Gedagte vir die dag – Lankmoedig

Ons lees in Psalm 145:8 ‘n frase wat ons op ‘n paar plekke in die Ou Testament aantref.

“Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde.”

Dit is hoe die Here Homself ook aan Moses openbaar in Eksodus 34:6

“Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.”

Die woord “lankmoedig” val my vandag weer op. As mens die betekenis daarvan bietjie bedink dan is dit eintlik so mooi beskrywende woord.  Die Boodskap vertaal dit met “geduldig”. Die Nuwe Lewende Vertaling (soos meeste Engelse vertalings) vertaal dit met “stadig om kwaad te word”.

Vir ons mense is dit wonderlike nuus dat die Here lankmoedig is. As Hy dit nie was nie, en ‘kort van draad’ was soos ons mense, sou ons lankal daarmee heen gewees het. Ten spyte van alles wat ons aanvang, al die kere wat ons teen Hom kies, al die kere wat ons selfsug verwoesting om ons saai, hou die Here aan om vir ons te kies.  Hy bly geduldig en bewys genade en liefde aan ons.

Die Here openbaar Homself ook in die Nuwe Testament as lankmoedig as Hy sy kruis dra, gespot, geslaan en gekruisig word. Lankmoedig en vol liefde verdra Hy dit alles vir ons sonde.

Jesaja 53:7 sê oor Hom:

“Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.”

Mag jy die Here se lankmoedigheid, ook met jou, vandag opnuut besef en beleef en mag ons elkeen die Here se voorbeeld van lankmoedigheid volg in ons optrede teenoor ons medemens.