Hoeveel van dit wat ons in die Bybel lees, in die prediking hoor, oor nadink, gaan net oor onsself? Dink mooi daaraan. Hoe maklik maak ons dit alles nie net van toepassing op onsself nie – ons eie welstand, ons eie voorspoed, ons eie vrede, ons eie paadjie hemel toe?
Hier in Psalm 145 kry ons egter te doen met ‘n manier van dink wat ons baie in die Ou én Nuwe Testament aantref. Dat ek van die Here moet getuig, nie ter wille van myself en hoe dit my laat voel, of ter wille daarvan dat ek weet dat ek die opdrag van die Here uitgevoer het, gedoen het wat ek MOET doen nie… maar ter wille van ander mense. Ter wille daarvan dat ander mense die Here kan leer ken. Sodat ander mense ook kan hoor van sy magtige reddingsdade en sy liefde kan leer ken en sy lof wil besing.
Lees weer Psalm 145:4-7
Ons getuienis oor God moenie oor ons en ons eie eer en ons eie godsdienstigheid gaan nie. Dit moet gaan oor God en oor sy eer en glorie. Dit moet wees tot die voordeel van ander. Sodat die wêreld kan sien, sodat die mense kan hoor. Sodat almal, sonder ophou kan jubel oor die reddingsdade van God.
Hoe klink ons getuienis in die wêreld vandag? Wat is die beeld wat die Kerk uitstraal? Wil ons regtig hê dat mense na God toe draai, of wil ons hê dat mense na ons toe draai? Vertel ons vir mense van God omdat ons wil hê dat hulle die Here en sy grootheid kan leer ken, of vertel ons vir mense van God sodat ons kan sê dat ons hulle van God vertel het?
Kom ons verander die narratief. Kom ons trek weer die storielyn reg. Kom ons getuig van die magtige dade van God, sodat die mense oor Hom en sy wonderdade sal praat. Kom ons vertel van die grootheid van God, sodat die mense sonder ophou oor sy goedheid praat en oor sy reddingsdade jubel.
Mag jy vandag sy goedheid beleef en mag jy so oor sy reddingsdade wil jubel dat jy dit net nie vir jouself kan hou nie.