Gedagte vir die dag – Geslag na geslag

Ons trek by vers 4 van Psalm 145.  (Moenie vergeet om die hele psalm weer vandag deur te lees nie!) In die 1983 vertaling klink vers 4 so:

Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade

En in die Ou Vertaling sê dit: Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade.

Dadelik val die getrouheid van die Here, oor geslagte heen, ons hier op. Elke geslag kan vir die volgende geslag van die groot dade van die Here vertel omdat die Here deur al die eeue heen, Hom oor en oor weer aan ons openbaar.  Die Here hou sy beloftes.  Hy is Wie Hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy doen.

Dieselfde God wat met Abraham ‘n verbond gesluit het, kom in Jesus in ons plek aan die kruis sterf.  Dieselfde God wat die hemel en die aarde gemaak het, hou ook die skepping in stand. Dieselfde God wat die sterre op hulle plekke gesit en vir hulle elkeen ‘n naam gegee het, het jou ook gemaak en het jou op jou naam geroep.  Waarlik, aan sy Liefde is daar geen einde nie!

Die Ou Vertaling se weergawe van die vers is so mooi.  Dis so bietjie meer op die man af, so bietjie meer persoonlik.  Dis asof dit ons ook oproep om hierdie taak op te neem – om vir die volgende geslag van die magtige dade van die Here te vertel.  Prys ons die werke van die Here by die volgende geslag?

Soos ons nou al gesien het hierdie week, help die psalm om ons fokus weer in te stel op die Here.  Dalk stuur dit juis ons fokus weer om te onthou wat die Here in ons eie lewens gedoen het, raak te sien wat Hy doen en vir ons kinders daarvan te vertel.  Wanneer ons oor kinders in hierdie terme dink dan dink ons dadelik aan Sondagskool en Bybelkennis en Kinderbybels en mooi videos… wat alles natuurlik baie belangrik is, maar wat weet ons kinders van ons eie verhouding met die Here?

Dalk moet ons juis maak soos die psalm sê en vir die volgende geslag vertel van dit wat die Here in ons lewens doen, van ons verhouding met Hom, ons vertroue in Hom.  Dis persoonlik, ja, maar dit hoort so.  Want God se liefde is nie net ‘n idee nie – dit IS persoonlik! En die volgende geslag, en al die geslagte daarna, moet dit weet: God is liefde!  Daarom is sy grootheid ondeurgrondelik.

Mag jy die troue liefde van die Here vandag persoonlik beleef en mag jy sy werke by die volgende geslag prys.