Gedagte vir die dag – Moenie vergeet nie!

God regeer! En daaraan moet ons mensies maar gereeld herinner word.  Psalm 105 is ‘n treffende voorbeeld hiervan.  Lees gerus die Psalm deur in al die vertalings wat jy tot jou beskikking het.

Vers 5-8 sê:

Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het,
aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,
julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.
Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het”

Die Psalm is geskryf in die tyd na die Ballingskap wanneer die Israeliete terugkeer na ‘n vernietigde Jerusalem en weer moet oorbegin en heraanpas.  Die Psalm vervul dus hier die funksie om die mense te bemoedig in hierdie moeilike proses deur hulle te herinner aan die magtige dade van die Here.

Eerstens word hulle herinner aan die getrouheid van God.  Die magtige dade en wonders wat Hy gedoen het in hul verlede.  Dit is tekens van sy genade van sy wil, sy verlossing, sy sorg.  Dit gebeur op sy bevel, sy woord.  Woord en wonder is twee onskeibare dele van die Here se handelinge in die geskiedenis van sy volk.

Hierdie wonders waarvan die Psalm vertel, vertel vir ons hoe die Here die volk se geskiedenis begelei oppad na die koms van die Messias – die volk se heil bewerk ter wille van die heil van die hele wêreld.  Deur Jesus se lewe, lyding, dood en opstanding word God se getrouheid opnuut bevestig.  Die Psalm sê dat dit God self is wat sy verbond altyd in stand hou.

Tweedens word die volk herinner aan die feit dat God hulle uitgekies het – dat hulle aan God behoort.   Daar word egter ook klem geplaas op die ander sy van die verbond en dit is dat die volk die voorskrifte van die verbond moet nakom en God se wil moet doen.  Juis omdat God die oorsprong, die handhawer en voleinder van die verbond is.

Derdens word die volk daaraan herinner dat hulle van hierdie dade moet vertel, hulle het ‘n verkondigingstaak.  Herinnering moet oorloop in getuienis.  Die volk word aan die begin en einde van die Psalm opgeroep om die Here te prys.  Dit omraam die herinnering aan God se magtige dade.  Hierdie herinnering lei tot dankbaarheid en lofprysing wat getuig en vertel van God.

Die volk word verder ook herinner dat God konkreet vir hulle sorg deur die verwysings in die Psalm na die hongersnood in die tyd van Josef, asook die voeding van die volk in die woestyn.  Tussen geestelike seën en konkrete sorg is daar geen skeiding nie:  God sorg vir die volk in die omvattendste sin van die woord.  Daarom moet Israel getroos wees en weet dat God ook in die toekoms in elke behoefte van sy volk sal voorsien.

Karel Barth het gesê dat ons nie maar net die troos wat ons uit God se hand ontvang in die sak kan steek en daarvan vergeet nie.  Die wêreld moet dit hoor sodat almal, soos ons, daardeur getroos kan word.  Ons moet, soos die Psalm sê, aan die nasies bekend maak wat die Here gedoen het.  Gister tydens die Nagmaal is ons weer herinner aan die offer wat Jesus gebring het. Die hoop wat die herinnering aan Jesus se offer vir ons bring moet ook die hoop van ander, van almal word.

Gedagte vir die dag – Geroep om te Vertel

Paulus se roepingsverhaal is ingrypend.  Dit het sy naam verander, sy rigting verander, en die wêreld verander.  In Handelinge 9:1-2 lees ons dat hy met ywer (vgl ook Fil 3:4-6) die Kerk vervolg het:

Intussen het Saulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.”

Maar dan in vers 3 tot 5 verskyn die Here aan hom op die pad na Damaskus:

“Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
“Wie is U, Here?” vra hy toe.
“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.”

Paulus word by hierdie geleentheid ook blind en dan stuur die Here vir Ananias om vir Paulus te help.  Ananias is egter bang maar dan lees ons in Handelinge 9:13-15 waarom die Here hom stuur:

Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.”
Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.”

Paulus is geroep om die Here se Naam uit te dra!  Dit is hierdie roeping wat vir Paulus dryf. Dit dryf hom om aan te hou om van die Here te vertel – selfs in die moeilikste van omstandighede, selfs al is hy ‘n gevangene in boeie, selfs al word hy beperk deur afstand.  Oor en oor hoor ons in sy briewe van sy roeping en hoe dankbaar hy is dat die Here hom vir hierdie taak geroep het.  Vir hom gaan redding en roeping hand aan hand.  Die Here het ons gered van die slawerny van sonde en die dood.  Dit beteken vir Paulus ter selfde tyd dat Hy ons roep om vir Hom te lewe en van Hom te vertel.

In 2 Timoteus 1:8-11 lees ons:

“Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.”

Wat as ons met dieselfde ywer as Paulus begin vertel van die liefde en genade van die Here?  Nie vir enige iets terugstaan of terugdeins nie.  Nie toelaat dat enige iets ons kan beperk nie.  Ons kan sekerlik redeneer dat die wêreld deur die eeue en deur massamedia mos nou al weet van Jesus.  Maar daar is ‘n verskil tussen om te weet van Jesus en om Hom te ken.  Daarom moet ons sy liefde uitleef en tydig en ontydig daarvan getuig, nie sodat mense net kan weet van Jesus nie, maar dat hulle Hom kan leer ken!

Gedagte vir die dag – Geroep om te verskil

In die tye waarin ons vandag lewe het dit al moeiliker begin raak om van mense te verskil.  Sosiale media blaas natuurlik hierdie vuur aan omdat elkeen nou ‘n openbare platform het en ‘n opinie kan lewer sonder om regtig terug te deins vir die nagevolge.  Maar dit het tot gevolg dat alles nou polities, ekonomies, humanisties, teologies (ensovoorts!) verskriklik gelaai is.  En wanneer ‘n mens van iemand anders se standpunt verskil dan is dit nie meer genoeg om met mekaar te praat oor ons verskille en in die proses te groei nie.  Nee, as jy nou van iemand se standpunt verskil dan lyk dit vir my dink meeste mense dat jy met opset heeltemal die teenoorgestelde standpunt inneem, reglynig en aggressief teen die ander persoon staan en ter selfde tyd eintlik skuldig is aan haatspraak en naamskending.  Dis rof daar buite.  Daar is nie meer gesonde gesprek nie, daar is nie meer plek vir ‘n middeweg nie.  Dit is of reg of weg.

Dit is ‘n hartseer stand van sake.  Maar dit is ook ‘n situasie waarvoor die Here ons as sy kinders juis roep om ‘n verskil te wees.  Ons moenie gelyk word aan die skema van die wêreld nie (Rom 12:2).  Ongelukkig is dit so dat ons Christene ook baie keer skuldig is aan hierdie praktyke.  Maar ons moet anders wees en die voorbeeld stel.

Timoteus is ‘n geroepene van die Here. Hy is geroep om die Evangelie te verkondig.  En eintlik moet ons altwee Paulus se briewe aan Timoteus lees om die omvang van sy werk en sy roeping te begryp.  Maar hier in 2 Timoteus 2:22-26 lees ons iets van wat Timoteus se roeping in die praktyk beteken het:

Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep. Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.”

Dit is duidelik dat Paulus van Timoteus verwag om nie te baklei nie en in vrede met mense te lewe, maar dit beteken nie dat Timoteus moet stil bly nie.  Juis nie! Maar ons moet ook nie met die dwase en sinlose strydvrae ons tyd mors nie. “Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys!”

Die sleutelwoord hier is natuurlik LIEFDE.  Dit is met liefde wat ons van mekaar moet verskil. Dit is ongelukkig ons eie ego’s en ons begeerte om reg te wees wat baie keer maak dat ons van die liefde vergeet. Maar as ons vanuit die liefde van die Here, en vir daardie rede, anders as die wêreld is, dan maak ons God sigbaar en nie ons self nie. Dít maak die verskil.

Gedagte vir die dag – Geroep vir ‘n tyd soos hierdie

Koningin Ester staar ‘n moeilike taak in die gesig.  Haman wil die Jode uitroei en het die koning oortuig om ‘n proklamasie uit te vaardig dat alle Jode doodgemaak moet word.  Mordegai het daarvan gehoor en daaroor gerou.  Toe die koningin by Mordegai probeer vasstel wat aangaan vind sy ook uit van hierdie verskriklike nuus.  Mordegai versoek dan vir Ester om met die koning te gaan praat ter wille van die Jode se behoud.  Maar Ester herinner vir Mordegai daaraan dat niemand na die koning toe kan gaan as die koning hulle nie self daarheen ontbied het nie, anders word hulle doodgemaak.

Dan lees ons in Ester 4:13-14 Mordegai se woorde aan Ester:

“Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”

Mordegai herinner vir Ester aan die manier hoe sy in haar posisie as koningin van Persië beland het.  Die Here het alles so beskik en die omstandighede so bestuur dat sy op daardie spesifieke oomblik in daardie spesifieke posisie moes wees.  Juis sodat Hy deur haar groot dinge sou doen en sy volk red uit die kloue van Haman en sy bose planne.

Ester antwoord op Mordegai se woorde in 4:16 en sê: “Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”  Maar sy sê dit nie net nie, sy gaan ook oor tot aksie.  Sy antwoord op die Here se roeping en gaan wel met dapperheid om met die koning te praat.  So voer God sy plan uit.  Uit Mordegai se woorde kan ons aflei dat die Here se plan uitgevoer sal word, met of sonder Ester, maar Hy kies haar, roep haar, om sy plan op daardie oomblik uit te voer.

Baie keer gebeur daar ook in ons lewens verskillende dinge wat dalk nie vir ons lyk of dit enigsens iets met mekaar uit te waai het nie.  Dit gebeur ook dat ons soms nie verstaan waarom ons op ‘n sekere plek vir ‘n sekere tydperk moet wees nie. Maar, soos vir Ester, roep die Here ons ook vir ‘n tyd soos hierdie.  Plaas Hy ons op sekere plekke, juis om daar ‘n verskil te maak – om ons stemme te laat hoor, om op te staan vir ander mense, om te vertel van sy verlossing en van Wie Hy is.

Wat het gelei daartoe dat jy is waar jy is? Dat jy werk waar jy werk, die spesifieke mense ken wat jy ken, die spesifieke invloedsfeer het wat jy het?  Die Here roep jou juis vir ‘n tyd soos hierdie.  Hier. Nou.

Gedagte vir die dag – Geroep vir Wysheid

Ons lees Salomo se roepingsverhaal in 1 Konings 3 as die Here in ‘n droom aan hom verskyn:

Daar in Gibeon het die Here die nag in ‘n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”
Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom ‘n seun gegee wat vandag op sy troon sit. Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, ‘n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

Ons dink amper outomaties, as ons aan Salomo dink, aan hierdie geleentheid. Hoe Hy nie vir rykdom gevra het nie, maar eerder vir wysheid en dat die Here daarom  vir hom gegee het waarvoor hy gevra het, maar ook vir hom gegee het waarvoor hy nie gevra het nie – rykdom, aansien en ‘n lang lewe.  Dan dink ons menslike breintjies so maklik daaraan dat ons ook dieselfde moet doen en daarom dieselfde beloning sal verdien.  Ons soek wysheid ter wille van die rykdom en aansien en nie ter wille van die wysheid nie.

Kyk mooi na die rede waarom Salomo eerder vra vir wysheid. Salomo besef dat hy die Here se hulp nodig het.  Hy wil graag die Here se volk reg regeer, maar besef dat die taak groot is en dat hy jonk en onervare is.  Hy wil graag iets vir ander mense beteken.  Daarom vra hy dat die Here vir gehoorsaamheid insig sal gee.  Die Ou vertaling van vers 9 klink so:

“Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?”

Die taak waarvoor die Here ons roep is ook groot en ons het sy hulp nodig. Hy roep ons ter wille van sy Koninkryk en ter wille van dit wat ons vir die mense romdom ons kan beteken. Hy rus ons egter toe – maak ons gewillig en bekwaam om sy wil te doen (vgl. Fil 2:13). Mag ons ook soos Salomo vir die Here dan vra vir wysheid en insig sodat ons daarmee ‘n verskil kan maak in ander mense se lewens.  Mag die Here jou seën met wysheid en insig en jou ook stuur daar waar jy ten beste jou roeping kan uitleef!