Wet van God reduseer tot slegs ‘n stel reëls wat ons gebruik om kindertjies bang te maak en om vingers na mekaar te wys.
Leef jy vir Jesus, doen jy goeie dinge en probeer jy om nie slegte dinge te doen nie, uit vrees vir die straf van God? Of doen jy dit omdat jy lief is vir Jesus wat jou eerste liefgehad het?
40 Dae 2022 – Dag 27

Uitsig vanaf Berg Arbel oor die See van Galilea
Aan die westekant van die See van Galilea is die berg Arbel. Van bo van hierdie berg het mens ‘n uitsig oor die hele meer en sou mens in Jesus se tyd ook die dorpies langs die kus daarvan duidelik kon sien. Ook die drie dorpies aan die noordelike oewer waaroor Jesus ‘n oordeel uitspreek in Matteus 11:20-24 nl. Gorasin, Betsaida en Kapernaum.
Vir baie jare voor en ná Jesus se tyd was berg Arbel die skuilplek vir die Joodse Selote. Hulle was fanatiese beskermers van die Joodse geloof en het vanuit die grotte in die berg met guerilla-oorlogvoering teen die Romeine geveg. Die Selote se ideologieë was ‘n duidelik sigbare en hoorbare stem in die dorpe rondom die See van Galilea. Een van die twaalf dissipels was vroeër ook deel van hierdie groep en het bekend gestaan as Simon die Seloot (Handl 1:13). Geen wonder dat die Koninkryk van die Hemel wat Jesus kom aankondig het vir hulle ‘n bitter pil was om te sluk nie. Hulle wou natuurlik wraak neem en baklei teen wat die onderdrukkers van die Romeinse ryk aan hulle en hulle godsdiens gedoen het.
Jesus praat as Profeet in bekende profetiese taal oor hierdie dorpe as Hy sê “Ellende wag vir julle…” Net soos wat Jesaja die volk honderde jare vroeër gewaarsku het dat as hulle hulle nie bekeer nie en nie omdraai en eerder God se rigting volg nie, dit hulle ondergang sal beteken – dat Jerusalem sal val en dat hulle in ballingskap weggevoer sou word – so waarsku die Here ook hierdie dorpe.
Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Volk en leiers sal saam van honger sterf, omkom van dors. Die doderyk maak sy keel wyd oop vir hulle, hy sper sy bek groot oop. (Jesaja 5:13-14)
Jesus kom herinner hulle, in woorde wat vir hulle baie bekend moes klink, aan wat gebeur as mense aanhou met selfsug en wraaksug en geweld – meer geweld en moord en doodslag. Dit was ook hierdie groep Selote se lot, reeds so vroeg as die oorlog teen Rome in 66-74 nC.
Die godsdienstige leiers van hierdie dorpe het die God van Israel geken en die geskiedenis van Israel geken. Hulle weet hoe God werk met die onvrugbares (Abraham en Sara), die nat-agter-die-oor, selfvoldane tieners (Josef in Egipte), die kleinste en op-die-oog-af onaansienlikes (Koning Dawid) en ander om sy planne uit te voer. Maar tog is politieke en godsdienstige mag en die stryd teen die Romeinse ryk vir hulle te belangrik. Daarom maak Jesus se nederige herkoms en sagmoedige optrede en woorde vir hulle nie sin nie – is dit moeilik om Hom te volg en te vergewe, hul vyande lief te hê, die ander wang te draai, ens.
Jesus meen dat van almal wat van die Koninkryk van God gehoor het moes dit juis hierdie dorpe gewees het wat tot bekering gekom het. Hulle moes die onderstebo karakter van sy Koninkryk raakgesien en omhels het. Hulle het wonderwerk op wonderwerk gesien en eerstehands beleef hoedat Jesus dit wat Hy gepreek het as die waarheid bewys het deur dit uit te leef. Maar hulle het eerder vasgeklou aan hulle eie eer en eie koninkryke. Tog was dit die eenvoudiges, die kindertjies wat Jesus se woorde gehoor het en dit aanvaar het (Matt 11:25-26).
Jesus vra van mense om Hom te volg, om die “onnatuurlike”/onderstebo ding te doen en volgens Jesus se voorbeeld te leef, eerder as om die “natuurlike”/menslike ding te doen. En dit is moeilik om te doen. Dit is moeilik om op te offer, moeilik om te vergewe, moeilik om ons vyande lief te hê. Dit is moeilik om God se eer te soek eerder as ons eie, moeilik om mense wat volgens ons nie waardig is nie in te nooi, lief te hê en nie te veroordeel nie. Want die menslike natuurlike instink is juis die teenoorgestelde.

Maar dan sê Hy in die opvolgende verse vir mense (wat Hy weet dit moeilik vind om sy Koninkryk te soek) om na Hom toe te kom en Hy sal vir hulle rus gee. Hy wat die mag oor siekte, sonde, dood, die bose en die natuur het, en ook die mag oor die Romeinse en elke ander ryk het – Hy nooi ons uit om by Hom te kom rus vind. Die juk, die las van om in hierdie onderstebo Koninkryk te leef, om Hom te volg – Hy is daar om daardie las vir ons ligter te maak. Om ons te help dra. Hy is vir ons die voorbeeld. Hy is ons bron van krag. By Hom vind ons rus.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)
40 Dae 2022 – Dag 25
Toe my pa die eerste Zorro fliek van Antonio Banderas gesien het was hy so bietjie teleurgesteld. Hy het gevoel daar was heeltemal te min aksie. Die gemaskerde held het na sy mening te min van die meesterlike swaardgevegte en aksietonele gehad wat van Zorro Zorro gemaak het. Toe het hy gesê die fliek het bietjie min “Zorro goedjies” in. So sedertdien het ons gesin altyd na enige iets met te min aksie so verwys dat daar “te min Zorro goedjies in is”.
In Matteus 11 sien ons een van die reaksies van die klomp gemengde reaksies op Jesus se bediening waarvan ons Sondag gepraat het. En dit is ‘n moeilike een omdat dit van een die mense naaste aan Jesus kom. ‘n Groot figuur wat deel is van Jesus se koms en die aankondiging van sy Koninkryk: Johannes die Doper.
In Matteus 3, net voordat Johannes vir Jesus doop, verkondig Johannes dat Jesus die Messias is wat moes kom. Hy maak die pad vir die Here gereed, doop Hom en sien hoedat die hemel oopgaan en die Gees op Jesus neerdaal. Maar hier in Matteus 11:2-3 hoor ons dat Johannes begin twyfel nadat hy gehoor het wat Jesus alles doen:
Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”
Jesus gee in vers 5 ‘n opsomming (en ‘n aanhaling uit Jesaja!) van alles wat Hy besig is om te doen as sy antwoord aan Johannes: “Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.”
As ons dit vergelyk met wat Johannes gesê het (volgens sy eie verwagtings!) Jesus gaan kom doen, sy idee van hoe die Koninkryk gaan lyk, en ons onthou waar Johannes homself bevind, dan verstaan ons beter waar sy vertwyfeling vandaan kom. In Matteus 3:11-12 sien ons wat Johannes se verwagting was van die koms van die Koninkryk:
Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.
Hy het ook, soos baie ander, ‘n verwagting gehad dat die koms van die Koninkryk bietjie meer “Zorro goedjies” gaan inhê. Hy het verwag dat Jesus die ystervuis van God hard gaan afbring en die regeerders en die wat vir hulleself mag toe-eien gaan vermorsel. Nou sit hy in een van daardie maghebbers se tronk en wonder hoekom doen die Messias nie iets bietjie meer “Messias-rig” nie.
Maar Jesus sê dat die Koninkryk is hier (11:12), maar dat dit selfs vir iemand soos Johannes, nie kom op die manier wat mense dit verwag nie. Dit is anders as die wêreld, onderstebo. En dit is weereens so mooi opsomming van hoe die Koninkryk kom – in Jesus wat kom om te genees en uit liefde vir mense te sterf aan die kruis. Dit wat vir die wêreld gelyk het soos ‘n mislukking – ‘n Messias wat sterf – daarin lê juis die oorwinning en die openbaring van die Koninkryk.
Jesus wys dat dit nie gaan oor dit wat ons dink ons weet nie, maar word openbaar in dit wat Hy doen. In Vers 19 sê Hy: “Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.” Sy oneindige liefde word sigbaar in sy werke!
40 Dae 2022 – Dag 24
Omtrent, amper presies, twee jaar terug het ons ook by Matteus 10 stil gestaan. Dit was net ná die oorspronklike 21 dae grendeltyd vir die eerste keer uitgestel is. Hier is ons 2 jaar later en kan ons terugkyk en weer die Waarheid van hierdie woorde hoor en in dankbaarheid voor die Here staan.
Onthou waarmee is Jesus besig in hoofstuk 10. Hy stuur sy dissipels uit om die Evangelie van die Koninkryk te gaan verkondig (10:7). En Hy waarsku hulle dat hulle teenkanting en vervolging moet verwag. Dit is nie ‘n moontlikheid dat dit dalk kan gebeur nie, dit is ‘n voldwonge feit dat hulle lyding en vervolging sal beleef. Dat hulle uitgelewer en gehaat sal word (10:22).
Dit is binne hierdie konteks dat die Here Jesus sy dissipels wil verseker dat hulle nie vir mense moet bang wees nie (10:26). Maar hoekom nie? As dit dan ‘n feit is dat mense hulle sal haat en uitlewer en vervolg, waarom moet hulle nie bang wees nie?
In Matteus 10:29 lees ons die rede:
“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie”
Maar as ons so bietjie aan die woorde krap soos hulle hier in die 1983 vertaling staan, dan kan ‘n mens tog wonder of wil die Vader dan hê die mossies moet val? Is dit genoeg rede om nie bang te wees nie? Troos vir mense wat weet dat hulle soos skape tussen wolwe moet ingaan (10:16)?
As ons in ‘n Engelse vertaling lees dan klink dit so:
“But not a single sparrow can fall to the ground without your Father knowing it.”
Dit is waar, maar tog laat dit ook ‘n mens wonder – want beteken dit Hy weet dat die mossies val, maar Hy doen niks daaraan nie? Hy weet van ons lyding, maar laat dit net toe…?
Die Ou Vertaling (1953) en die Nuwe Direkte Vertaling (2020) help ons, omdat dit die naaste is aan wat in die oorspronklike Grieks daar staan:
“En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.“
Mossies mag dalk val, maar die Vader is DAAR! Hy is by ons teenwoordig, selfs al val ons, is Hy by ons. Wanneer ons uitgaan om die Evangelie van die Koninkryk te verkondig, kan ons weet God is by ons. Hy gaan saam met ons.
Om die Koninkryk te soek en te verkondig is nie populêr in ‘n wêreld wat onderstebo geraak het nie. In ‘n wêreld waar dit nodig geraak het om onderstebo te leef om die wêreld weer regtekant bo te kan draai. Om ons perspektief in te stel op die Koninkryk is nie maklik nie – dit vra opoffering. Maar ons kan hoop skep want die Here is by ons! Hy dra ons.
Dit bring vir ons troos (vers 30-31):
“Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
40 Dae 2022 – Dag 23
In Matteus 9:27 sien ons vir die eerste keer dat iemand vir Jesus erken en aanspreek as die Messias. Onthou hoe noukeurig het Matteus van die begin af keer op keer vir ons gewys dat Jesus die Messias is. Hy is die Koning wat moes kom – die Gesalfde van God. In 1:1 kondig hy Jesus aan as die Seun van Dawid. Onthou dat God belowe het dat die Messias uit die huis van Dawid sou kom (2 Sam 7:12-13).
En ons wat die storie lees kan sien dat daar baie mense is wat deur Jesus se optredes begin het om agter te kom dat Hy wel die Messias is. Maar dit is hier in hoofstuk 9 eers waar iemand hom aanspreek met die titel wat in 1:1 alreeds aan Hom gegee is. Maar wie is dit wat vir Jesus herken vir Wie Hy werklik is? Twee blindes! Voordat hulle kan sien, sien hulle al dat Jesus die Seun van Dawid is. Wanneer daar gesê word dat Jesus blindes laat sien het, dan is dit meer as net dat Hy hulle oë genees het. Hy het Homself kom openbaar op so manier dat dit selfs sigbaar is Wie Hy is vir mense wat nie eers met hulle oë kan sien nie.
Kyk ook hoe hulle reageer wanneer hulle genees is – hulle gaan vertel in die hele omgewing van Jesus. Maar natuurlik is dit nie vir almal waar nie. Direk na hierdie wonderwerk genees Jesus ‘n man wat stom was a.g.v. ‘n bose gees. Hierop reageer die menigte in vers 33 met verwondering en hulle sê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.”
Daarteenoor sien ons die Fariseërs se reaksie wat met wantroue en moedswilligheid reageer en hulle beskuldig vir Jesus daarvan dat Hy self met die duiwel se hulp hierdie geeste uitdryf. Hoe verskillend is die reaksies van die blindes, die skare en die Fariseërs? En wat is dit wat die verskil tussen hulle maak?
Die kort antwoord is GELOOF! Maar dit opsig self is ook natuurlik ‘n hele studie op sy eie om te verstaan wat ons bedoel met geloof. Ons haak partykeer vas by ons eie idee van wat geloof is. Aan die een kant beperk ons dit tot ‘om te glo dat iets waar is of nie’. Soos wat ons sou reageer wanneer iemand vir ons ‘n storie vertel van iets wat hulle gedoen het – dat ons besluit of ons dink dit is waar of nie, of ons dit glo of nie. Maar hier is tog iets meer aan die gang. Die blindes, die menigte en die Fariseërs het almal self GESIEN wat Jesus gedoen het. Hulle weet dit wat Hy gedoen het is waar, maar net van hulle het geglo.
Aan die anderkant praat ons partykeer van ons geloof, maar dan bedoel ons eintlik ons godsdiens. Die goeters wat deel van ons ‘geloofslewe’ vorm – gebed, kerk toe gaan, Bybellees, ens. Maar dit is nie dit wat gemaak het dat die blindes sien nie.
Nee die geloof wat hier aan die werk is, was reeds by die blindes teenwoordig voordat Jesus hulle genees het. Ons lees in vers 28 en 29:
Hulle het op Jesus vertrou! Hulle het vertrou dat Hy is Wie Hy sê Hy is en dat Hy doen wat Hy sê Hy doen. Dit bring ons terug na die punt waar ons gister by uit gekom het. Om na Hom toe te kom in afhanklikheid en met die belydenis dat ons Hom bo alles nodig het. Dat ons bely dat ons planne en manier van dinge doen nie so goed is soos Jesus se Wil en sy plan vir ons nie. Dit bring ons terug by die Saligsprekinge – om te weet hoe afhanklik ons van God is. Dit is hierdie tipe geloof wat maak dat ons ons kan “bekeer want die Koninkryk van die Hemel het naby gekom”.
Gaan ons negatief reageer op Jesus en sy Koninkryk en ons harte gesluit hou en eerder nog vashou aan ons eie eer en eie planne? Gaan ons verwonderd en verbaas staan oor wat Hy gedoen het, maar nie toelaat dat dit enige iets in ons harte verander nie? Of gaan ons oorgee in totale vertroue in Hom en in Hom glo en Hom volg?