40 Dae 2022 – Dag 22

In Matteus 9:1-8 kry ons die wonderwerk wat Jesus doen wanneer Hy ‘n verlamde man genees.  Maar hier is meer aan die gang as net ‘n verlamde man wat weer loop. Asof dit nie opsig self genoeg is nie!

Soos ons gister gesien het dat die mense geglo het dat dit God is wat die mag het oor die see en die wind, so sien ons hier dat hulle natuurlik geglo het dat dit net God is wat sonde kan vergewe.

En soos ons gesien het dat net God praat en dit gebeur (Gen 1:3) – Jesus het die wind aangespreek en dit het gaan lê (8:26) – sien ons dit hier ook in vers 6 en 7: Hy sê toe vir die verlamde man: ‘Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.’ Hy het opgestaan en huis toe gegaan.” 

Jesus bewys daardeur weereens dat Hy God is.  Maar daar is nog ‘n groter bewys, want Hy wys juis deur die wonderwerk van genesing dat Hy ook die mag het om sonde te vergewe!  Net voordat Jesus vir die verlamde man sê om op te staan en te loop, sê Hy vir die man dat sy sondes is vergewe.  Wanneer die skrifgeleerdes Hom beskuldig dat Hy godslasterend praat dan sê Hy in vers 5 en 6:

Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”

En dan sien ons in vers 8 hoe die mense reageer wanneer die man opstaan en loop.  Hulle is getuies van ‘n wonderwerk maar ook van die openbaring van die Lewende God: en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.”

Dit is interessant om op te merk dat dit dieselfde woord is wat ons hier in vers 6 vertaal met ‘volmag’, en in vers 8 met ‘mag’ en aan die einde van hoofstuk 7 met die ‘gesag’ waarmee Jesus gepraat het.  Dit gaan hier oor Jesus se outoriteit.  Hy het die outoriteit om te sê wat Hy sê en om te doen wat Hy doen.

Enige iemand kan die woorde van Jesus sê, vir ‘n verlamde man sê om op te staan, maar daar gaan niks gebeur nie.  Net so kan enige iemand rondgaan en vir mense sê dat hulle sonde vergewe is en die feit dat hulle dit sê gaan niks verander nie.  Maar Jesus is die een wat praat en dit gebeur!  Hy het die outoriteit om die verlamde man te genees en net so het Hy die outoriteit om sonde te vergewe.  Jesus kan vergifnis aanbied asof dit God self is wat dit aanbied, omdat Hy God self is!

Wanneer ons, soos die verlamde man se vriende, reageer op die outoriteit van Jesus dan kom ons na Hom toe in afhanklikheid en met die belydenis dat ons Hom bo alles nodig het.  Hy is ons enigste Redder en is die Een met al die Mag!

40 Dae 2022 – Dag 21

Vir die eerste lesers (hoorders) van Matteus se evangelie was die geskiedenis van God met sy volk baie belangrik.  Dink aan hoe baie klem Matteus van die heel begin af lê om die wortels van Jesus as die Messias in die Joodse geskrifte te bevestig.  Daarom kry ons so baie aanhalings uit die Ou Testament uit en al die verwysings na profesieë wat in Jesus se koms vervul word.

Ons kan dus met redelike sekerheid sê dat die geskiedenis rondom die uittog uit Egipte en die wonderwerk van die see wat oopgemaak word nie net vir hulle baie bekend was nie, maar ook vir hulle belangrik was.  Hulle het dit jaarliks herdenk en gevier met Paasfees en weer en weer onthou wat die Here gedoen het.  Die fondamente van hulle godsdiens is gebou op die feit dat God hulle uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het (Eks 20:2).

Daar is by hulle dus geen twyfel daaroor dat God self die een is wat die mag het oor die groot waters nie.  Hy het dit dan bewys toe Hy sy volk droogvoets deur die see gelei het om hulle te red van die Egiptenare.  So kry ons ook baie voorbeelde in Hebreeuse poësie waar die psalmdigters beelde gebruik van die bedreiging van groot waters en dat dit God is wat die mag daaroor het om die storms van ons lewens stil te maak (Vgl. Ps 69).

So sien ons hoedat Matteus in hoofstuk 8 vir ons wys dat Jesus die Regte Mag het – dat Hy God is.  Onthou dit is God wat praat en dit gebeur: “Laat daar lig wees en daar was lig.”  So kom Jesus en sê vir die wind en see om te bedaar en “dit het doodstil geword.” (8:26)  En dit is baie keer die punt waarop ons fokus wanneer ons hierdie wonderwerk lees. Maar nou dat ons die konteks beter verstaan is daar nog ‘n manier waarop Matteus wys dat Jesus self God is.

Kyk wat sê Psalm 89:9-10 vir ons:

Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.

Wie is dit wat die mag het oor die onstuimige see?  Die Almagtige God!  Dit is Hy wat die see aanspreek en dit luister (Vgl. Ps 106:8-9)!  Geen wonder nie dat die mense dan in vers 27 oor Jesus vra: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”  Hy is nie net die Messias nie, Hy is nie net die Koning nie.  Hy is Immanuel – God met ons!

40 Dae 2022 – Dag 20

Nadat Jesus die Koninkryk van die Hemel aangekondig het (Matt 4:17), en reeds begin het om wonderwerke te doen (4:23), en die impak van die Koninkryk breedvoerig verduidelik het (5-7), kom Hy nou in 8:1 van die berg af en kom wys die krag van die Koninkryk met dade te wys.  Hier in Matteus 8 tot 9 kry ons dan daardie versameling van 9 wonderwerke waarmee Matteus vir ons wys hoedat Jesus die Koninkryk met krag na die mense toe bring.

Die eerste wonderwerk in hierdie versameling is die genesing van die melaatse man.  Onthou dat om melaats te wees in daardie tyd was baie erger as om net ‘n velsiekte te hê.  Mense wat melaats was, is gesien as totaal en al onrein.  En onrein mense se regte in die Joodse samelewing was min tot geen.  Hulle was werklik die uitgeworpenes.  Niemand mag aan hulle geraak het of eers naby aan hulle gekom het nie. En hulle mag ook natuurlik nie naby aan enige iets of iemand godsdienstig gekom het nie.

Daarom is die melaatse man se optrede hier, en spesifiek die manier hoe sy vraag aan Jesus stel, van groot belang: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”  Die Ou Vertaling help ons om nader aan die oorspronklike te kom: “Here, as U wil, kan U my reinig.”  Hy vra dat die Here hom nie net sal gesond maak van sy siekte nie, maar dat Hy hom sal reinig.

Behalwe dit, kyk na die woordvolgorde hier:  As U WIL, dan KAN U.  En nie andersom nie: As U KAN, WIL/SAL U?  Hy weet dat Jesus die vermoë het om Hom gesond te maak.  Hy het al gehoor van Jesus en die dinge wat Hy doen, so sy vraag gaan nie oor of Jesus KAN nie, maar eerder oor of hierdie Joodse Rabbi, iemand onrein soos hy WIL gesond maak.

Die manier hoedat Jesus in vers 3 reageer is dan nog meer merkwaardig!  Die Heiligste van heiliges steek sy Hand uit en raak aan die onreine, melaatse man.  En in plaas daarvan dat die onreinheid die Heiligheid aantas, gebeur die teenoorgestelde en kom Jesus se krag en maak Hy die melaatsheid gesond, die onreinheid weer rein. Jesus KAN en Hy WIL!

Kan jy dink watter ongelooflike belewenis dit vir hierdie melaatse man moes gewees het?  Nie net het hy die ongelooflike krag van die Here in sy lyf gevoel nie, maar Jesus het sy hand uitgesteek en aan Hom geraak.  Vir iemand wat vir hoelank ookal siek was, en totaal en al in isolasie was en aan niemand kon raak nie en niemand ‘n drukkie kon gee nie, is hierdie ‘n groot oomblik.  Jesus steek sy Hand uit na hom toe en raak aan hom.

Wat ‘n ongelooflike illustrasie van hoe die Koninkryk werk!  Van hoe God se genade werk!  Die Koninkryk van die Hemel kom breek in hierdie gebroke, onrein koninkryk in om dit weer te kom nuut maak.  God steek, in sy groot genade, sy Hand na ons toe uit in liefde om ons gesond en rein te maak.

Jy sien, die Een wat al die mag het, ook oor siekte en oor menslike godsdienstige ideologieë, nooi jou uit om na Hom toe te kom en Hy wil vir jou rus gee!

40 Dae 2022 – Dag 18

Gister het ons gesels oor DOEN – om oor te gaan tot aksie – vanuit Matteus 7:12.  Van die volgende vers af tot aan die einde van die hoofstuk waarsku die Here Jesus oor die moeilike pad wat ‘n mens moet loop wanneer ‘n mens wel begin om die Koninkryk te leef. Wanneer mens begin om te DOEN soos vers 12 sê.

As ons die gedeeltes isoleer en na iets soos die “Nou en die Breë pad” op sy eie, buite die konteks van die res van die Bergrede en die res van Matteus kyk, dan kan ons maklik dink dat hierdie gedeeltes slegs gaan oor wie hemel toe gaan en wie nie.  Maar onthou hoe die Bergrede begin het met die Saligsprekinge en hoe ons daar alreeds die boodskap begin hoor dat hierdie pad – om agter Jesus aan te loop – nie ‘n maklike pad is nie.

Ons Here weet dat ons oral langs hierdie pad weer en weer die versoeking gaan moet weerstaan van die gemak van die breë pad (7:13-14).  Daarom het ons nodig om gewaarsku te word teen vals profete wat die waarheid so goed kan verdraai dat dit vir ons meer aantreklik klink en makliker klink(7:15-20).  Daarom het ons nodig om gewaarsku te word dat ons navolging van Jesus nie beperk bly tot mooi praatjies en dat ons net die idee van Jesus aanhang nie (7:21-23).  Daarom het ons nodig om gewaarsku te word dat ons huis werklik op die rots gebou moet word, sodat ons vlaag na vlaag van storms en versoekings in die lewe kan weerstaan (7:24-27).

Om Jesus te volg is nie om ‘n mooi godsdienstige ideologie aan te hang nie.  Dit is maklik.  Baie mense doen dit.  Dit is ook nie net om die regte stel mooi reëls en rituele na te kom nie. Dit is maklik. Baie mense doen dit.  Om Jesus te volg beteken om die Persoon van die Lewende Christus te volg.  Dit is moeilik en min mense doen dit.

Wanneer ons die Here Jesus volg en besef dat dit selfopoffering vra… Wanneer ons begin verstaan dit gaan oor sy Koninkryk en nie oor ons eie nie…  Wanneer ons besef dat ons van God alleen afhanklik is, dat Jesus ons enigste Redder is… Wanneer ons verstaan die Koninkryk gaan oor verhoudings – liefde vir God en vir ons naaste… Dan gaan ons lewens die vrugte daarvan wys, dan gaan ons die Waarheid kan onderskei, dan gaan ons besig wees om God se wil te soek en te doen (vir sy eer en nie ons eie nie). Dan is ons lewens se fondament gebou op die Rots.

Dit beteken dat ons nie in vrees hoef te lewe dat ons eendag by die Poorte kom en dan dink, “maar sê nou maar ek het nie…” of “wat as ek nie…”  Ons kan vrede en rus vind by Jesus wat ons uitnooi om na Hom toe te kom en ons roep om Hom te volg. Sy liefde transformeer ons sodat ons nie anders kan nie as om aan Hom gehoorsaam te WIL wees nie, en om sy liefde te WIL uitleef nie.

Hy is die Weg en die Waarheid en die Lewe.

40 Dae 2022 – Dag 17

Net so entjie later in Matteus 7 is daar nog ‘n versie wat ons geniet om aan te haal, net soos die een van die balk uit jou eie oog uithaal.  Veral as dit voel asof ons aan die ontvangkant is van iemand se soektog na splinters of moedswillige gedrag.  Dan sê ons maklik: “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê ander aan jou moet doen nie!”

Maar dit is natuurlik nie wat in die Bybel staan nie!  Matteus 7:12 sê:

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Hoor jy die verskil?  In die volksmond het dit geword: Moenie… doen nie.  Maar Jesus sê: DOEN!

Die probleem is dat die manier hoe ons daaroor begin dink het, het veroorsaak dat ons passief begin raak.  Want in plaas daarvan dat ons uit ons pad uit gaan om goeie dinge vir die mense om ons te doen, doen ons nou eerder so min as moontlik.  Want ek doen net dinge wat nie my buurman gaan pla nie.  Ek wil nie hê dat daar iets slegs met my gebeur nie, so nou doen ek ook niks aan iemand anders nie. Ek wil nie gepla wees nie, so nou pla ek ook niemand nie.  In plaas daarvan om te dink aan watter goeie dinge ek vir ander kan doen, dink ek nou eerder net aan wat ek nie wil hê ander aan my moet doen nie en vermy dit net eerder.

In ‘n sekere sin is dit tog seker goed, want ek wil nie hê dat mense met my moet lelik wees nie, so nou is ek ook darem nie lelik met ander mense nie.  In die tydsgees van vandag het ons egter meer versigtig geword vir mekaar as wat ons goed is vir mekaar.  Dit voel asof ons die heeltyd versigtig moet wees om nie op iemand anders se tone te trap nie, want netnou sê hulle my sleg op Facebook of hulle “cancel” my, of so iets wat mos nou lekker in die mode is deesdae.

Maar die Koninkryk vra meer!  As ons anders begin praat gaan ons anders begin dink.  Die manier hoe Jesus dit stel vra dat ons oorgaan tot aksie.  Dan gaan ons eerder dink aan wat ons wil hê mense vir ons moet doen en juis dit vir ander DOEN. Dan kan ons ‘n positiewe impak hê op die wêreld rondom ons.

As ons dan sê dat ons die wêreld weer regtekant bo wil draai, dan moet ons besef dat dit nie gaan gebeur deur mense wat net nie lelik is met mekaar nie en mense wat dit net vermy om dinge te doen wat iemand anders kan pla nie.  Nee, ons gaan die wêreld omkeer as ons begin DOEN. En dit hoef nie te beteken dat ons ‘n kommissie stig en ‘n fondsinsameling hou sodat ons ‘n groepie mense kan stuur om iets iewers vêr te gaan bou of doen nie.  Dit begin hier, by ons, naby ons.  Elke dag, in elke interaksie. Soos wat Jesus vir ons die voorbeeld gestel het.