In Psalm 145:10-13 lees ons hierdie woorde:
Die Hebreeuse woord wat hier met “koninklike mag” en “koningskap” vertaal word, word in vers 11 tot 13 doelbewus herhaal. Dit kan ook vertaal word met koninkryk, heerskappy, troon, regering, soewereiniteit… Duidelik val die klem hier op die feit dat God regeer en dat Hy die oppermagtigste heerser is – bo elke mag en gesag.
Glo ons dit nog? Net soos wat ons gister bietjie ons eie emosies oor God se goedheid oopgekrap het, is dit natuurlik ook so dat ons vrae kan hê oor God se Koninkskap en heerskappy in ‘n wêreld met skynbaar slegs korrupte leiers. Maar weereens kan ons reg deur die geskiedenis sien hoedat die absolute boosheid en selfsug van die mens nie vir God van die troon af kan haal nie.
Soos wat vers 13 sê is God se Koningskap oor al die geslagte, tye en al die eeue. Dit omring en omvou die wêreld se geskiedenis en dit alles stuur af op sý doel, sý eer, sý glorie, die koms en voleinding van sý Koninkryk. As ons glo dat God die Koning met al die mag is dan plaas dit vir ons die mannewales van aardse leiers in perspektief, omdat ons weet dat hulle nog ondersgeskik is aan die Een wat al die mag het. Omdat ons weet dat sy heerskappy, sy plan, sy krag, sy werklikheid, sy koninkryk soveel groter is as wat mense kan bid of dink.
Die volgende vraag is of ons glo dat God ook koning van ons eie lewens is? Ja Hy is die Koning van die heelal, maar is Hy ook die koning van jou lewe? Hy is! Maar wys ons lewens dit? Ons wil tog so graag die koning van ons eie lewens wees – kaptein van ons eie boot, die stuurwiel in eie hand hê. Om God se Koningskap oor ons lewens te erken beteken egter dat ons oorgee aan sy Wil. Dat ons onderdanig is aan Hom, gehoor gee aan sy opdragte. Dat ons voor Hom alleen buig. Dat ons erken dat ons lewens en alles wat ons is en het aan Hom behoort.
Ons moet so lewe dat God se Koningskap oor en in ons eie lewens sigbaar word.
God se Koningskap is nie net ‘n mooi gedagte of ‘n teologiese idee nie. Dit word sigbaar bevestig in Jesus Christus. Hy kom bewys wat God se Koningskap beteken. Dat dit vir alle tye en alle geslagte is en dat alle mag aan Hom behoort. Want Hy is God en daarom is Hy anders as enige ander koning. Hy kom dra ‘n doringkroon aan die kruis op Golgota. Juis daarom is Hy die Koning van die konings.
Om Andy Stanley se woorde weer aan te haal: “When the King is willing to die for his subjects, it says something about the greatness of the King, not the subjects”.
Hou aan Hom vas aan Wie al die mag gegee is, aan Wie al die lof toekom, die Een wat regeer, nou en vir altyd. Die Een in Wie die oorwinning is!
Openbaring 17:14 sê: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”