Koningin Ester staar ‘n moeilike taak in die gesig. Haman wil die Jode uitroei en het die koning oortuig om ‘n proklamasie uit te vaardig dat alle Jode doodgemaak moet word. Mordegai het daarvan gehoor en daaroor gerou. Toe die koningin by Mordegai probeer vasstel wat aangaan vind sy ook uit van hierdie verskriklike nuus. Mordegai versoek dan vir Ester om met die koning te gaan praat ter wille van die Jode se behoud. Maar Ester herinner vir Mordegai daaraan dat niemand na die koning toe kan gaan as die koning hulle nie self daarheen ontbied het nie, anders word hulle doodgemaak.
Dan lees ons in Ester 4:13-14 Mordegai se woorde aan Ester:
“Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”
Mordegai herinner vir Ester aan die manier hoe sy in haar posisie as koningin van Persië beland het. Die Here het alles so beskik en die omstandighede so bestuur dat sy op daardie spesifieke oomblik in daardie spesifieke posisie moes wees. Juis sodat Hy deur haar groot dinge sou doen en sy volk red uit die kloue van Haman en sy bose planne.
Ester antwoord op Mordegai se woorde in 4:16 en sê: “Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” Maar sy sê dit nie net nie, sy gaan ook oor tot aksie. Sy antwoord op die Here se roeping en gaan wel met dapperheid om met die koning te praat. So voer God sy plan uit. Uit Mordegai se woorde kan ons aflei dat die Here se plan uitgevoer sal word, met of sonder Ester, maar Hy kies haar, roep haar, om sy plan op daardie oomblik uit te voer.
Baie keer gebeur daar ook in ons lewens verskillende dinge wat dalk nie vir ons lyk of dit enigsens iets met mekaar uit te waai het nie. Dit gebeur ook dat ons soms nie verstaan waarom ons op ‘n sekere plek vir ‘n sekere tydperk moet wees nie. Maar, soos vir Ester, roep die Here ons ook vir ‘n tyd soos hierdie. Plaas Hy ons op sekere plekke, juis om daar ‘n verskil te maak – om ons stemme te laat hoor, om op te staan vir ander mense, om te vertel van sy verlossing en van Wie Hy is.
Wat het gelei daartoe dat jy is waar jy is? Dat jy werk waar jy werk, die spesifieke mense ken wat jy ken, die spesifieke invloedsfeer het wat jy het? Die Here roep jou juis vir ‘n tyd soos hierdie. Hier. Nou.