Gedagte vir die dag – God is Koning

In Psalm 145:10-13 lees ons hierdie woorde:

Almal wat deur U geskep is, loof U, Here,
en u troue dienaars prys U!
Hulle vertel van u koninklike mag
en getuig van u groot krag.
Die mense moet weet van sy krag,
van sy koninklike mag en majesteit.
U koningskap is ‘n koningskap vir alle tye,
u heerskappy strek oor die geslagte heen.”

Die Hebreeuse woord wat hier met “koninklike mag” en “koningskap” vertaal word, word in vers 11 tot 13 doelbewus herhaal.  Dit kan ook vertaal word met koninkryk, heerskappy, troon, regering, soewereiniteit…  Duidelik val die klem hier op die feit dat God regeer en dat Hy die oppermagtigste heerser is – bo elke mag en gesag.

Glo ons dit nog?  Net soos wat ons gister bietjie ons eie emosies oor God se goedheid oopgekrap het, is dit natuurlik ook so dat ons vrae kan hê oor God se Koninkskap en heerskappy in ‘n wêreld met skynbaar slegs korrupte leiers.  Maar weereens kan ons reg deur die geskiedenis sien hoedat die absolute boosheid en selfsug van die mens nie vir God van die troon af kan haal nie.

Soos wat vers 13 sê is God se Koningskap oor al die geslagte, tye en al die eeue. Dit omring en omvou die wêreld se geskiedenis en dit alles stuur af op sý doel, sý eer, sý glorie, die koms en voleinding van sý Koninkryk.  As ons glo dat God die Koning met al die mag is dan plaas dit vir ons die mannewales van aardse leiers in perspektief, omdat ons weet dat hulle nog ondersgeskik is aan die Een wat al die mag het.  Omdat ons weet dat sy heerskappy, sy plan, sy krag, sy werklikheid, sy koninkryk soveel groter is as wat mense kan bid of dink.

Die volgende vraag is of ons glo dat God ook koning van ons eie lewens is?  Ja Hy is die Koning van die heelal, maar is Hy ook die koning van jou lewe?  Hy is! Maar wys ons lewens dit?  Ons wil tog so graag die koning van ons eie lewens wees – kaptein van ons eie boot, die stuurwiel in eie hand hê. Om God se Koningskap oor ons lewens te erken beteken egter dat ons oorgee aan sy Wil.  Dat ons onderdanig is aan Hom, gehoor gee aan sy opdragte. Dat ons voor Hom alleen buig.  Dat ons erken dat ons lewens en alles wat ons is en het aan Hom behoort.

Ons moet so lewe dat God se Koningskap oor en in ons eie lewens sigbaar word.

God se Koningskap is nie net ‘n mooi gedagte of ‘n teologiese idee nie. Dit word sigbaar bevestig in Jesus Christus.  Hy kom bewys wat God se Koningskap beteken. Dat dit vir alle tye en alle geslagte is en dat alle mag aan Hom behoort.  Want Hy is God en daarom is Hy anders as enige ander koning.  Hy kom dra ‘n doringkroon aan die kruis op Golgota.  Juis daarom is Hy die Koning van die konings.

Om Andy Stanley se woorde weer aan te haal: “When the King is willing to die for his subjects, it says something about the greatness of the King, not the subjects”.

Hou aan Hom vas aan Wie al die mag gegee is, aan Wie al die lof toekom, die Een wat regeer, nou en vir altyd.  Die Een in Wie die oorwinning is!

Openbaring 17:14 sê: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

Gedagte vir die dag – God is nog steeds goed!

Teen die tyd hoop ek dat Psalm 145 al redelik ingebed is in jou daaglikse denke en dat dit alreeds ‘n invloed het op die manier hoe jy na die lewe rondom jou kyk en hoe jy dinge beleef.  As jy nog nie begin het om hierdie psalm daagliks te herhaal nie, wil ek jou uitnooi om dit sommer vandag te begin doen.  Nie omdat jy moet of omdat dit jou gaan ryk maak of omdat ek of enige iemand anders gesê het jy moet nie, maar omdat dit ‘n nuwe dimensie aan jou verhouding met die Here en jou uitkyk op die lewe kan bring.

Ons lees vandag verder en dit bring ons by vers 9:

“Die Here is vir almal goed
en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.”

In die tyd waarin ons lewe is dit natuurlik maklik om vrae te hê oor die goedheid van God.  Die pandemie se impak wêreldwyd is skrikwekkend.  Mense se gesondheid word geraak en duisende wat hulle lewens verloor.  Wat nog van die sosiale, sielkundige en ekonomiese verwoesting wat dit en die gepaardgaande inperkingsreëls, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld in mense se lewens saai.

Natuurlik oorheers ons huidige belewenisse ons werklikheid en ons gedagtes en het ons daarom baie vrae.  Maar as ons dit alles in perspektief plaas en vergelyk met wat nog alles in die wêreld aan die gang is, dan lyk hierdie pandemie na ‘n klein probleempie tussen baie ander krisisse.  Moord, korrupsie, armoede, siektes, geweld, slawerny… En as ons nog boonop in die geskiedenis kyk na die vernietigende effek van vorige pandemies, wêreldoorloë en ander rampe, dan raak die prentjie nog donkerder.  Alles tekens van ‘n stukkende wêreld wat redding en hoop nodig het.

Hier moet ons onsself egter stip in die spieël bekyk en vra wat is ons aandeel (al is dit op hoe klein skaal) aan die stukkendheid van die wêreld?  En aan die anderkant wat is ons aandeel en verantwoordelikheid t.o.v. die sigbaarmaking van God se goedheid in hierdie stukkende wêreld?

God se goedheid hou nooit op nie – aan sy liefde is daar geen einde nie.  Dit is onmeetbaar wyd en diep en hoog.  Dit is onverklaarbaar groot en onmisbaar selfs in die diepste en donkerste, en skynbaar hopelose omstandighede.  Dit is God se goedheid wat maak dat mense nog kon vasbyt en aanhou selfs al is daar geen vooruitsig van beterskap nie. Soveel getuienisse regdeur die geskiedenis bewys dit.  Plekke waar daar geen hoop meer was nie, waar die Here die deurslag gegee het. Jy dalk jou eie weergawes van hierdie tipe gebeurtenisse.

Maar waaraan meet ons God se goedheid?  Ons meet dit baie keer aan voorspoed – ryk en arm.  Maar daardie meetinstrument misluk baie vinnig as ‘n mens sien hoe ongelukkig die rykstes van die rykes kan wees en hoe gelukkig en tevrede mense met niks kan wees.

God is nog steeds goed.  Soos wat Hy was deur elke krisis in die mens se geskiedenis en soos wat Hy ook altyd sal wees.  As jy daaroor wonder, praat met HOM daaroor – sy goedheid is ook groot en wyd en diep genoeg om jou twyfel en jou vrae, jou seer, jou pyn, jou ontevredenheid, jou bekommernis te kan hanteer.

Onthou die Here Jesus se woorde in Matteus 11:28 waar Hy sê:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Mag jy sy goedheid en rus ook vandag beleef. En mag jy, as deel van Sy Liggaam, ook sy goedheid en rus sigbaar maak vir hulle rondom jou wat dit nodig het.

Gedagte vir die dag – Lankmoedig

Ons lees in Psalm 145:8 ‘n frase wat ons op ‘n paar plekke in die Ou Testament aantref.

“Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde.”

Dit is hoe die Here Homself ook aan Moses openbaar in Eksodus 34:6

“Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.”

Die woord “lankmoedig” val my vandag weer op. As mens die betekenis daarvan bietjie bedink dan is dit eintlik so mooi beskrywende woord.  Die Boodskap vertaal dit met “geduldig”. Die Nuwe Lewende Vertaling (soos meeste Engelse vertalings) vertaal dit met “stadig om kwaad te word”.

Vir ons mense is dit wonderlike nuus dat die Here lankmoedig is. As Hy dit nie was nie, en ‘kort van draad’ was soos ons mense, sou ons lankal daarmee heen gewees het. Ten spyte van alles wat ons aanvang, al die kere wat ons teen Hom kies, al die kere wat ons selfsug verwoesting om ons saai, hou die Here aan om vir ons te kies.  Hy bly geduldig en bewys genade en liefde aan ons.

Die Here openbaar Homself ook in die Nuwe Testament as lankmoedig as Hy sy kruis dra, gespot, geslaan en gekruisig word. Lankmoedig en vol liefde verdra Hy dit alles vir ons sonde.

Jesaja 53:7 sê oor Hom:

“Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.”

Mag jy die Here se lankmoedigheid, ook met jou, vandag opnuut besef en beleef en mag ons elkeen die Here se voorbeeld van lankmoedigheid volg in ons optrede teenoor ons medemens.

Gedagte vir die dag – Sodat die mense kan jubel

Hoeveel van dit wat ons in die Bybel lees, in die prediking hoor, oor nadink, gaan net oor onsself? Dink mooi daaraan.  Hoe maklik maak ons dit alles nie net van toepassing op onsself nie – ons eie welstand, ons eie voorspoed, ons eie vrede, ons eie paadjie hemel toe?

Hier in Psalm 145 kry ons egter te doen met ‘n manier van dink wat ons baie in die Ou én Nuwe Testament aantref.  Dat ek van die Here moet getuig, nie ter wille van myself en hoe dit my laat voel, of ter wille daarvan dat ek weet dat ek die opdrag van die Here uitgevoer het, gedoen het wat ek MOET doen nie… maar ter wille van ander mense.  Ter wille daarvan dat ander mense die Here kan leer ken. Sodat ander mense ook kan hoor van sy magtige reddingsdade en sy liefde kan leer ken en sy lof wil besing.

Lees weer Psalm 145:4-7

“Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
van die luister, die heerlikheid van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,
sodat die mense oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.
Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig
en oor u reddingsdade jubel.”

Ons getuienis oor God moenie oor ons en ons eie eer en ons eie godsdienstigheid gaan nie.  Dit moet gaan oor God en oor sy eer en glorie.  Dit moet wees tot die voordeel van ander.  Sodat die wêreld kan sien, sodat die mense kan hoor. Sodat almal, sonder ophou kan jubel oor die reddingsdade van God.

Hoe klink ons getuienis in die wêreld vandag?  Wat is die beeld wat die Kerk uitstraal?  Wil ons regtig hê dat mense na God toe draai, of wil ons hê dat mense na ons toe draai?  Vertel ons vir mense van God omdat ons wil hê dat hulle die Here en sy grootheid kan leer ken, of vertel ons vir mense van God sodat ons kan sê dat ons hulle van God vertel het?

Kom ons verander die narratief.  Kom ons trek weer die storielyn reg.  Kom ons getuig van die magtige dade van God, sodat die mense oor Hom en sy wonderdade sal praat. Kom ons vertel van die grootheid van God, sodat die mense sonder ophou oor sy goedheid praat en oor sy reddingsdade jubel.

Mag jy vandag sy goedheid beleef en mag jy so oor sy reddingsdade wil jubel dat jy dit net nie vir jouself kan hou nie.

Gedagte vir die dag – Geslag na geslag

Ons trek by vers 4 van Psalm 145.  (Moenie vergeet om die hele psalm weer vandag deur te lees nie!) In die 1983 vertaling klink vers 4 so:

Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade

En in die Ou Vertaling sê dit: Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade.

Dadelik val die getrouheid van die Here, oor geslagte heen, ons hier op. Elke geslag kan vir die volgende geslag van die groot dade van die Here vertel omdat die Here deur al die eeue heen, Hom oor en oor weer aan ons openbaar.  Die Here hou sy beloftes.  Hy is Wie Hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy doen.

Dieselfde God wat met Abraham ‘n verbond gesluit het, kom in Jesus in ons plek aan die kruis sterf.  Dieselfde God wat die hemel en die aarde gemaak het, hou ook die skepping in stand. Dieselfde God wat die sterre op hulle plekke gesit en vir hulle elkeen ‘n naam gegee het, het jou ook gemaak en het jou op jou naam geroep.  Waarlik, aan sy Liefde is daar geen einde nie!

Die Ou Vertaling se weergawe van die vers is so mooi.  Dis so bietjie meer op die man af, so bietjie meer persoonlik.  Dis asof dit ons ook oproep om hierdie taak op te neem – om vir die volgende geslag van die magtige dade van die Here te vertel.  Prys ons die werke van die Here by die volgende geslag?

Soos ons nou al gesien het hierdie week, help die psalm om ons fokus weer in te stel op die Here.  Dalk stuur dit juis ons fokus weer om te onthou wat die Here in ons eie lewens gedoen het, raak te sien wat Hy doen en vir ons kinders daarvan te vertel.  Wanneer ons oor kinders in hierdie terme dink dan dink ons dadelik aan Sondagskool en Bybelkennis en Kinderbybels en mooi videos… wat alles natuurlik baie belangrik is, maar wat weet ons kinders van ons eie verhouding met die Here?

Dalk moet ons juis maak soos die psalm sê en vir die volgende geslag vertel van dit wat die Here in ons lewens doen, van ons verhouding met Hom, ons vertroue in Hom.  Dis persoonlik, ja, maar dit hoort so.  Want God se liefde is nie net ‘n idee nie – dit IS persoonlik! En die volgende geslag, en al die geslagte daarna, moet dit weet: God is liefde!  Daarom is sy grootheid ondeurgrondelik.

Mag jy die troue liefde van die Here vandag persoonlik beleef en mag jy sy werke by die volgende geslag prys.